1 Maak dit gaar

Harder vrugte soos appels en pere werk beter as dit eers gaargemaak word. Vir jou baba kan jy skil, stoom en dan fynmaak. Vir ouer kinders kan jy ’n vrugtenagereg as bederfie bak: Pak die vrugte in lae in ’n bak, besprinkel met kaneel en suurlemoensap en smeer ’n krummellaag gemaak van hawermout, botter en klapper bo-oor.

2 Roer dit deur

Die kombinasie van vrugte en jogurt is ’n wenner. Roer self vrugtepuree deur dubbelroomjogurt – so keer jy dat jou kind die bygevoegde suiker inkry wat meestal by klein jogurtpotjies gevoeg word. Dis ook goedkoper en jy kan porsiegroottes beheer. Doen dieselfde met sy oggendpap. Geur hawermoutpap met appelmoes pleks van suiker. As die vrug baie ryp is en jou baba al meer tekstuur kan hanteer, kan jy die appel byrasper.

3 Voeg dit by

As jy vrugte by jou baba se vleiserige maaltye voeg, maak jy die vleis meer verteerbaar omdat die ensieme in die vrugte die proteïen in die vleis help afbreek. Kombinasies wat goed werk, sluit in gestoofde hoender en appelkoos, maalvleis met rosyntjies, en vark-en-appel-skottelgeregte. Ouer kinders sal gek wees oor hoender-en-pynappel-sosaties. As jy vrugtesmake by sterker groente voeg, maak jy die groente meer bekend en aanvaarbaar vir jou baba se smaakknoppies.

4 Skil dit

Wanneer jy vrugte afskil en in stukkies sny, is jou kind meer geneig om dit te eet as wanneer jy ’n heel vrug aanbied. Plaas vrugteslaai sommer ’n paar keer per week op die spyskaart en pas die bestanddele aan namate die seisoen verander. In die somer sal almal gek wees oor al die bessies, druiwe, waatlemoene en spanspek. Niemand kan verveeld raak nie. Ander kere kan jy die vrugteslaai meer interessant maak deur die vrugte in interessante vorms te sny of deur dit in patroontjies of as prentjies op ’n bord uit te pak.

5 Pak dit in

Hou ’n sakkie vrugtepuree in jou doeksak en nog een in jou handsak. Jy weet nooit wanneer jy vir langer as beplan weg van die huis gaan wees nie, en ’n porsie vrugte kan die honger op ’n gesonde manier stil tot julle weer by die huis is. Dis werklik ’n lewensredder terwyl julle in die winkels is.