Breinvliesontsteking (harsingvliesontsteking of meningitis) 

Dis ’n ernstige siekte wat gekenmerk word deur ontsteking van die vliese wat die brein omhul. Daar is twee soorte: bakteriële meningitis, wat as komplikasie van sekere infeksies van die lugweë voorkom, en virale meningitis (enkefalitis), wat as ’n afsonderlike infeksie of as komplikasie van ander virusinfeksies soos pampoentjies voorkom.

Bakteriese breinvliesontsteking is aansteeklik. Die kind se koors styg vinnig, hy kry hoofpyn, sy nek verstyf, hy gooi op en is baie siek. By babas kan koors en krampe soms die enigste simptome wees. Met enkefalitis is die simptome soortgelyk, maar minder hewig. Soms kom duiseligheid voor.

Kenmerkend van die siekte is dat dit as komplikasie voorkom eers wanneer die koors en ander simptome van die aanvanklike virusinfeksie al ’n paar dae weg is. Jou kind kry skielik weer ’n hoë koors.

Jy moet jou kind dadelik dokter of hospitaal toe neem as jy vermoed dat hy breinvliesontsteking het. Behandeling vir bakteriese breinvliesontsteking sluit in antibiotika wat in die bloedstroom ingespuit word. Enkefalitis genees meestal vanself. Daar is geen doeltreffende teenmiddel nie. Die meeste kinders herstel sonder blywende gevolge.

Die pneumokokkus-entstof wat verpligtend is vir jou kind op ses weke, 10 weke (privaat), 14 weke en nege maande verminder die kans dat jou kind siektes kry wat deur die pneumokokkuskiem veroorsaak. Die saamgevoegde HIB-vaksien is verpligtend op ses weke, 10 weke, 14 weke en 18 maande en beskerm jou kind teen bakteriële infeksies wat deur Haemophilus influenzae groep B veroorsaak word.

Klierkoors 

Klierkoors is ’n virussiekte en word deur regstreekse aanraking oorgedra. Veral skoolgaande kinders kry dit. Die simptome is soos dié van mangelontsteking (lees meer op die oorkantste bladsy): ’n seer keel met koors en opgeswelde, rooi neusmangels. Die limfkliere in die hoeke van die kake en nek swel baie meer as met mangelontsteking en ’n uitslag kan op die maag verskyn. Nadat die koors gedaal het, kan die ander simptome nog weke lank duur. Behandeling is beperk tot bedrus en koorswerende middels. Antibiotika sal net help indien jou kind ’n bakteriese infeksie ontwikkel.

Polio 

Dis is ’n virussiekte wat danksy verpligte vaksinasie in Suid-Afrika uitgeroei is. Daar is dikwels min simptome, maar soms is daar ’n hoë koors, hoofpyn en stywe nek. Dikwels volg verlamming, veral van die bene en arms. Doktersbehandeling is nodig.

Diarree 

Dit word gediagnoseer wanneer jou baba of kind se stoelgange abnormaal kort op mekaar volg, waterig en los is en hy klaerig of huilerig is. Akute diarree is baie ernstig. As daar waterige en los stoelgange is wat bloederig voorkom en die baba of kind opgooi, koors het en uitgeput en swak lyk met donker kringe onder die oë, moet jy dadelik dokter toe gaan. Behandeling van diarree bestaan uit borsvoeding of laktosevrye formulevoeding in die geval van babas en rehidrasievloeistof vir ouer kinders. Dit is belangrik dat jou kind baie vloeistof inkry om ontwatering te voorkom. Vermy vetterige en ryk kos.

Gastroënteritis 

Dis die ontsteking van die slymvliese van die maag en dunderm en word veroorsaak deur virusse of bakterieë. Die simptome is naarheid of ’n loopmaag of albei. Soms gooi jou kind eers op en kry daarna ’n loopmaag. Die siekte begin gewoonlik vinnig en is hewiger as diarree. Stoelgange volg kort op mekaar en is hewig en waterig. Die groot gevaar is ontwatering en verlies aan elektroliete.

As jy dink jou kind het gastroënteritis, moet jy dadelik by die dokter uitkom. Behandeling sluit in rehidrasievloeistowwe wat by die apteek beskikbaar is. Die vloeistof moet noukeurig aangemaak word. Te veel sout of suiker kan baie gevaarlik wees. Moenie sommer tuis water met sout en suiker aanmaak nie, vra liewer vir jou dokter of apteker vir die regte formule. As jou kind weer kan eet, moet julle vetterige kos en meelprodukte (brood, koekies en beskuitjies) vermy wat sy dermkanaal kan ontstel. Voorkom aansteeklike siektes, diarree en gastroënteritis deur jou kind van vroeg af te leer om gereeld maar veral voor elke maaltyd sy hande te was!

Kinkhoes 

Kinkhoes word deur ’n bakterie veroorsaak. Die inkubasietyd is tussen sewe en 14 dae. Dis aansteeklik vandat die hoes begin tot vier of vyf weke daarna, maar veral wanneer die siekte pas begin het. Kinkhoes gaan gepaard met verkoue en hoesbuie wat ná drie weke toeneem tot hewig fluitende hoesbuie, veral wanneer jou kind eet of slaap. Hy sal ook ’n fluitgeluid maak wanneer hy inasem. Daar is taai, deurskynende slym en jou kind sal miskien opgooi wanneer hy hoes.

Die behandeling behels antibiotika en ondersteunende maatreëls soos koorswerende middels en suurstof. Gewone hoesmiddels help selde. Lig jou kind se bolyf snags op ’n paar kussings sodat hy makliker kan asemhaal. Kinkhoes kan soms oorgaan in brongitis en longontsteking. As ’n mens eers die siekte gehad het, bly jy lank immuun maar nie lewenslank nie. Daar is ’n saamgestelde inenting teen kinkhoes, klem-in-die-kaak en witseerkeel wat op ses weke, 10 weke, 14 weke en 18 maande toegedien word.

Masels 

Masels word veroorsaak deur ’n virus en is baie aansteeklik. Die inkubasietydperk is tussen 10 en 12 dae. Jou kind is aansteeklik twee tot vier dae voor die simptome kop uitsteek, en bly so tot die uitslag verdwyn. Dit is belangrik dat jy jou kind by die huis hou sodat hy nie ander mense aansteek nie. Jou kind het verkouesimptome soos ’n droë hoes, hoë koors, rooi oë en hy sal ná die derde of vierde dag ’n uitslag kry wat agter die ore begin.

Die uitslag bestaan uit digte, plat, rooi vlekkies. Dit begin op die nek en agter die ore en verskyn daarna op die wange en oor die hele liggaam. Die uitslag jeuk. Masels is ’n aanmeldbare siekte, wat beteken die dokter moet dit by die gesondheidsowerheid aanmeld. Raadpleeg jou dokter dus sodat die nodige toetse aangevra kan word om die diagnose te bevestig. Komplikasies sluit in oorontsteking, longontsteking en harsingvliesontsteking. Masels is nie skadelik vir swanger vroue nie, maar bly liewer weg as jy kan. Jou kind kan ’n gekombineerde inenting teen masels, pampoentjies en Duitse masels kry wanneer hy tussen een en ses jaar oud is.

Duitse masels

Dit word veroorsaak deur ’n virus en die inkubasietydperk is tussen 17 en 18 dae. Dis nie so aansteeklik soos masels nie en ’n mens word nie so siek nie. Dit kom veral by kleuters voor, gewoonlik as ’n epidemie. ’n Kind is aansteeklik ’n paar dae voor hy simptome wys tot ’n paar dae nadat die uitslag verdwyn het. Duitse masels word gekenmerk deur verkoue, keelseer, ligte koors, pyn in die gewrigte, ’n uitslag ná twee of drie dae en geswelde, pynlike limfkliere in die nek. Die kolletjies is nie so dig opmekaar soos met masels nie.

Jou kind het bedrus nodig solank die koors duur. As hy eers een keer die siekte gehad het, is hy sy lewe lank daarteen immuun. Daar is selde enige komplikasies. Hou egter in gedagte dat Duitse masels ’n gevaar inhou vir ongebore babas. Gaan spreek jou dokter as jy swanger is en dink jy was in aanraking met iemand wat Duitse masels het. Jou kind kan tussen een en ses jaar oud ’n gekombineerde inenting teen masels, pampoentjies en Duitse masels (ook rubella genoem) kry.

Waterpokkies 

Dit word ook deur ’n virus veroorsaak. Veertien tot 16 dae ná infeksie kry jou kind koors en maak ’n uitslag wat vinnig in blasies verander, sy verskyning. Klein kindertjies kry gewoonlik min of glad nie koors nie. Die siekte is aansteeklik vandat die uitslag verskyn tot die blasies ná vyf tot sewe dae opdroog. Die uitslag jeuk baie en kan ook in die mond, ore en geslagsorgane voorkom. Laat jou baba sonder ’n doek bly as die uitslag hom te veel pla. Bedrus terwyl die koors duur word aanbeveel en kamilleroom en talk sal vir die uitslag help. Daar is selde enige komplikasies. Daar is ’n entstof beskikbaar wat op 15 maande en ses jaar toegedien kan word.

Mangelontsteking 

Dit word veroorsaak deur dieselfde bakterieë wat skarlakenkoors veroorsaak. Dis aansteeklik en versprei wanneer jou kind hoes. Jou kind sal kla van hewige keelseer en pyn wanneer hy sluk. Die mangels is rooi en opgeswel en daar is gewoonlik wit op die puntjies. Sy stem kan ook aangetas word. Mangelontsteking gaan gepaard met koors wat drie tot vier dae duur. Behandeling sluit in antibiotika. Die siekte duur sowat ’n week. Koorswerende middels (wat ook anti-inflammatories is) kan vir die pyn help. As jou kind sukkel om te sluk, kan jy hom vloeibare kos soos sop, jogurt, roomys en jellie gee.

Oorontsteking 

is veral algemeen onder klein kindertjies. Dit word veroorsaak deur bakterieë wat die middeloor deur die trommelvlies binnedring. Dit is baie lastig en seer. Jou kind sal klaerig en huilerig wees. Babas hou gewoonlik op huil wanneer jy hulle optel, maar trek dan weer los wanneer jy hulle neersit. Wanneer die slymvlies opswel, verstop die inwendige gehoorgang en bly die bakterieë in die middeloor. Die ontsteking veroorsaak dat die slymvlies meer vloeistof afskei. Soms is die oor vir ’n week of langer toe. Jou kind kan ook koors kry.

Behandeling behels antibiotika, oordruppels en/of neusdruppels. Help jou kind deur sy koppie in die nag met kussings te stut. Bel die dokter as die pyn en ontsteking nie ná ’n paar dae opklaar nie en onthou om jou kind se gehoor na afloop van die siekte te laat toets. Raadpleeg ’n oor-neus-keel-spesialis as jy vloeistof uit die oor sien dreineer. ’n Operasie waartydens klein plastiekbuisies in die trommelvlies aangebring word om die middeloor droog te hou, kan verligting bied vir kinders wat gereeld oorontsteking kry.

Pampoentjies 

Dit word veroorsaak deur ’n virus wat regstreeks oorgedra word. Die inkubasietydperk is tussen sewentien en 21 dae. Dit kom veral voor by kinders tussen vyf en nege jaar. Hoe jonger die kind, hoe ligter is die simptome, wat koors en opgeswelde oorspeekselkliere insluit. Die een klier swel eers op, en dan die ander.

Behandeling behels bedrus solank die koors duur. Hou in gedagte dat breinvliesontsteking soms ’n paar dae ná pampoentjies as komplikasie ontwikkel. ’n Ander komplikasie is testikelontsteking by seuns. Die testikels swel op en is seer. Raadpleeg jou dokter dadelik as jy vermoed dat jou kind breinvlies- of testikelontsteking opgedoen het.

Witseerkeel 

Dit word veroorsaak deur bakterieë en maak sy verskyning twee tot sewe dae ná infeksie. Die simptome behels ’n loopneus, keelseer en lusteloosheid. Antibiotika word voorgeskryf, sowel as streng toegepaste algehele bedrus. Komplikasies sluit in die aantasting van die hartspier met die gevaar van permanente skade van die hartspier. Daar is ’n saamgestelde inenting teen kinkhoes, klem-in-die-kaak en witseerkeel op ses weke, 10 weke, 14 weke en 18 maande.

Babamasels of roosuitslag (roseola infantum) 

Dit word veroorsaak deur ’n virus en maak sewe tot 14 dae ná infeksie sy verskyning. Die simptome is ’n hoë koors (39,4 °C tot 40,6 °C) wat drie tot vier dae duur en soms met verkouesimptome gepaardgaan. Sodra die koors bedaar, verskyn ’n bleekrooi uitslag vir een tot twee dae op die bors, nek en arms. Behandel jou kind met koorswerende middels en bedrus. Daar is geen voorkoming nie. Roosuitslag is veral algemeen onder kinders tussen ses maande en twee jaar.

Skarlakenkoors 

Dit word deur bakterieë (hemolitiese streptokokke) veroorsaak en die siekte maak sy verskyning twee tot vier dae ná infeksie. Jou kind sal ’n seer keel, koors en geswelde neusmangels hê en sukkel om te sluk. Ná ’n dag ontstaan ’n wit-en-geel uitslag wat bestaan uit digte kolletjies veral in die armholtes en lieste. Jou kind sal ook rooi spikkels op sy tong, in sy keel en op sy mangels hê. Ander simptome kan insluit naarheid, maagseer, braking en lusteloosheid. Die vel word grof soos sandpapier en ná twee tot vier weke sal jou kind vervel. Hy is aansteeklik tot die vervelling verby is. Omdat die simptome baie soortgelyk is aan masels en Duitse masels sal hy moontlik vir die strep-bakterie getoets word.

Behandeling bestaan uit bedrus solank die koors duur. Penisillien is baie doeltreffend teen die siekte. Daar bestaan ’n moontlikheid van komplikasies soos nierontsteking, longontsteking en middeloorontsteking. Dit is veral algemeen onder kinders tussen die ouderdom van twee en 10 jaar. Daar is geen voorkoming nie.

Tuberkulose (TB) of tering 

Dis een van die algemeenste kindersiektes in Suid-Afrika, veral in die Wes-Kaap. Dit word veroorsaak deur ’n bakterie wat onder mense versprei word as iemand hoes, nies of spoeg. Die inkubasietyd – die tyd tussen infeksie en die verskyning van simptome – wissel na gelang van die soort tuberkulose. Die meeste mense in Suid-Afrika word daagliks aan die bakterieë blootgestel en ’n mens kan die bakterieë dra sonder om enige simptome te hê. As ’n mens een keer die siekte gehad het, is jy nie immuun daarteen nie. Verbeterde higiëne en voeding kan die siekte voorkom. Die simptome is moegheid, gewigs- en aptytverlies, nagsweet en ’n knaende hoes. Gevorderde tuberkulose-lyers is kortasem en daar is bloed in hul speeksel. TB kan jou kind se groei belemmer.

Hy het doktersbehandeling nodig en sal ’n langdurige kursus medisyne moet neem. In die meeste gevalle kan hy tuis behandel word. Inenting is verpligtend. Dit geskied kort ná geboorte as ’n inspuiting op die regterboarm wat binne vier tot ses weke ’n reaksie toon (rooiheid, swelling en selfs ’n bietjie etter wat uitkom). 

Babamasels gaan met ’n hoë koors gepaard wat ouers kan laat skrik, maar dis nie gevaarlik nie.