Vraag:

My seuntjie is amper ’n jaar. Dit voel of ons twee nooit gebind het nie. Ek het probeer borsvoed, maar het drie weke ná sy geboorte opgehou. Ek het ook nageboortelike depressie gehad. Ek het medikasie daarvoor gedrink en dit is uiteindelik ná vyf maande iets van die verlede. Ek voel dat my terugkeer werk toe vier maande ná sy geboorte, die nageboortelike depressie en mislukte borsvoeding alles bydra tot die niebestaande verhouding tussen ons. Ek bring gereeld gehaltetyd saam met hom deur. Is dit te laat om te bind en hoe kan ek binding aanmoedig?

Antwoord:

Gesonde binding ontwikkel as jy die vermoë het om op ’n betroubare manier op jou kleinding se behoeftes te reageer. Dit laat jou kind weet dat sy wêreld ’n veilige plek is. Binding word oor tyd gebou met gedeelde aktiwiteite tussen jou en jou kleinding en dit versterk sy gevoel van sekuriteit.

Binding is ’n proses en verg tyd. Dit is nooit te laat om die binding met jou kind te versterk nie, maar dit is noodsaaklik om so gou moontlik daaraan te werk omdat dit jou kind se verwysingsraamwerk vir alle toekomstige emosionele interaksies sal vorm.

Hier vold 'n paar wenke: 

  • Gehaltetyd is baie belangriker as hoeveelheid tyd.
  • Om te reageer op jou kind se behoeftes beteken nie dat jy dit altyd onmiddellik hoef te doen nie. Die belangrikste is om sy behoeftes te erken sodat hy seker voel in die wete dat jy sy behoeftes raaksien en verstaan.
  • Dink aan maniere waarop jy aan jou kind die boodskap kan oordra dat jy hom hoor en dat jy sy behoeftes raaksien.
  • Word meer bewus van jou kind se unieke maniere om met jou te kommunikeer. As jy meer daarop fokus, sal dit onmiddellik die band tussen julle versterk.
  • Skep ’n tyd in jou daaglikse roetine waar jy gehaltetyd saam met jou kind deurbring. Gebruik dit om saam te speel, te lag en oogkontak te maak. Skakel alle tegnologie af terwyl julle daarmee besig is.
  • Word bewus van jou eie behoeftes en vra hulp met jou kleinding. Jou emosionele en sieke toestand sal ’n direkte invloed op die band met jou kind hê.
  • Masseer jou baba en hou hom gereeld vas. Gee baie drukkies en soentjies.
  • Vind maniere om jou self te kalmeer in stresvolle tye: Haal diep asem, gaan stap, doen enigiets wat jou en jou baba tot bedaring sal bring.
  • Gebruik sy daaglikse roetine-aktiwiteite as bindingsaktiwiteite. Eet, slaap en bad is veral geleenthede om die band met hom te versterk.
  • Praat met iemand oor jou ervaring as ouer. Dit is ongelooik terapeuties en sal jou toelaat om jou energietenk weer vol te maak sodat jy voluit vir jou seuntjie teenwoordig kan wees.