My kleuter is hiperaktief

akkreditasie
Rene Daniels, opvoedkundige sielkundige, antwoord hierdie mamma.

My seuntjie het op ses maande begin kruip en op agt maande geloop. Ek moes toe reeds by kleuterskoolonderwysers hoor dat hy hiperaktief is. Ons het hom in ’n ander kleuterskool geplaas, waar ek nou wéér moet hoor dat hy hiperaktief is. Ek wil nie my kind benadeel of sy persoonlikheid onderdruk nie. Wat moet ek doen? Hy het pas vier jaar oud geword.

Rene Daniels antwoord:

Niemand weet wat aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteurnis (AGHS) of aandaggebreksteurnis (AGS) veroorsaak nie, maar daar word gemeen dat strukturele en funksionele wanbalanse ’n belangrike rol speel.

Ons weet almal dat jong kinders oor die algemeen sukkel om stil te sit of aandagtig na opdragte te luister, en dat hulle soms hiperaktief kan wees. Kinders met AGHS se simptome is egter voor sewe jaar oud sigbaar en dit kom voor in ál hul omgewings – huis, skool, kleuterskool, ook wanneer hulle speel.

Dit is soms moeilik om hierdie simptome raak te sien, maar dit is partykeer die impulsiewe en roekelose gedrag wat uitstaan, soos dat hulle op gevaarlike plekke rondklim, voortdurend beweeg en alles uit blaker wat by hulle opkom. Swak sosiale vaardighede, min behoefte aan slaap,ongeduld, swak impulsbeheer en woede-uitbarstings is ook simptome.

Teen die ouderdom van vier of vyf het die meeste kinders geleer hoe om aandag te skenk, stil te sit wanneer hulle moet en nie net alles te sê wat by hulle opkom nie. Daar moet minstens drie eienskappe van AGHS of AGS teenwoordig wees: onoplettendheid, hiperaktiwiteit en impulsiwiteit.

Die dagdromer word dikwels misgekyk. So ’n kind ly dalk net aan AGS, en sy oorheersende simptome is onoplettendheid en konsentrasiegebrek.

AGHS is egter die algemeenste vorm waarmee kinders gediagnoseer word. Hul gedrag word net duidelik wanneer hulle in ’n gestruktureerde omgewing soos ’n kleuterskool of skool is.

Die beste ding wat jy kan doen, is om ag te slaan op die gevaartekens wat deur die verskillende opvoeders genoem is. As jy dink hulle is subjektief, kan jy jou kind gerus na ’n sielkundige of pediater neem sodat hy formeel geëvalueer kan word. Hulle sal ook vir jou riglyne kan gee oor dissipline, struktuur, roetine en organisasie.

Hulle kan die opvoeders ook help om jou kind se gedrag te beheer. Dit kan meer skade aan sy selfbeeld doen as jy nie aan hierdie simptome aandag skenk nie.

Vir eers moet jy onthou dat konsekwentheid en ferm dissipline die sleutelfaktore is wat jy onmiddellik kan implementeer. Wees dapper en doen nou wat die beste vir jou kind is.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees