VRAAG: My baba is nou agt maande oud en het die afgelope maande ’n hele paar keer brongiolitis gekry. Ek het gelees dat daar ’n verband is tussen asemhalingsiektes van die boonste lugweg en ’n vitamien D-tekort. Moet ek my baba laat toets om vas te stel of hy ’n vitamientekort het of moet ek hom net ’n aanvulling gee? Kan dit skade aanrig?

ANEL KIRSTEN ANTWOORD: Sommige studies het gewys dat daar ’n verband kan wees tussen ’n mens se vitamien D-vlak en die risiko vir asemhalingsiektes van die boonste lugweg, terwyl ander studies weer geen verband kon vind nie. Daar is dus nie klinkklare bewys dat vitamien D-aanvullings asemhalingsinfeksies help voorkom of behandel nie; meer navorsing is nodig.

Navorsing het wel gewys dat mense met te min vitamien D meer geneig tot asemhalingsiektes is omdat vitamien D ’n belangrike rol speel in die ondersteuning van ons immuunstelsel, wat virusse en infeksies beveg. Kinders se immuunstelsel is nog nie so goed ontwikkel nie en daarom is hulle meer geneig tot asemhalingsinfeksies.

’n Baba se vitamien D-voorraad word tydens swangerskap gevorm en neem ná geboorte af tot hy dit weer kan begin aanvul met sonlig en kos.

Sonlig voorsien in 80 persent van ons vitamien D-behoefte. Navorsers meen dat tussen vyf en 30 minute van sonblootstelling tussen 10:00 en 15:00 twee keer per week genoeg behoort te wees.

Babas en jong kinders loop egter ’n groter gevaar om ’n tekort te ontwikkel omdat hul velletjie die meeste van die tyd bedek is en hulle veral daardie tyd van die dag meestal binne is, sodat hulle nie baie sonblootstelling kry nie.

Die meeste kinders kry ook nie genoeg vitamien D deur net kos in nie omdat die bronne van vitamien D nie almal kindervriendelik is nie: olierige vis soos salm, haring, sardiens en makriel, eiergeel, lewer, verrykte margarien, formulemelk en ontbytgraankos.

Babas met ’n donker vel en dié wat meer as ses maande geborsvoed word, loop ook ’n tekortgevaar. Borsmelk bevat nie veel vitamien D nie. Formulemelk bevat meer en formulebabas het dus dikwels nie ’n aanvulling nodig nie.

Jy kan met ’n bloedtoets laat vasstel of hy ’n tekort het. Indien daar ’n ernstige tekort is, sal hy ’n vitamien D-aanvulling kry in die vorm van vitamien D3.

Dit kan nie skade aanrig as jy dié aanvulling gee om asemhalingsinfeksies te voorkom nie, veral as jy borsvoed of as jou baba minder as ’n liter formulemelk per dag drink. Te veel vitamien D is egter ook nie goed nie – hou dus by die aanbevole 400 IU per dag. As die bloedtoets wys daar is ’n tekort, kan ’n groter dosis voorgeskryf word. 

E-pos jou vrae na sharing@ypbmagazine.com.

Vrae kan ongelukkig nie persoonlik beantwoord word nie.