VRAAG: Ek is 29 weke swanger en dink ek het vaginale sproei, want dit jeuk vreeslik! Ek het nog nooit voorheen daarmee gesukkel nie. Hoe weet ek dis die probleem en wat kan ek daaraan doen? Kan dit voorkom word?

DR. CHRISTELLE SWANEPOEL ANTWOORD:

Die algemeenste oorsaak van ’n gejeuk ”daar onder” is sproei, wat meestal veroorsaak word deur ’n gis genaamd Candida albicans. Candida kom normaal voor in ons spysverteringskanaal en geslagsdele, maar dit kan siektes veroorsaak as daar ’n wanbalans is. In die vagina kan dit vulvovaginitis (infeksievan die interne en eksterne vroulike geslagsdele) veroorsaak.

Dit gebeur makliker as jou estrogeenvlak verhoog is, soos wanneer jy swanger is of mondelikse voorbehoeding gebruik. Ander risikofaktore sluit in sekere antibiotika, orale kortisoon, diabetes, MIV-infeksie en vreemde liggaampies.

Ons gebruik die term vaginitis vir siektes in die vagina wat veroorsaak word deur infeksie, ontsteking of veranderinge in die normale vaginale bakterieë (ook vaginale flora genoem). Vaginitis word dikwels deur infeksies veroorsaak. Die drie belangrikstes is bakteriese vaginose (BV; verantwoordelik vir 40-50 persent van vaginitis-gevalle), sproei (verantwoordelik vir 20-25 persent) en trigomoniase (15-20 persent). Hierdie drie infeksies kry die skuld vir sowat 70 persent van vaginale infeksies. Seksueel oordraagbare siektes kan soms ook vaginale simptome veroorsaak.

Vaginale infeksie kan lei tot ’n verandering in afskeiding, gejeuk, branderigheid, rooiheid, pyn tydens omgang, bloedvlekke en pyn tydens urinering.

Dit is belangrik om jou dokter of vroed-vrou te raadpleeg as jy een van hierdie simptome het. Jou dokter sal ’n vaginale monster neem met iets wat amper soos ’n oorstokkie lyk.

Klinies lyk vaginale infeksies soos ’n wit maaskaas-afskeiding en kan dit ’n groot gejeuk veroorsaak. Ons kan ook die suurheid (pH) van die vagina toets om te probeer onder­skei tussen bakteriese vaginose en sproei as dit nie klinies duidelik is nie. Ons kan ook ’n smeer van die afskeiding op ’n mikroskopiese skyfie plaas en dit ondersoek.

Jou dokter sal wil seker maak dat jy nie bakteriese vaginose het nie omdat dit komplikasies van swangerskap kan veroorsaak. Hoewel sproei uiters ongemaklik kan wees, is dit gelukkig nie gevaarlik nie en lei dit nie tot swangerskapskomplikasies nie. Seksueel oordraagbare infeksies veroorsaak ook gewoonlik ’n vaginale afskeiding, maar jeuk gewoonlik nie.

Vulvovaginale kandidiase (sproei) is een van die algemeenste oorsake van ’n gejeuk en afskeiding. Behandeling is daarop gemik om die simptome te verlig.

Tien tot 20 persent van vroue op voortplantingsouderdom wat Candida-spesies in hul liggaam het, toon geen simptome van sproei nie en het dus nie behandeling nodig nie. 

Sproei kan behandel word met ’n ver­skeidenheid mondelikse en smeermiddels. Baie daarvan is sonder voorskrif beskikbaar. 

Die vaginale roombehandeling is baie veilig en doeltreffend en jy kan dit dus met veiligheid gebruik terwyl jy swanger is.

In baie seldsame gevalle word die gejeuk veroorsaak deur letsels op die vulva of vagina. Dit moet deur ’n ginekoloog ondersoek en behandel word.

Het jy 'n vraag?

E-pos jou vrae na briewe@babaenkleuter.co.za.

Vrae kan ongelukkig nie persoonlikbe­ant­woord word nie.