Moet sy 'n griepinspuiting kry?

akkreditasie
Waarvoor help dit? En sal dit keer dat sy siek word? Hier's al die antwoorde.

Vraag:

My dogtertjie is nou drie maande oud en ek is vreeslik bang sy word dié winter siek. Van hoe oud af kan sy ’n griepinspuiting kry? Waarvoor help dit? Sal dit keer dat sy siek word?

Antwoord:

Die griepinspuiting is geregistreer om aan mense van ses maande en ouer gegee te word en beskerm teen griep. Dis gewoonlik doeltreffend teen die drie soorte griep wat volgens kenners in ’n spesifieke seisoen die meeste gaan voorkom.

Dit word beslis aanbeveel vir alle kinders met ’n onderliggende mediese toestand soos asma. Kinders wat in ’n dagsorgsentrum is, behoort dit ook te kry.

Wanneer kinders jonger as agt die eerste keer ’n griepinspuiting kry, moet hulle dit kry in twee dosisse, ’n maand uit mekaar. Kinders onder drie se dosis is die helfte van die volwasse dosis.

Die griepinspuiting gaan egter nie teen ander infeksies beskerm nie en sal nie keer dat jou dogtertjie siek word nie. Dit sal wel teen griep beskerm. Kinders se immuniteit is van nature laer tussen ses maande en twee jaar omdat die vlak van die teenliggaampies wat hulle via die plasenta in die baarmoeder ontvang het, tussen vier en ses maande daal en eers teen twee jaar oud weer hoër is.

Heelwat studies dui egter daarop dat dit nie noodwendig sleg vir kinders is om siek te word nie. Wees terselfdertyd versigtig vir oormatige antibiotika-gebruik want dit kan ’n rol in die ontwikkeling van allergieë speel. Goeie handhigiëne is een van die belangrikste en eenvoudigste maatreëls om infeksies by kinders te probeer voorkom.

Probeer in die winter ook siek mense vermy, asook plekke waar baie mense binnenshuis bymekaarkom.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees