Ná die lang winter sal die vooruitsig van ’n maaltyd buite op die grasperk of in die buurt se parkie jou kind beslis opgewonde maak. Dis gelukkig maklik om dinge voedsaam te hou en jou boonop ’n blaaskans van die kospotte te gee. Pak ’n kombinasie van soet en sout kos en verfrissende drankies. Onthou dat die fokus meer op die prettige uitstappie moet wees as op die kos; moet dus nie van jou kinders verwag om lank stil te sit en eet nie. Laat hulle speel en rondhardloop en kort-kort die piekniekkombers besoek om ’n vinnige happie weg te sluk. In die loop van die middag sal hulle so wel genoeg kos inkry.

Jou pieknieklysie

Southappies

  • Suikerertjies, wortelstokkies en babamielies met ’n guacamole-doopsous
  • ’n Doopsous gemaak van maaskaas en ’n eetlepel blatjang
  • ’n Doopsous van fyngemaakte ertjies en fetakaas
  • Mini-pizzas met ham en pynappel
  • Mini-souttertjies van eier, uie en spinasie
  • Klein pakkies springmielies
  • Klein frikkadelle
  • Hardgekookte eiers
  • Neute soos amandels, okkerneute en pekanneute
  • Tandestokkies waarop kersietamaties, basilieblare en kaasballetjies geryg is.
  • Patee en beskuitjies
  • Olywe
  • Hoenderboudjies
  • Biltong

Drankies

  • Verwaterde vrugtesap met ysblokkies in. Maak ysblokkies wat kruie of stukkies vrugte bevat.
  • Tuisgemaakte ystee van rooibos en appelsap
  • Borrelwater met komkommer- en suurlemoenstukkies

Soetgoed

  • Klein semelmuffins met appel en rosyne
  • Piesangbrood
  • Stokkies waarop aarbeie en spanspekballetjies geryg is
  • Tuisgemaakte roomys wat met vrugtepuree eerder as suiker versoet is
  • Klein bakkies vrugteslaai met jogurt
  • Waatlemoenskywe
  • Jellie van vrugte gemaak
  • Dadelballetjies

Speletjies

  • Neem balle van alle soorte en groottes saam en speel ’n verskeidenheid skop- en gooispeletjies. Pak ook ’n frisbee in.
  • Neem ekstra komberse en kussings saam en rig ’n tent op.
  • Pak ’n strook materiaal in om iemand se oë toe te bind en blindemol te speel.
  • Speel balanseerspeletjies. Kyk wie vir die langste op een been kan staan of vir die langste op een been kan spring.
  • Sakresies is altyd groot pret.
  • Eier-en-lepel-wedrenne is histeries snaaks. Moet dus nie die hardgekookte eiers voor die piekniek afdop nie.
  • Blaas borrels.
  • Speel wolf-wolf.
  • Pak ’n vlieër in as daar ’n briesie is.
  • Moenie net ’n sandkasteel bou nie, bou ’n hele stad. Of bak modderkoekies.

Neem kennis van nare bymiddels
Oormatige suiker word dikwels geblameer vir onhebbelike gedrag by kinders, maar studies wys dat sintetiese kleurstowwe die eintlike sondaar is. Hierdie chemiese stowwe kan veroorsaak dat sommige kinders prikkelbaar, aggressief en hiperaktief word. Die meeste van ons weet ons moet lekkergoed en koeldrank wat hierdie stowwe bevat vermy, maar dit kruip ook soms op onverwagte plekke weg, soos in jogurt en gegeurde melk, en selfs gedroogde vrugte en vla. As jy lekkergoed inpak, kies eerder dié wat nie kleurmiddels bevat nie, soos sjokolade, Smarties en toffies. Lees etikette en vermy enige produkte wat die volgende bevat: E102, E104, E110, E122, E124, E129.