Dis nie nodig om paniekerig te voel as die koorspen verby 37 grade trek nie, want koors is die liggaam se manier om infeksie te bestry. Moet egter ook nie kanse waag as jou kind koors het nie. Wanneer koors nie beheer word nie, kan dit lei tot braking, eetlusverlies en ernstige verswakking.

Wanneer moet ek dokter toe?

As die koors maklik beheer kan word en daar nie ander gevaartekens is nie, kan jy maar 48 tot 72 uur (twee tot drie dae) wag voor jy die dokter raadpleeg.

Babas wat jonger as drie maande is en langer as 24 uur ’n koors van hoër as 38 °C het, moet dadelik dokter toe.

Babas tussen drie en ses maande wat langer as 24 uur ’n koors van hoër as 39 °C het, moet ook dokter toe gaan.

Koors is ernstig as jy sukkel om dit te laat daal, byvoorbeeld wanneer koorsmedisyne nie regtig help nie en die koors dalk ’n graad of wat sak, maar dan ná drie uur weer van 38 °C tot 41 °C opkruip.

Ander gevaartekens is dat jou kind weier om te drink en te eet, baie prikkelbaar is, hewige diarree het, baie naar is en opgooi, ernstig hoes of ’n veluitslag kry wat skielik verskyn en binne ure erger word.

As jou kind die volgende simptome het, moet jy liewer na die hospitaal se noodafdeling gaan:

  • ’n Koors hoër as 41 °C,
  • Moeilike, vlak of vinnige asemhaling,
  • ’n Veluitslag van rooi of pers kolletjies wat in klein groepies voorkom,
  • Ontwatering,
  • Bewussynsvertroebeling,
  • Stuiptrekkings,
  • Aanhoudende braking, en/of
  • Aanhoudende hoofpyn.

Leer koors meet

Digitale oor- en voorkoptermometers meet koors maklik en binne net ’n paar sekondes wanneer jy dit in die oor of teen die voorkop druk. Hierdie termometers is eenvoudig en laat weet gewoonlik met ’n fyn piepgeluid dat die lesing gereed is.

Gewone koorspenne is weer goedkoper en kan op drie plekke gebruik word: in die rektum (gebruik slegs koorspenne met die woord stubby op), onder die arm en onder die tong.

As jy koors rektaal meet, steek jy die silwerige punt van die koorspen sowat 2 cm diep in die rektum. Hou dit tussen jou wys- en middelvinger met jou handpalm na onder sodat jy jou kind se boudjies met jou duim, ringvinger en pinkie kan vasknyp. Moet dit nie indruk nie, maar laat dit sagkens ingly. Hou die koorspen twee minute vas om akkuraat te kan meet.

Om koors onder jou kind se arm te meet: Laat sy haar elmboog teen haar lyf druk om die koorspen stil te hou. Die silwer deel moet in die armholte geplaas en drie minute daar gehou word.

As jou kind oud genoeg is en nie die koorspen sal byt nie, kan jy die pen onder die tong plaas. Hou dit twee minute in ’n toe mond.

Bly liewer weg van outydse kwik-koorspenne omdat dit gevaarlik kan wees as dit breek.

Hoe help ek?

As jou kind se koors tussen 37,8 °C en 38,5 °C is, is ’n koorsstropie gewoonlik al wat nodig is. As hy baie naar is en braak, is ’n parasetamol-setpil ’n beter keuse as stroop.

As die koors hoër as 38,5 °C is en veral as dit by 39 °C begin trek, moet jy liewer setpille gebruik omdat dit vinniger werk. Setpille word meestal ingespan vir hardnekkige koors of by kinders wat braak. Die veiligste een is Empaped.

Let op hoe sterk die setpil is. Kinders wat minder as 10 kg weeg, moet elke agt uur die 125 mg-Empapedpil kry en dié wat meer weeg die 250 mg-pil, ook elke agt uur.

Koorsmedikasie behoort net vir babas ouer as drie maande gegee word. Parasetamolstrope het maksimum dosisse volgens ouderdom en as jou kind aansienlik groter of kleiner as sy ouderdomsgroep is, kan jy die dosis aanpas volgens die ouderdom van die klere wat hy dra.

Brufeen is ’n ander soort medisyne wat direk op die plek van die ontsteking teen die pyn werk. Dit kan ook koors help afbring.

Nog ’n goeie manier om koors vas te vat, is om jou kind in louwarm badwater te bad. Die water moenie yskoud wees nie. Staan of sit heeltyd by hom en probeer hom vyf minute lank met ’n lappie afspons.

Dit sal ook help om hom water te laat drink, maar liewer eers nadat die koors tot onder 38 °C gedaal het.

’n Koorsige kind moet liefs nie te warm aangetrek wees nie.

Die goue reël
’n Ma ken haar kind die beste. Raadpleeg jou dokter as jy oortuig is dat daar iets ernstigs verkeerd kan wees.

Koorsstuipe

Koorsstuipe is taamlik algemeen by kinders tussen ses maande en drie jaar oud. Party kinders sal teen 38 °C al koorsstuipe kry, terwyl ander baie koorsiger moet wees voor hulle toevalle kry. Dis nie noodwendig die graad van die koors wat koorsstuipe veroorsaak nie, maar die spoed waarteen dit styg. Hoewel koorsstuipe verskillende vorms aanneem, is die algemeenste die volgende:

  • Jou kind word stil of maak kreungeluide.
  • Jy kan nie sinvol met hom kommunikeer nie, veral nie deur oogkontak te maak nie.
  • Soms maak sy oë rukbewegings, sy hande vou oop en toe en sy arms en bene begin ruk.

Met koorsstuipe moet ’n kind op sy sy neergelê en so rustig moontlik gehou word. Moenie terwyl hy stuipe het medisyne probeer gee nie, want hy kan verstik. Sodra die stuipe verby is, kan jy die medisyne toedien en hom in ’n louwarm bad tel om die koors te probeer breek.

Antwoorde op jou vrae

V: Baie ma’s gee koorsmedisyne voor inentings of net daarna. Is dit reg so?

A: Koorsmedisyne help om die ongemak van die inenting te verlig, maar die middels is nie bedoel om as roetine voor of ná ’n inenting gebruik te word nie. Gee dit liewer net as jou kind baie ongemaklik is en ’n hoë koors het.

V: Hoe lyk tandekrykoors, en hoe verskil dit van koors weens virus- of bakteriese infeksies?

A: Tandekrykoors is gewoonlik laer as 38 °C en jou kind wys dat die tande pla. As dit langer as 72 uur duur, moet ander oorsake uitgeskakel word.