Kwaai reaksie op vlooibyte

akkreditasie
'n Seun se beste vriend, maar ongelukkig 'n vlooi s'n ook.

Vraag:

My seuntjie en sy hond is onafskeidbaar. Laasgenoemde het vlooie gekry en nou is my vyfjarige oortrek van die vlooibyte. Hy krap so dat dit lyk of hy waterpokkies gehad het. Hy kla aanhoudend dat dit jeuk en seer is. Wat kan ek doen om te voorkom dat hy so vreeslik jeuk en uitslaan, of dit ten minste te probeer verminder? Hoekom reageer hy so erg op dié byte?

Antwoord:

Vlooibyte kom baie algemeen by kinders voor. Die byte verskyn gewoonlik in groepies, dikwels op die bene of om die middel waar die klere druk. Een vlooi veroorsaak gewoonlik ’n hele klomp byte soos hy oor die vel kruip.

Wanneer die vlooi byt, penetreer hy die vel en skei ’n stollingsteenmiddel af (iets wat keer dat bloed stol). Dis gewoonlik hierdie stof wat ’n allergie veroorsaak waarop kinders dan oormatig reageer.

Die byte is gewoonlik rooi, geswelde knoppe wat tot 2 cm groot kan wees, en hulle kan selfs ’n waterblasie in die middel hê. Daar is gewoonlik ’n sentrale gaatjie waar die vlooi die bloed gesuig het. Daar kan ook ’n rooi ring om die byt wees.

Vlooibyte kan verskriklik jeuk, wat tot gevolg het dat die kind krap. Ongelukkig kan die gekrappery tot infeksie van die byte lei. As die byte ontsteek, is dit belangrik om ’n dokter te raadpleeg wat ’n antibiotiese salf en indien nodig ook sistemiese antibiotika sal voorskryf.

In hierdie geval is voorkoming baie beter as behandeling. Sorg dat huisdiere – binne en buite – gereeld ontvlooi word. Meubels, matte en sagte materiale soos gordyne is die broeiplek van vlooie en moet gereeld deeglik met ’n stofsuier gesuig word. As die probleem buite beheer is, kan dit nodig wees om ’n plaagbeheeragentskap se hulp in te roep.

Was die bytplekke met koue water en seep. Warm water sal die jeuk vererger. Koue yskompresse sal ook help (ys toegemaak in ’n vadoek).

Kalamynroom, Aloe Vera of teeboomolie bring ook verligting. As die gejeuk en swelling baie erg is, sal oor-die-toonbank-hidrokortisoonrome help.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees