Kan kinders soos Tim Noakes eet?

akkreditasie
Prof. Tim Noakes se dieet het die wêreld aan die gons, maar lees eers hier voor jy hierdie dieet sommer vir jou hele gesin begin voer.

Die dieet wat die sportwetenskapsghoeroe van Kaapstad prof. Tim Noakes aanbeveel, is ’n laekoolhidraat- en hoëvet dieet waarmee volwassenes gewig verloor. Die benadering is reeds vroeg in die 19de eeu die eerste keer beproef en is dus glad nie ’n nuwe uitvindsel nie. Mense wat hierdie dieet volg, sien gewoonlik vinnige resultate. Hulle sê dat enigiemand hierdie manier van eet kan volg, selfs swanger en borsvoedende vroue en ook kinders, maar is dit regtig so?

Wat behels die dieet?

Tim se dieet behels dat ’n mens baie vet eet, dieselfde hoeveelheid proteïene as gewoonlik en baie min koolhidrate. Waar ’n mens gewoonlik sowat 150 g tot 300 g koolhidrate op ’n gewone, gebalanseerde dieet inneem, mag jy nou net 25 tot 50g per dag inkry; en jy moet elke gram tel!

Hoewel jy aan die begin drie keer per dag mag eet, beveel hulle aan dat jy net twee keer ’n dag eet. Jou maaltye bestaan uit sowat die helfte proteïene en die helfte groente, en dan kan jy ook groot hoeveelhede vet eet. Die porsie proteïen wat jy moet eet is omtrent ’n handpalmgrootte.

Dit beteken dat jy dan ook omtrent net ’n hand vol groente per maaltyd mag eet. Alle stysel is taboe en om seker te maak dat jy nie jou koolhidraat-toelating oorskry nie, mag jy op die meeste een porsie vrugte of koolhidraatryke groente per dag eet. Slegs klein hoeveelhede melk mag gedrink word omdat dit koolhidrate bevat en alle soja is uit.

Dis dus nie ’n hoëproteïen-dieet nie, maar wel ’n hoëvet-dieet. Op hierdie dieet gaan jy dus baie botter, diervet en sekere olies, neute en sade eet.

Wat gebeur in jou lyf?

Jou brein het glukose nodig om te kan funksioneer en hierdie glukose word gewoonlik verkry uit die koolhidrate wat ons eet. Wanneer daar te min koolhidrate ingeneem word om vir jou brein genoeg glukose te gee, beleef jou liggaam dit as te ware as hongersnood.

Sekere prosesse tree in werking om jou te help oorleef ondanks die “hongersnood”. Jou liggaam sal ten alle koste jou spiere wil spaar en sal dus begin om vetreserwes te gebruik om energie te kry.

Vet word omgeskakel na ketone, wat ’n energiebron is wat jou brein in so ’n “krisis” kan gebruik. Hierdie proses wat in ’n mens se liggaam plaasvind word ketose genoem en daarom noem ons hierdie manier van eet ’n ketogeniese dieet. Ketone word in die urine uitgeskei en ook uitgeasem, wat meebring dat jou asem soos vrugte ruik.

Voedingverwante probleme

Daar is heelparty fasette van dié dieet wat dit veral nie geskik maak vir swanger en borsvoedende vroue en kinders nie. Talle kossoorte word as taboe bestempel. Deur vir ’n kind te leer dat sekere gesonde kosse nie geëet mag word nie omdat dit “sleg“ vir jou is, kan lewenslange negatiewe houdings teenoor kos asook baie verwarring veroorsaak.

Omdat soveel kosse uitgesluit word, sal voedingstekorte ook ontstaan. Dié manier van eet sal tekorte aan kalsium en magnesium asook feitlik al die vitamiene meebring. Dit bevat ook baie min vesel wat saam met die groot hoeveelhede vet tot hardlywigheid sal lei.

Kosse soos volgrane, vrugte en melkprodukte bevat, behalwe ’n groot klomp vitamiene en minerale, ook ander gesonde stowwe soos polifenole, wat nie deur aanvullings vervang kan word nie. ’n Mens kan dus nie bloot dink jy kan voedselgroepe uitskakel en net aanvullings drink nie.

Die groot hoeveelheid versadigde vette in die dieet, saam met klein hoeveelhede antioksidante, sal oor tyd aanleiding gee tot hartsiektes. Studies het gewys dat die beenmineraaldigtheid van mense wat hierdie dieet ’n paar maande volg, verlaag. Dit gebeur omdat die ketone wat geproduseer word die bloed effens suur maak en veroorsaak dat minerale uit die bene onttrek word.

As hierdie dieet langer as ’n paar maande gevolg word, sal dit osteoporose veroorsaak. Daar is nog min navorsing gedoen oor die uitwerking wanneer die dieet langer as ses tot 12 maande gevolg word, en daar kan dus nog heelwat ander moontlike langtermyn-newe-effekte ook wees.

Praktiese probleme

Hoewel dieetkundiges en gesondheidsorganisasies wêreldwyd nie hierdie manier van eet aanbeveel of goedkeur nie, is die keuse steeds joune. Indien jy klaar is met babas kry en jy is vasbeslote om dié eetplan te volg, is dit dalk net nie ’n slim keuse om van jou kind te verwag om ook so te eet nie.

As jy en jou kind áltyd nét by jou eie huis eet, kan jy dit dalk nog laat werk, maar as jou kinders in die kleuterskool is waar hulle kos uitruil, of genooi word na partytjies, gaan dit ’n probleem wees. Jou kind sal nooit pizza of roomys mag eet of eens ’n sappie mag drink nie. Al wat jy ekstra vir ’n kind mag gee, is af en toe ’n klein stukkie patat, wortels of glutenvrye grane soos quinoa of bokwiet.

Die skrywers van The real meal revolution verduidelik hoe moeilik die eerste week is tot jy in ketose is. As jou kind soms baie koolhidrate eet en andersins nie, gaan haar lyfie in en uit ketose beweeg, wat haar baie moeilik gaan maak. Die tekort aan koolhidrate sal ook groot drange na stysel en veral suiker meebring.

In hierdie dieet is daar ’n groot tekort aan verskeidenheid en as jou fiemiesrige kleuter nie sy lippe aan groen groente wil sit nie, gaan hy basies van vleis en vet alleen moet leef.

Die dieet is duur, nie groen nie en nie prakties volhoubaar nie omdat dit baie kosse uitsluit en nie sosiaal inpas nie. Daar is nie navorsing oor die langtermynuitwerking op ons gesondheid nie, wat nog te sê van op groeiende kinders.

Wat is die beste?

Wêreldwyd is verskeie groot gesondheidsorganisasies dit eens dat gebalanseerd die sleutelwoord vir gesond is. Die beste is dus om elke dag vir jou kind ’n verskeidenheid kosse uit al die voedselgroepe te gee.

Kies met elke maaltyd vier kosse: ’n volgraanstysel wat so min moontlik indien enigsins verwerk is, asook ’n laevet-proteïenbron wat vleis, vis of hoender, melk, kaas, eiers, bone of lensies kan wees. Die stysel en proteïen behoort die helfte van die bord te beslaan. Die ander helfte moet groente of vrugte wees. Hoe meer vars, rou en met skille, hoe beter.

Elke maaltyd behoort ook ’n teelepel of twee gesonde vette te bevat. Dit kan enigiets wees van grondboontjiebotter, avokado, neute en sade tot olyf-, avokado- of kanola-olie en sagte margarien (kanola-margarien bevat die beste verhouding omega-3- tot -6-vetsure).

Onthou dat die olie wat jy in kosvoorbereiding gebruik ook tel, daar hoef dus nie altyd ’n sigbare vet op die bord te wees nie. Peuselhappies behoort uit gesonde kos te bestaan soos vrugte en ongegeurde joghurt.

Verfynde koolhidrate (soos witbrood, witrys, enigiets gemaak van witmeel) en suiker behoort tot so min as moontlik beperk te word. Sout en verwerkte kosse soos pakkies soppoeier, souse en blikkieskos behoort ook beperk te word. Water moet jou en jou kind se hoofdrankie wees, terwyl drankies met suiker en kunsmatige versoeters beperk behoort te word.

Daarmee saam behoort kinders soveel moontlik buite te speel om te sorg vir prettige fisieke aktiwiteit.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees