1. Vingers in deure

Om deur die peuterjare te kom sonder dat een van jou kinders ooit ’n vinger in ’n deur, laai of kardeur vasgeslaan het, wil gedoen wees. Hopelik is die gevolge nie te erg nie, benewens die feit dat jou kleinding sy pyn luidkeels verkondig.

  • Plaas jou kind se beseerde vinger so gou moontlik in koue water om die pyn en swelling te verminder of gebruik ’n yspak.
  • Troos en gee ’n anti-inflammatoriese pynstropie soos Ponstan.
  • Neem jou kleinding dokter toe as daar bloed onder die nael opbou wat pyn veroorsaak, as jou kind nie sy vinger reguit kan maak of kan buig nie, as die vel oopgebars het en dus steke nodig het, as dit vuil binne-in is en jy dit nie skoonkry nie, of as daar skade aan die nael self is. Jou dokter kan ’n gaatjie in die nael maak om die druk van die bloeding te verlig, wat dit minder pynlik kan maak.

Die nael sal gewoonlik ná ’n paar weke afval en ’n nuwe nael sal uitgroei, wat tot ses maande kan duur. Dis ongewoon dat die beentjies voor in die vinger breek. Indien jou kleinding se pyn egter baie erger is as wat ’n mens sou verwag, of as sy die vinger nie wil gebruik nie, kan jy gerus dokter toe gaan om seker te maak niks het gebreek nie.

2. Eier op die kop

Jou peutertjie se kop is groot en swaar in verhouding met haar lyf. Voeg daarby dat sy haar lyfie nog leer beheer en die kans is goed dat sy haar kop sal kap of op haar kop sal val. Die meeste peuter-kopbeserings is gelukkig nie ernstig nie. Selfs ’n ligte stampie op die kop kan bloeding onder die vel en dus ’n swelsel veroorsaak.

  • Draai ys in ’n vadoek toe en plaas dit op die knop. Dit sal keer dat die knop nie te groot word nie of die bestaande knop kleiner maak. Hou die ys sowat 20 minute lank daar.
  • Troos en gee ’n pynstiller soos Calpol of Panado.
  • “Jy kan onmiddellik ’n wattebolletjie met ’n bietjie vanieljegeursel sagkens op die seerplekkie druk. Dit voorkom gewoonlik dat die area blou word,” is die raad van dr. Marlene Ebersohn, ’n huisarts by Silver Lakes Intercare in Pretoria.
  • Omdat die vel op die kop meer aartjies bevat, bloei kopbeserings meer en makliker. Oefen drukking met die ysgevulde lap daarop uit tot die bloeding ophou.

’n Baie harde kopstamp kan harsingskudding veroorsaak. As jou peuter normaal en wakker voorkom, is die kans skraal dat iets ernstigs fout is. Dis egter belangrik om jou kind die volgende 24 uur fyn dop te hou om seker te maak alles is wel, aangesien die reaksie op so ’n besering soms eers later na vore kom. Tekens dat die val ernstig was, sluit in bloeding of ’n helder vloeistof wat by die ore uitloop, buitengewone slaperigheid, herhaalde braking, as jou kind sukkel om op jou te fokus en op jou vrae te reageer, as sy sukkel om haar balans te hou, of as sy ’n hoofpyn kry wat net nie wil wyk nie. Nog moontlike simptome is dat haar een pupil groter is as die ander of dat sy skielik skeel kyk. Dis gewoonlik baie ernstige tekens wat eers later voorkom.

“As jou kind dadelik haar bewussyn verloor, moet jy so gou moontlik noodhospitaal toe gaan waar ’n dokter die nodige toetse sal doen. Onthou egter dat voorkoming in dié geval baie beter is. Moet jou baba of peuter nooit op ’n werkoppervlak of tafel neersit en alleen laat nie.”

3. Snye en skrape

Maak ’n skraap of sny eers goed met water skoon, sê Marlene. “Ontsmet die wond dan met verdunde Savlon en ’n stukkie gaas. Jy kan ook louwarm soutwater gebruik as daar niks anders beskikbaar is nie.”

Maak seker dat geen vuiligheid in die wond agterbly nie. Stukkies kan met ’n haartangetjie verwyder word. Los klein skrapies oop sodat dit vinnig droog word. As die skraap op ’n plek is waar jou kind se klere dit kan skaaf, is Marlene se raad dat jy ’n ontsmettende salf soos Savlon of Betadine aansmeer en ’n groot pleister op die seerplek plak.

“Op snye wat in infeksie kan ontaard, kan jy ’n antibiotiese salf soos Neosporin of Bactroban smeer en die twee kante van die sny met ’n pleister na mekaar toe trek,” sê Marlene.

Pleisters help die wond skoon hou. Vervang dit net elke dag of wanneer dit nat word sodat die sny skoon en droog bly. Nadat ’n rofie gevorm het, is ’n pleister onnodig. Moenie dat jou kind die rofies afkrap nie.

As ’n sny baie bloei, kan jy die bloeding stopsit deur met ’n skoon verband drukking daarop uit te oefen. Hou die beseerde ledemaat hoër as die hart om bloeding te verminder. As die sny baie diep is en ná 10 minute van drukking steeds bloei, moet julle dokter of hospitaal toe gaan. “Maak jou eie drukverband by die huis deur die wond met ’n stukkie gaas en dan ’n groot pleister te bedek. Daarna kan jy ’n verband styf om die plekkie draai. Maak net seker dat die vingers of tone steeds kan beweeg en warm voel,” sê Marlene.

Neem jou peuter ook dokter toe as die sny op ’n plek is waar jy bang is dit gaan ’n letsel laat (soos die gesig) sodat die dokter steke kan insit of selfs die plekkie kan gom. Steke is ook nodig vir groot, diep snye, as die twee kante gaap, of as dit op ’n plek is waar jou kind dit bly ooptrek, soos op ’n kneukel of ’n handpalm.

Hou die sny dop sodat jy infeksie gou raaksien. Gaan dokter toe as die seerplek opswel, rooi word, ál seerder word of etter afskei, of as jou kind koors kry en haar kliere swel.

4. Tande uitgeval

Peuters is besonder kwesbaar vir beserings aan hul mond en voortande omdat hulle weens hul lompheid maklik op die gesig val. As jou peuter haar tande uitval (gewoonlik die voortande) of as een van haar tande breek, moet sy so gou moontlik by ’n tandarts uitkom. Selfs al is net die tandvleis beseer, is ’n besoek aan ’n tandarts nie ’n slegte plan nie.

  • As die tandvleis bloei, kan jy ’n stukkie gaas natmaak en dit teen die wond druk.
  • Hou die seerplek die volgende paar weke fyn dop in geval dit ontsteek. Let veral op na swelling, seerheid of koors. Bel die dokter as dié simptome voorkom.
  • Gee ’n anti-inflammatoriese koorsstropie reg ná die val.
  • As jou kleinding se tand gebreek of uit is, moet jy seker maak die verlore stukke tand of die verlore tand is nie in jou kind se mond sodat sy daaraan kan verstik of dit dalk insluk nie.
  • Plaas die stukkies tand of uitgevalde tand in ’n glas melk. Moenie aan die tandwortels raak nie. Gaan dadelik tandarts toe sodat hy die tand kan terugplaas. Marlene sê dis wys om tandarts toe te gaan as ’n stukkie tand afgebreek het, aangesien jou kind se tand hol is en infeksie maklik na die tandvleis kan versprei sonder dat jy dit eens agterkom. Gaan ook dokter toe as daar enige teken van infeksie is.
HET JY GEWEET?
By tinyurl.com/gifinligting kan jy gifinligting in Afirkaans aflaai.

5. Blootstelling aan skadelike middels

Babas en peuters is geneig om hul wêreld te verken en is dikwels gretig om aan alles te proe. So beland ongewenste produkte maklik in hul mondjies.

  • Moenie jou kind laat opgooi of enige vloeistof ingee as hy skoonmaakmiddels of gif ingekry het nie, waarsku Marlene. Neem die bottel en jou kind dadelik na die hospitaal se noodafdeling toe.
  • “As jou kind voorskrifmedisyne of vitamienaanvullings ingekry het, kan braking wel aangebring word, mits jou kind wakker is,” sê Marlene. As jou kind nie meer wakker is nie, moet jy die ambulansdiens onmiddellik bel. Onthou om die medisyne of botteltjies saam hospitaal toe te neem. Jou KPR-opleiding sal in so ’n geval ook nuttig te pas kom.

Daar is verskeie gifinligtingshulplyne dwarsoor Suid-Afrika be-skikbaar, soos Netcare Gifinligtingsentrum by 086 155 5777 of AfriTox s’n by 0860 555 777. So ’n ongeluk kan natuurlik maklik vermy word deur alle gevaarlike vloeistowwe en medisynes te bêre waar klein handjies dit nie kan bykom nie.

6. Oogbeserings

As jou kind iets in haar oog het, probeer haar kalmeer sodat jy kan sien hoeveel skade aan die oog is.

  • As sy nie haar oog kan oopmaak nie, moet jy haar dadelik na die hospitaal se noodafdeling neem.
  • Moenie die oog oopdwing nie.
  • Bedek albei oë met ’n skoon doek of gaas en draai ’n verband om jou kind se kop. Moenie op die voorwerp druk nie en pasop dat jy dit nie dieper in die oog druk nie.

Verwyder stof en sand uit jou kind se oog deur dit met baie water uit te spoel. “Jy kan maar kraanwater gebruik, want as daar ’n infeksie ontstaan kan dit behandel word. Dis belangriker om die irritant uit die oog te spoel,” sê Marlene.

Kantel jou kind se kop sodat die seer oog na onder wys en hou jou kind se oog oop. Giet dan ’n klein bietjie koue water in haar oog, verkieslik met ’n medisynespuitjie. As dit nie met die eerste probeerslag uitspoel nie, moet jy liewer mediese hulp inroep. Marlene sê dit bly ’n goeie idee om die beseerde oog te laat evalueer ingeval die kornea skade opgedoen het wat nie met die blote oog sigbaar is nie.

7. Brandwonde

Of jou kind nou deur ’n kers vlam of ’n kooltjie by die braaivleisvuur gebrand is – dit bly baie seer. Moenie botter op die brandwond smeer nie; dit verhoog die gevaar van infeksie en kan die seerplek selfs vererger.

Ligte brandwonde:

’n Eerstegraadse brandwond behoort binne ’n paar dae gesond te word en word gekenmerk deur ’n rooi, seer, droë plek sonder blase.

  • Ligte brandwonde behoort dadelik onder koel lopende water gehou te word. Marlene se raad is ook dat jy nie ys op die brandwond plaas nie omdat dit alles ook kan vererger.
  • ’n Koel gaaslappie kan 10 tot 15 minute lank op die wond gehou word.
  • Gee jou kleinding ’n anti-inflammatoriese pynstropie soos Ponstan om haar pyn te help verlig. Burnshield se Hydrogel kan ook verligting bied vir klein brandwonde.

Tweedegraadse brandwonde:

  • As die brandplek blasies vorm, is dit ’n tweedegraadse brandwond en moet jy haar dokter toe neem.
  • Moenie die blasie stukkend steek nie. Neem jou kind dadelik dokter toe as die brandwonde groot en ernstig is.

En dan is daar natuurlik die skel Afrikason, wat velletjies sommer baie lelik kan brand. Wees op die uitkyk vir enige teken van infeksie soos kwaai pyn, swelling, rooiheid, etterigheid, ’n slegte reuk, rooi strepe wat van die wond af versprei, geswelde kliere of koorsigheid wat op tweedegraadse brandwonde dui. Neem jou peuter dadelik dokter toe as jy sulke simptome gewaar. Gee jou kind ook genoeg vog in omdat jy baie vog deur die stukkende plekkie op sy vel verloor.

8. Bytplekke

Die byte wat peuters uitdeel is gewoonlik nie ernstig nie en dring meestal nie deur die vel nie. In so ’n geval kan jy die vel net mooi skoon was en jou peutertjie troos en ’n pynstropie gee.

Volgens Marlene bly wondsorg die hoeksteen van behandeling as die vel stukkend is.

  • “Dit is belangrik om die wond met baie water uit te spoel.
  • "Dit kan daarna met verdunde Savlon of soutwater skoongemaak word en ’n antibiotiese salf soos Neosporin of Bactroban kan aangewend word.”
  • Gaan liefs dokter toe as die bytplek sleg lyk, al veroorsaak net 10 tot 15 persent van menslike bytwonde ’n infeksie.

Die ligging van die bytplek kan ook die kans op infeksie bepaal. ’n Bytplek op die hande ontwikkel byvoorbeeld makliker ’n infeksie as ’n bytplek op die arm. Jou dokter sal antibiotika voorskryf afhangende van die erns van die bytwond en ook sê of ’n klem-in-die-kaak-inspuiting nodig is. Gelukkig is die meeste kinders reeds immuun teen klem-in-die-kaak mits hul immuniseringskedule op datum is. As jou kind se immunisasie nie op datum is nie, kan hy dalk ’n versterker nodig hê. Klem-in-die-kaak-inspuitings is vyf jaar lank geldig.

“Nie alle bytwonde het antibiotika nodig nie. Antibiotika word gewoonlik net voorgeskryf indien die wond ’n groot gevaar loop om te ontsteek, soos wanneer daar ’n gewrig betrokke is of as die wond baie diep is. As niks deur die vel gedruk het nie, is antibiotika nie nodig nie,” verduidelik Marlene. As die bytwond enige teken van infeksie toon soos swelling, rooiheid of etterigheid, of as dit buitengewoon warm voel of koors veroorsaak, moet julle liefs dokter toe gaan. 

Belangrik: KPR

As jy KPR kan toepas, kan jy jou kind se lewe red. Wanneer jou kind ophou asemhaal, is elke sekonde goud werd. Dit is dus noodsaaklik om ’n noodhulp- en KPR-kursus te voltooi. Moenie dink jy kan KPR leer deur ’n YouTube-video te kyk of ’n boek daaroor te lees nie. Dis belangrik om dit te oefen terwyl ’n opgeleide afrigter jou wys hoe.