MPV-entstof vir dogtertjie

akkreditasie
Dr. Gerrit de Villiers gee raad oor die MPV-entstof.

Vraag: 

My ma is aan servikskanker oorlede. Ek het iewers gelees van die MPV-inspuiting wat servikskanker kan voorkom. Word hierdie inspuitings deur die staat gegee en hoe oud moet my dogtertjie wees om dit te kry? Moet ek my seuntjie ook laat inent? Waarvoor presies help hierdie inenting en hoe werk dit?

Antwoord:

Daar is twee vaksiene in Suid-Afrika teen die menslike papilloomvirus (MPV) gelisensieer: Gardasil en Cervarix. MPV is die oorsaak van onder meer servikskanker. Wanneer jy jou gereelde papsmeer laat doen, soek die dokter tekens van servikskanker.

Daar word elke jaar sowat 6 000 vroue in Suid-Afrika met dié kanker gediagnoseer en tot die helfte van hulle sterf. Die MPV het meer as 100 verskillende serotipes waarvan veral serotipe 16 en 18 ’n rol speel by die meeste gevalle van servikskanker. Die entstowwe hierbo is albei meer as 90 persent doeltreffend teen dié twee serotipes.

Die Suid-Afrikaanse regering het in 2013 aangekondig dat die entstof gratis aan meisies in die armste 80 persent van skole verskaf sal word. Die plan is om meisies tussen nege en 10 jaar oud in te ent.

Seuns kan ook die MPV opdoen en kan onder meer anorektale en keelkanker daarvan kry, maar hulle word voorlopig nie as deel van die regeringsprogram ingeënt nie omdat die vaksien duur is. ’n Mens moet drie dosisse van die entstof oor ses maande kry.

In Australië, waar meisies tussen 12 en 13 dit sedert 2007 kry, het byna 75 persent van meisies ál drie dosisse gekry en het die voorkoms van vratte op die geslagdele (wat ook deur die MPV veroorsaak word) met byna 60 persent gedaal. In ’n neutedop: Ek sal die entstof aanbeveel wanneer jou dogter ouer as nege is.

Sy sal egter as volwasse vrou steeds gereeld ’n papsmeer moet laat doen, al is sy ingeënt. Dit is ook ’n goeie idees om seuns te beskerm deur hulle in te ent.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees