Kan dokter Google help?

akkreditasie
Spring jy ook op die internet elke keer as jou kind kug? Volg dan ons riglyne om seker te maak jy kry die beste inligting moontlik.

Al gehoor van Möbiussindroom? Burt Minow is ’n bejaarde Amerikaner wat aan dié seldsame aangebore toestand ly. Die sindroom veroorsaak onder meer dat hy nie sy oë van kant tot kant kan beweeg nie, en hy het geen gesigsuitdrukking nie. Dit veroorsaak ook spraak-, gehoor- en eetprobleme.

Toe die internet nog in sy kinderskoene was, het Burt se kleinniggie, Nell Minow, gereeld nuwe soekenjins getoets deur “Möbiussindroom” in te tik. Sy kom toe af op ’n webblad geskep deur die ouers van ’n ander lyer.

Sowat 500 Möbius-families wêreldwyd was via die internet in verbinding met mekaar. Hulle was verbysterd toe hulle hoor Burt is al in sy sewentigs, want in daardie stadium is geglo die kinders sou nie ouer as 30 word nie. Dis wat al die mediese bronne gesê het.

Deesdae is Burt self ’n ywerige internetgebruiker. Hy weet nou daar is nog mense soos hy, en op die internet kan niemand hom sien en vinnig wegkyk van sy strak gesig nie. Dié storie word graag vertel deur die Amerikaanse internetnavorser Susannah Fox van ’n gesondheidsorganisasie met die naam Robert Wood Johnson-stigting om die krag van webgebaseerde gespreksgroepe en -forums te onderstreep – veral vir mense wat aan ongewone toestande ly en hul versorgers.

“Hulle kry ondersteuning van mense in dieselfde bootjie, en raad oor enigiets van voedingsprobleme tot kleredragidees,” skryf Susannah in die joernaal Pediatrics.

Help met huiswerk

Baie nuwe ma’s, ouers van meerlinge, ouers van prem-babas en mense wat met infertiliteit sukkel, asook dié met kinders met leerprobleme, getuig van die onderskraging wat hulle in kubergesprekke op Facebook of in spesifieke kletskamers ontvang.

Mense keer toenemend na die internet om te lees oor gesondheids- en voedingskwessies. Vier uit elke vyf Australiërs maak so, terwyl navorsing deur die organisasie Pew Internet and American Life Project wys dat minstens 35 persent van Amerikaners al self hul kwale met internet-inligting probeer diagnoseer het.

Dr. Bernard Linde, ’n pediater van Stellenbosch, sê hy waardeer ouers wat voor ’n konsultasie internet-opleeswerk doen.

“Ouers dink soms hulle irriteer dokters met hul lysie vrae, maar vir my wys dit eerder op gestruktureerde denke en ’n soeke na praktiese informasie vir ’n spesifieke doel,” sê Bernard.

Hy staan wel soms verstom oor hoe swak mense onderskei tussen wetenskaplik gebaseerde raad en ongegronde voorstelle deur ander mense.

Maar is dit betroubaar?

Talle studies wys dat internetbronne nie altyd verstaanbaar geskryf word nie, en dat nie almal verstandige inligting bevat nie. Enigiemand kan sy idees op ’n blog, Facebook-groep, webtuiste of Twitter verkondig.

Volgens die Pew-studie kyk net 15 persent van Amerikaners ooit wat die bron van webinligting is, of wanneer dit verskyn het.

“Die betroubaarheid van inligting hang af van waarna jy soek,” sê Paul Scallard, leier van ’n 2010-studie in die British Medical Journal oor die gehalte van webinligting oor vyf algemene kindergesondheidskwessies. Inligting oor groen braking, babas se slaapposisies en mastitis was 94 tot 100 persent van kere betroubaar.

Daarteenoor het net 51 tot 65 persent van webtuistes vrae oor borsvoeding deur HIV-positiewe vroue en die gewaande verband tussen inentings en outisme wetenskaplik korrek beantwoord.

Paul sê dokters moet hul pasiënte na gepaste webtuistes verwys, want van die bestes is partykeer moeilik om te vind. Hy reken dis onafwendbaar dat mense ál meer raad by dr. Google sal vra.

Wie se inligting is die betroubaarste?

1. Regeringsverwante organisasies of departemente
2. Akademiese instellings
3. Maatskappye
4. Belangegroepe
5. Webtuistes wat individue bedryf
6. Nuusverwante webtuistes

Bron: British Medical Journal 2010

Weeg dit op

Voor jy iets glo, vra eers: Wie bedryf die webtuiste? Hoekom is die blad begin, en wie betaal vir die instandhouding daarvan? Bevorder dit ’n spesifieke maatskappy, diens of produk?

Watter inligtingsbronne word aangehaal en wie skryf die artikels? Kan jy die oorspronklike navorsing waarop inligting gebaseer is, maklik opspoor? Word dit deur gerekende kenners onderskryf?

Is die inligting amper te goed om waar te wees? Moet jy enige persoonlike inligting verskaf, en wat gaan daarmee gedoen word? Hoe gereeld word die blad bygewerk?

Kry antwoorde hierop by webtuistes se “About Us”- en “Contact Us”-afdelings, is die raad van die Amerikaanse National Library of Medicine aan. Gaan gerus na www.nlm.nih.gov/medlineplus/webeval/webeval_start.html om na hul kits-tutoriaal te luister oor hoe om die kaf op die internet van die koring te skei.

Soek-soek beter

Op soek na iets oor babapap op Google, maar jy kry by die 4 miljoen opsies as jy die woorde baby porridge intik? Maak so:

  • Plaas dié twee woorde wat jy as een begrip wil gebruik, saam binne ’n stel aanhalingstekens (“baby porridge”). Dit verminder al jou soektog tot by 62 000 webbladsye.
  • Wil jy babapapresepte systap? Dan’s ’n minus jou vriend, want dié simbool voor ’n woord sny dit uit ’n soektog uit. Soek dan so: “baby porridge” -recipes
  • Wil jy spesifiek weet wat die ouderdom is waarop jou kind babapap kan begin eet, en of dit hardlywigheid veroorsaak? Voeg nog woorde by jou oorspronklike soekterm: “baby porridge” age; of “baby porridge” constipation.
  • Wees deeglik en sit ’n tilde (~) voor ’n woord sodat Google ook sinonieme kan soek. Tik jy dus “~baby porridge” in, kry jy ook inligting oor “infant porridge”.

Soek spesifiek: Weet jy daar moet inligting op ’n spesifieke webtuiste wees, maar jy kry net mooi niks? Gebruik die woord site, die webblad se naam (sonder www) en dit wat jy soek: site:babaenkleuter “baby porridge”.

Visueel ingestel: Wil jy vinnig sien hoe ’n spesifieke kindersiekte se simptome lyk? Net onder Google se soekveld is ’n lys opsies, soos Video en Images. Wees net gewaarsku – die foto’s kan oorweldigend wees. Sensor dit deur jou websoekstellings te verander by www.google.com/preferences.

Vir boekwurms: Moeg gesoek? Wil jy eerder ’n goeie boek kan nader trek? Kliek die More opsie onder die Google-soekveld, wat net boeke, apps en selfs kaarte oor die onderwerp soek.

Regterhand: Steeds verbysterd oor die hoeveel bladsye om deur te soek? Onthou Search Tools regs onder Google se soekveld.

  • So kan jy sif deur webtuistes wêreldwyd (Any Country) of net Suid-Afrikaanses.
  • Vir die jongste nuus, klik op Any Time en verander die tydlyn.
  • By Reading Level kies jy hoe moeilik die teks kan wees waardeur jy wil lees: Basic, Intermediate of Advanced.

Kenners deel wenke

“Moenie vir Google vrae vra nie; probeer liewer ’n moontlike antwoord verwoord en soek dit,” sê die tegno-skrywer Josh Catone op mashable.com

Hoe gemaak? Gestel jy wil weet of jou kind masels het. Tik measle symptoms of symtoms of measles in die soekveld eerder as What are the symptoms of measles?

“Forums is waardevol as jy meer wil leer uit ander mense se ervarings, maar kan gevaarlik wees as jy hul inligting wil gebruik om ’n selfdiagnose te maak. Daar is mense daarbuite wat jou doelbewus wil verwar met onwetenskaplike, ongetoetste inligting,” waarsku die SA wetenskapskrywer Anina Mumm.

Dus? Maak dubbel seker van ’n diagnose deur jou dokter se mening te vra. Moet nooit kruiemengsels gebruik op grond van iemand op ’n forum nie. Wat vir een mens werk, is nie noodwendig goed vir ’n ander nie.

“Mediese of gesondheidswebtuistes met ’n HonCode-sertifikaat bied die betroubaarste inligting, want dié sertifikate word slegs uitgereik aan webtuistes wat die streng etiese riglyne van die internasionale Health On the Net-stigting slaag,” sê die SA gesondheidsjoernalis Birgit Ottermann.

Hoe nou? Soek dit onderaan ’n webtuiste, of gaan na www.hon.ch/HONcode.

“Let op na ’n webtuiste se domeinnaam,” sê die dieetkundige Irene Labuschagne van die Universiteit Stellenbosch se voedingsinligtingsentrum, Nicus.

Wat bedoel sy? Die .com in ’n webadres soos www. microsoft.com beteken meestal dis ’n Amerikaanse kommersiële blad, en co.za verwys na soortgelyke Suid-Afrikaanses.

Domeins met .edu verwys na onderwysinstellings, .ac na akademiese of navorsingsliggame, en .gov na regeringsorganisasies of -afdelings. Veldtoggroepe, nie-regeringsorganisasies en diesulkes sonder winsbejag gebruik .org.

’n Agtervoegsel soos .za vir Suid-Afrika en .au vir Australië wys waar ’n webblad se oorsprong is.

“Net omdat daar ’n “dr.” of “prof.” voor iemand se naam staan, is dit nie te sê hy of sy is ’n betroubare, ingeligte bron nie,” sê Mandi Smallhorne, gesondheidskrywer en president van die Suid-Afrikaanse Wetenskapsjoernalistevereniging.

Hoe nou verder? Google die persoon, of loer op LinkedIn of by Research Gate. Maak seker hy of sy is gekwalifiseer in die rigting waaroor ’n mening uitgespreek word, en werk by ’n instelling met ’n goeie naam.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees