’n Miskraam word beskryf as ’n swangerskap wat vanself in die eerste 24 weke van jou wagtyd eindig, maar dit gebeur dikwels in die eerste drie maande, dus voor week 13. ’n Miskraam is die algemeenste verlies van swangerskap en een uit vyf swangerskappe eindig in ’n miskraam – soms sonder dat ’n vrou eens van haar swangerskap bewus was. Maar meestal laat ’n miskraam ’n mens met skok, hartseer, woede en verslaenheid. En dan kom die vrae ...

Wat veroorsaak dit?

Daar is al verskeie moontlike oorsake vir miskrame geïdentifiseer. Een moontlikheid is dat daar ’n fout met die samestelling van chromosome was wat verhinder het dat die fetus normaal ontwikkel. In meer as 50 persent van dié gevalle is chromosoomafwykings te blameer en in ongeveer 60 persent het die fetus ernstige ontwikkelingsafwykings. Party vroue word gebore met ’n abnormaal gevormde baarmoeder of kry uitgroeisels wat die ruimte waarin die fetus moet ontwikkel, kan beperk en die bloedverskaffing aan die baarmoeder kan ondermyn. ’n Ontoereikende serviks, oftewel een wat te ver oop is, kan ook tot ’n miskraam lei, maar gelukkig kan dokters vroeg ingryp deur ’n stekie om die serviks te plaas om dit toe te hou. Vroue met ’n chroniese siekte se kans op ’n miskraam is ook hoër. Dié siektes sluit in onbehandelde suikersiekte, ernstige nierprobleme en skildklierafwykings, of ’n oorerflike vorm van hiperstolbaarheid. Indien jy enigeen van dié toestande het, moet jy eers behandel word voor jy swanger kan raak. Siektes en aandoenings soos masels en Duitse masels, vigs, herpes en onbehandelde sifilis val ook onder die risikofaktore vir miskrame. In sommige gevalle is die bloedgroep van ma en baba onversoenbaar sodat ma teenliggaampies teen die fetus ontwikkel en ’n spontane miskraam die gevolg is. Dit gebeur egter gewoonlik later in die swangerskap en kan tot afsterwe van die baba lei en nie gewoonlik ’n miskraam nie. Ander faktore wat tot ’n miskraam kan bydra, sluit in ouderdom (vroue ouer as 40 se risiko is hoër en die man se ouderdom kan ook ’n rol speel), die aantal swangerskappe (die gevaar van miskrame verhoog ná ’n tweede swangerskap), ’n tekort aan foliensuur, die oormatige inname van kafeïen (meer as vier koppies per dag), die rook van meer as 10 sigarette per dag en die oormatige gebruik van alkohol. Nog ’n moontlike oorsaak is die gebruik van sekere middels, onder meer ibuprofeen en misoprostol (Cytotec), en natuurlik ook dwelms soos heroïen en kokaïen.

Hoe weet ek dis ’n miskraam?

Die eerste tekens van ’n dreigende miskraam kan insluit ’n bloederige vaginale afskeiding, krampe en kontraksies, buikpyn, koors en rugpyn. ’n Bloederige afskeiding is nie noodwendig ’n teken van ’n miskraam nie, maar moet verkieslik dadelik deur jou dokter ondersoek word. Wanneer ’n miskraam vermoed word, sal jou dokter ’n volledige ondersoek doen deur jou mediese geskiedenis na te gaan, gevolg deur ’n bekkenondersoek. Sy sal veral let op die grootte van jou baarmoeder om vas te stel of die serviks oop of toe is. As die serviks oop is en die miskraam begin het, kan die swangerskap nie gered word nie. ’n Sonarondersoek word ook gedoen om die welstand van die swangerskap te bepaal.

Sal ek weer ’n miskraam kry?

’n Eerste miskraam verhoog nie noodwendig die gevaar van ’n tweede een nie, tensy daar iets met die bou van jou baarmoeder skort. In die geval van veelvoudige miskrame behoort ’n deeglike ondersoek gedoen te word om vas te stel wat dit veroorsaak. Herhaalde miskrame kan onder meer op genetiese afwykings dui. Die meeste dokters beskou ’n eerste miskraam as natuurlik en beveel nie spesiale toetse aan nie. Eers ná ’n derde vroeë miskraam (voor 13 weke) word ’n oorsaak gesoek met behulp van bloedtoetse, ultraklank, biopsies en weefselontleding van die miskraam.

Wat gebeur wanneer ek ’n miskraam kry?

As jou dokter vermoed dat ’n miskraam in aanvang is, kan dit op verskeie maniere hanteer word.

  • Verdere behandeling is gewoonlik nie nodig nie omdat die baarmoeder hom self leegmaak, maar ’n skandering moet gedoen word om seker te maak alle weefsel is uitgewerp. Weefsel wat agterbly, kan ’n infeksie veroorsaak.
  • Medikasie kan toegedien word om die baarmoeder met die uitskeiding te help, maar dit het newe-effekte soos bloeding wat langer aanhou, naarheid en hoofpyn. Sowat 20 persent van vroue wat die medikasie gebruik, kan agterna steeds ’n baarmoederlediging nodig hê.
  • Vroue wat nie bereid is om Moeder Natuur haar gang te laat gaan nie of wat hewige bloeding het, kan ’n operasie kry. Deesdae word die swangerskapsprodukte uitgesuig eerder as uitgeskraap. Dit verminder die gevaar dat die baarmoeder beskadig word, met gevolglike onvrugbaarheid. ’n Ander seldsame komplikasie van so ’n lediging is dat die instrument deur die baarmoeder se wand gedruk kan word, wat ook ongewens is.

Kan ek ’n miskraam voorkom?

’n Spontane miskraam is nie iets wat beheer of voorkom kan word nie, maar daar is dinge wat jy kan doen om ’n gesonder swangerskap te probeer verseker. Maak seker dat jy ’n gesonde dieet volg wat baie foliensuur en kalsium bevat en vermy sagte kase, asook skulpkos en rou vis en vleis. Natuurlik moet jy ook van alkohol, dwelms en nikotien wegbly. Beperk jou kafeïen tot hoogstens twee koppies per dag. Gesels met jou dokter oor ’n gesonde oefenprogram en oor watter medisyne jy dalk neem wat jou baba skade kan doen. Maak verder seker dat jy ingeënt is teen siektes soos Duitse masels en vind meer uit oor oorerflike toestande in jul familie. Vermy ook spanning en sien om na jou emosionele welstand.

En wat van my gebroke hart?

As jy ’n miskraam gehad het (of jou baba dalk doodgebore is), is dit baie belangrik dat jy tyd opsysit om te rou en dit te verwerk. Moenie jou verwyt nie; die oorsaak is feitlik altyd buite jou beheer. Kenners beveel aan dat jy minstens drie maande wag voor jy weer probeer. Dit behoort jou liggaam en gees genoeg tyd te gun om te herstel. Sluit by ’n ondersteuningsgroep aan en wees positief oor jou volgende moontlike swangerskap. 

Melanie Sloet (28) van Fochville
Ek en my man het kort ná ons troue swanger geraak. Nadat ons bloedtoetse laat doen het en by die dokter was, het ons my ouers vertel. Ek het ’n oulike babagroeipakkie gekoop en die bloedtoetsvorm in ’n geskenkboks toegedraai. Ons was vreeslik opgewonde. ’n Paar dae later het ek een oggend sleg begin voel. Ek was reeds met verlof en alleen tuis. Ek was naar en het siek en flou gevoel. Ek kon niks eet nie. Ek het gedink dit was maar die swangerskap wat my so laat voel het. Deur die loop van die dag het dit net vererger en ek het my man laat weet iets is fout. Hy het vieruur tuis gekom en ons het na die naaste apteek gegaan vir raad. My dokter was in daardie stadium vol bespreek. Ek het die apteker vertel van die pyn wat ontwikkel het en al my ander simptome. Die apteker het voorgestel ons moet dadelik hospitaal toe om veilig te wees. By die hospitaal aangekom het ek hewige pyn ervaar en ’n ginekoloog is ingeroep. Ek het vir die suster gevra of ek badkamer toe kan gaan. Ek het net ’n stroom bloed gesien! Die pyn was ondraaglik en ek het begin huil en om hulp geskree. My man en die suster het ingekom en probeer help omdat ek flou wou word. Die bloeding het nie opgehou nie en die ginekoloog het my inwendig ondersoek. Ek was regtig baie emosioneel. Die ginekoloog het ná ’n minuut of twee vir my en my man gekyk en gesê: "Die sakkie is leeg." Sy woorde sal altyd by my bly. Hy het eenvoudig toe gesê: "Ons moet onmiddellik skraap; ek gaan regmaak vir teater". Ek het weer vreeslik begin bloei en my man moes in die hospitaal rondhol om toiletpapier of iets te kry om my te help skoonmaak. Ná ’n paar minute het hulle my teater toe gestoot. Sowat 45 minute later was die idee van ons baba weg. Ek was nie meer in pyn nie, my man se oë was bloedrooi gehuil en die bed was koud. Ek wil in my lewe nooit weer so iets deurmaak nie. Vir ’n eerstekeer-mamma wat niks weet nie, het ek so alleen gevoel. Die hele ervaring was aaklig. Die volgende dag het ons nog steeds see toe gery soos beplan, want ek is dieselfde aand nog ontslaan. Die see en wegkomkans het ons goed gedoen. Ons het weer swanger geraak en het vandag ’n pragtige seuntjie wat vyf maande oud is. Mamma, jy is nie alleen nie. Praat met ander, kry hulp. Dit is oukei om bang en alleen te voel.
Hey jy geweet?
Volgens nextbio.co.za, die webtuiste van die biotegno-maatskappy NextBioSciences, word meer as die helfte van eerstetrimester-miskrame deur chromosoomafwykings veroorsaak. ’n Verandering in die aantal chromosome kan lei tot ’n verandering in ontwikkeling, wat ’n miskraam kan veroorsaak. Hoewel baie van dié chromosoomafwykings sporadies is, kan party die gevaar van ’n volgende miskraam aansienlik verhoog. Next BioSciences het ’n POCScreen-toets ontwikkel wat abnormale chromosoomhoeveelhede, ’n groot verlies van genetiese materiaal of verdubbeling van chromosoommateriaal opspoor. Hierdie toets kan baie latere onnodige en duur toetse help vermy.