Cara Wagenaar van Pretoria is op 28 weke gebore en was van jongs af ’n fyn dingetjie. Die klein, blonde meisietjie het egter toe reeds, en selfs ná haar eerste verjaardag, ’n boepie gehad.
“Ek en my man, Henno, het dikwels daaroor gespot en gedink dit is te oulik,” vertel ma Carli (33).
Toe sy egter een dag die 14 maande oue Cara se doek ruil, het sy ’n harde knop omtrent so groot soos ’n tennisbal onder haar baba se regterkantse ribbes gevoel.
“Ek is ’n geregistreerde verpleegster en het geweet dis nie goeie nuus nie, maar nie vir een oomblik het ek gedink dit kon kanker wees nie. Ek het nietemin onmiddellik ’n afspraak by die pediater gemaak.”
Carli vertel dat sy die skrik op die pediater se gesig kon sien toe hy Cara ondersoek. Die pediater het dieselfde aand nog vir hulle ’n afspraak by ’n pediatriese chirurg by die Kloof-hospitaal in Pretoria gereël. Die chirurg het die gewas vinnig raakgevoel en twee dae later ’n biopsie in die teater gedoen.
“ ’n Onkoloog (kankerspesialis) het ons byna onmiddellik besoek,” onthou Carli.
Presies een week nadat Cara gediagnoseer is met die kanker neuroblastoom, het sy by die Unitas-hospitaal met chemo-behandeling begin. Carli verduidelik dat neuroblastome gewoonlik uitgesny word. Dit kom meestal op die byniere voor, wat ook indien nodig verwyder kan word. In Cara se geval was dit egter nie moontlik nie weens die grootte en posisie van die gewas.
“Die gewas was reg rondom die aorta. Dis die belangrikste bloedvat in jou liggaam en kan dus nie verwyder word nie.”
Cara se chemoterapie het altesaam 10 maande geduur. In hierdie tyd het sy elke drie weke ’n week lank behandeling ontvang. Henno en Carli het vir haar gelees en hulle het saam ingekleur en speletjies gespeel – alles om Cara vir lang rukke te laat stil sit terwyl die middel by haar lyfie inloop.
“Dit was ’n uitdagende tyd, maar Cara het die chemoterapie eintlik verbasend goed hanteer. Ons kan op een hand die hoeveelheid kere tel dat sy naar geword het en sy moes slegs twee keer bloed kry. Sy het wel mondsere opgedoen vanweë haar verswakte immuniteit en ná elke sessie was haar lyf omtrent ’n week lank seer.”
Ná ses maande van behandeling het die neuroblastoom glad nie gekrimp nie. Die onkoloog het toe nog drie maande van chemoterapie bygevoeg. Cara het al so gemaklik in die hospitaal geraak dat sy die plek vol gestap het terwyl sy die staander saamstoot waaraan die chemo-drup gehang het.
“Dit was moeilik. Ek en Henno het die nuus en stres elkeen op ons eie manier probeer hanteer. Jy sukkel om te slaap en die slegte nuus oorweldig jou. Jy besef sy kan sterf,” vertel Carli.
Cara se chirurg het saam met ’n ander chirurg besluit om te opereer om die gewas effens weg te sny waar dit moontlik was.
“Hulle het ons ook daarop voorberei dat Cara se linkernier moontlik baie skade kon hê en dat dit moontlik tydens die operasie verwyder sou moes word.”
Ná ’n gewag van vyf uur het die chirurge met onverwagte nuus uit die teater gekom: Hulle kon die gewas heeltemal verwyder! Cara se linkernier het wel skade gehad, maar die chirurge het besluit om dit eers daar te laat.
“Ons het dié goeie nuus glad nie verwag nie. In die hele tyd dat Cara siek en in die hospitaal was, het talle kinders gesterf. ’n Mens word heeldag met die dood gekonfronteer. Dit was dus wonderlik om te hoor dat Cara se gewas uitgesny kon word,” vertel Carli.
Sewe dae ná die operasie het Cara egter ’n toeval gekry.
“Sy het haar koppie agter teen haar rug vasgetrek, haar ogies styf toe geknyp en haar linkerarm het langs haar lyf gehang. Ons het groot geskrik.”
’n Bekende pediatriese neuroloog van Pretoria is ingeroep om Cara te help. Hy het Pres-sindroom (omkeerbare ensefalopatiesindroom) gediagnoseer. Die toeval was die gevolg van hoë bloeddruk wat op sy beurt weer veroorsaak is deur hormone wat deur die chemoterapie afgeskei is.
“Cara het sterk bloeddrukmedikasie gekry en met fisioterapie het haar linkerarmpie volkome herstel,” sê Carli.
Drie weke nadat die gewas verwyder is, is sy huis toe. Twee maande ná die operasie het sy weer ’n week lank chemo-behandeling gekry. ’n Maand later weer. Binnekort word sy geskandeer om seker te maak daar is geen spoor van die kanker oor nie.
“Die poort onder haar vel waardeur die chemomiddels ingevoer is, bly daar tot die dokter besluit dis veilig om dit uit te haal,” vertel Carli.
Gedurende Cara se siekte het hulle honderde bemoedigende boodskappe ontvang. Hulle het gelukkig ook ’n uitstekende steunstelsel gehad.
“Ons huiswerker, Johanna, en Cara se twee oumas was wonderlik. Gelukkig is Henno uiters positief en dít het my meestal van waansin gered,” spot Carli.
Sy is tans 23 weke swanger en met Cara wat aan die herstel is, sien sy uit na ’n rustige en goeie jaar.
“Ons moet die volgende drie jaar een keer elke ses maande toetse laat doen om seker te maak Cara is gesond. Ons glo egter sy sal wees; sy is mos van haar vroeë geboorte af al ’n sterk dogtertjie.” 

Die onkologie-hematologie-eenheid by die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad word opgegradeer en geld word daarvoor ingesamel. Gaan gerus na childrenshospitaltrust.org.za om ’n bydrae te maak.
Meer oor ’n neuroblastoom
’n Neuroblastoom ontwikkel in die fetusstadium in senuweeselle wat neuroblaste genoem word. Namate die fetus ontwikkel, ontwikkel die neuroblaste normaal – maar soms kan dit kankeragtig raak en vorm dit ’n neuroblastoom, verduidelik Carli Wagenaar, Cara se ma. Neuroblastome begin meestal op een van die byniere groei, maar kan ook in die nek, bors, maag of ruggraat ontwikkel. Simptome van ’n neuroblastoom is gewoonlik beenpyn, ’n knop in die buik, nek of borskas, of ’n pynlose blou knop onder die vel. Dr. Dino Chetty, ’n kliniese en bestralingsonkoloog van Johannesburg, sê toetse wys byna altyd afwykings in die urine. Die meeste kinders met ’n neuroblastoom het ongelukkig baie vae simptome soos pyn, koors en terneergedruktheid. Hulle sukkel ook om gewig aan te sit, maar oor die algemeen is die simptome so vaag dat kanker nie ’n mens se eerste gedagte is nie. Die gevolg, sê Dino, is dat die kanker al na ander organe versprei het teen die tyd dat lyertjies gediagnoseer word, en dan het hulle baie omvattende behandeling nodig.
Dankie aan dr. Dino Chetty, kliniese en bestralingsonkoloog van Johannesburg, vir sy hulp met hierdie artikel.
Pret in die hospitaal. Cara en pa Henno speel terwyl sy haar dosis chemo kry.
Cara het alte lekker in die hospitaal rondgekuier terwyl sy haar chemo-staander saamgesleep het.