Soos wat jou baba meer mobiel raak – hy leer kruip en loop op sy eie – gaan hy baie keer val, dikwels op sy kop. Jou baba se skedel beskerm sy brein en is so ontwerp dat dit die stampe en stote van sy vroeë kinderdae kan weerstaan sonder veel skade. Daar is egter tye dat ’n baba erg seer kan kry.

Weet waarmee jy te doen het

Probeer vasstel of hy sy skedel of sy brein beseer het. Jou baba se skedel is vol bloedvate. ’n Val kan dit beseer en ’n knop of bloeding veroorsaak. Dit is selde ernstig en kan maklik by die huis behandel word.

’n Breinbesering, egter, is baie ernstig en kan bloeding of harsingskudding tot gevolg hê. Bloeding op die brein word veroorsaak wanneer die bloedvate tussen die brein en skedel breek en die bloeding veroorsaak drukking op die brein. Harsingskudding word veroorsaak wanneer die brein geskud word met ’n val, en ’n verandering in die brein se normale werking veroorsaak.

Wat om te doen

Bly kalm en doen die volgende:

  • Verys die knopgedeelte deur ’n koue kompres vir 20 minute daarop te sit. Wag 5 minute voordat ’n volgende kompres vir 20 minute aangesit word.
  • Stop die bloeding deur effense drukking met ’n doek of verband.
  • Gee jou baba ’n dosis baba-parasetamol vir die pyn. Volg jou dokter se dosis-voorskrif.
  • Hou jou kind dop vir tekens van ernsige beserings of inwendige bloeding of harsingskudding.

Wanneer om bekommerd te raak

Nadat jy die stamp behandel het, kyk vir tekens van ’n ernstiger besering. Neem jou baba na die dokter of ongevalle-afdeling as jy die volgende opmerk:

  • Bewusteloosheid: Dit kan bloeding op die brein beteken, wat gevaarlik is.
  • Braking: As hy drie keer of meer opgooi, moet hy deur ’n dokter ondersoek word.
  • Verlies van balans en veranderde geestestoestand: Jou baba sal dalk effens duiselig wees ná ’n val, maar as hy omval en in dinge vasloop ná die val, neem hom dokter toe. Jy sal dit ook moet doen as hy nie op jou kan fokus nie, nie in jou oë kan kyk of op jou stem reageer nie.
  • Aanhoudende gehuil en kwaai hoofpyn.
  • Skeel of rollende oë.
  • Stuiptrekkings of onreëlmatige asemhaling oor die volgende 24 uur.

Selfs al was jou baba se val nie so erg nie, hou hom goed dop. Indien jy die volgende simptome opmerk, moet jy dadelik ’n dokter gaan sien:

  • ’n Verandering in kleur van ’n gesonde pienk na bleek of selfs blou.
  • Verandering in asemhaling.
  • Trekkings van ’n ledemaat aan een kant van die lyf.

Jou baba sal waarskynlik diep slaap ná ’n stamp teen die kop (hoe gering ook al). Los hom, tensy hy een van die simptome hierbo toon.

Harsingskudding:

Ligte harsingskudding kan tuis behandel word. Jou baba het harsingskudding indien:

  • Sy slaperig is
  • Sy duiselig is
  • Sy geïrriteer en verward is
  • Sy een of twee keer opgegooi het
  • Daar helder of bloederige vloeistof uit haar mond, neus of ore kom.

Jou baba behoort vanself van harsingskudding te herstel, maar dis miskien goed dat ’n dokter haar ondersoek om die moontlikheid van permanente skade uit te skakel.

As sy egter bewusteloos is, haar asemhaling onreëlmatig raak of sy stuiptrekkings kry, bel dadelik ’n ambulans om haar hospitaal toe te neem. As daar enige “wanneer om bekommerd te raak”-tekens is, neem haar dokter toe.