Min antwoorde tog, dankbaar

akkreditasie
Noeleen Foster
Adrien en Albert Terblanche (albei 30) van Pretoria se enigste meisiekind, Janke (nou 26 weke), het kort ná geboorte vreemde vlekkies op haar vel gehad. Waarheen dit sou lei, het nie hulle – of die dokters – ooit kon dink nie.

Janke is op 40 weke en een dag met ’n noodkeisersnee gebore nadat ek 12 uur in kraam was. ’n Natuurlike geboorte sou nooit kon plaasvind nie; die naelstring was twee keer om haar nekkie gedraai. Met geboorte was Janke ’n pragtige dogtertjie – ons kon nie genoeg na haar kyk nie. Sy was vir ons in elke opsig perfek en ons was dankbaar.

Namate die ure aangestap het, het ons opgemerk dat Janke fyn, rooi vlekke op haar gesiggie ontwikkel. Die pediater het dit as pasgeborene-uitslag gediagnoseer, iets wat sowat 30 persent van pasgeborenes opdoen. Hy het ons gerusgestel en gesê dat die diagnose taamlik normaal was en vinnig sou opklaar. Ons is ná twee nagte in die hospitaal ontslaan.

Huiswaarts

Sowat 10 dae later het die vlekke in geel, etterige sere op haar gesig en nek omgesit. Ons was sulke trotse en opgewonde ouers, maar dit was aaklig om – in ’n tyd wat ons eintlik wou spog met ons nuwe prinsessie aanhoudend vrae te beantwoord oor haar aaklige uitslag.

Ons kon dit later nie meer hanteer nie en was bekommerd omdat die seertjies net erger geraak het. Ons is pediater toe en hy het dadelik impetigo, ’n inflammatoriese en etterige velaandoening, gediagnoseer.

Sake versleg

Ons het glad nie verstaan waar sy hierdie infeksie opgedoen het nie, aangesien sy ná haar geboorte nie juis met ander kinders in aanraking was nie. Die twee kinders wat wel by ons kom kuier het, was blakend gesond.

Janke is in die hospitaal opgeneem en het antibiotika gekry. Ons het 48 uur hoopvol gewag dat die veluitslag verdwyn. Twee dae het drie dae geword, en drie dae het tot vier dae gestrek.

Omdat alles rondom Kerstyd gebeur het, kon ons nie ’n dermatoloog in die hande kry nie. Janke se gesiggie was geswel en ek kon sien dat dit jeuk. Sy het ’n drup in haar een handjie gehad en sy het haar gesig met dié verbinde handjie probeer krap. Dit het van die sere stukkend gemaak.

Namate die dae in die hospitaal verbygesleep het, het ons frustrasie toegeneem. Janke se gesiguitslag het nie beter geword nie en sy het net meer geslaap.

Iets ergers

Op die sesde dag in die hospitaal het ek gehoor hoe ’n verpleegster aan die pediater noem dat Janke (toe reeds 17 dae oud) se saturasie (die konsentrasie suurstof in die bloed) al ’n geruime tyd laag is en sy het voorgestel dat hulle x-strale van haar longe laat neem.

Op die x-strale het dit met die eerste oogopslag gelyk of Janke se hart vergroot is, maar die pediatriese kardioloog het toe bevind dat sy vog om haar hartjie het. Dit staan as perikardiale effusie bekend. Ons was platgeslaan en baie bekommerd oor die diagnose.

’n Pediatriese kardioloog van Pretoria het ingestem om die vog om haar hart te dreineer. In hierdie prosedure gebruik die chirurg ’n naald om die perikardiale area om die hart binne te dring en die vog deur ’n klein buisie uit te tap. In die meeste gevalle word die buisie daar gelos sodat die vog ’n paar dae lank kan dreineer.

Vir dié prosedure is Janke in die neonatale intensiewe sorgeenheid (NISE) opgeneem waar sy in isolasie gelê het. Die vog om haar hart is stelselmatig oor ’n tydperk van drie dae afgetap. Ek en Albert is nie naby die intensiewe sorg toegelaat terwyl die prosedure gedoen is nie. Ons het in die kindersaal gewag.

Op die eerste dag het die chirurg 70 ml vog verwyder. Die vog het gelukkig stelselmatig minder geword tot daar teen die derde dag niks meer oor was nie. Altesame is 100 ml gedreineer.

Ander ma’s wat in of naby die NISE was terwyl die dreineringsprosedure aan die gang was, het tot my groot ontsteltenis vertel hoe Janke gedurende die prosedures geskree en gehuil het. Dit breek ’n mens se hart.

Sy was altesaam vyf dae in die NISE. Terwyl die vog gedreineer moes word, het ek uitgemelk sodat sy met ’n bottel gevoed kon word, want ek kon haar nie met die dreineringsbuis in haar borsie borsvoed nie. Ek het snags in die kindersaal van die hospitaal geslaap om naby haar te wees.

Dit was verstommend om te sien hoe haar velinfeksie ná die dreineringsprosedure elke dag beter word, tot dit ná ’n week heeltemal verdwyn het. Ons moes ’n week later weer na die pediatriese kardioloog toe gaan sodat hy kon seker maak alles is in die haak, en sal weer gaan wanneer Janke ’n jaar oud is.

Geen antwoorde nie

Sowat R50 000 en vele toetse later (voor en ná die dreineringsprosedure) weet ons steeds nie waarom daar vog om haar hart was en sy die nare veluitslag gekry het nie.

Al die toetsuitslae was negatief, en die velinfeksie en vog om die hart is nie verwant aan mekaar nie. Ons dokter kan steeds net spekuleer en vermoed dat dit ’n virusinfeksie was. Perikardiale effusie by so ’n jong baba is glo bitter seldsaam.

Ek en Albert weet wel dat alles om ’n rede gebeur: As ons Janke nie hospitaal toe geneem het vir haar velinfeksie nie, sou die engel van ’n verpleegster nooit raakgesien het dat haar saturasie laag is nie en dan sou ons nooit geweet het sy het vog om haar hartjie nie.

Ons is dankbaar dat ons Hemelse Vader ons op die regte tyd op die regte plek en tussen die regte mense geplaas het.

As jy enige stories het wat jy graag met ons wil deel, stuur dit aan web@babaenkleuter.co.za

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees