Om uit te haal of nie?

akkreditasie
Dis een van die algemeenste operasies en dikwels kinders se heel eerste kennismaking met die hospitaal. Maar wanneer moet jou kind se mangels regtig uitgehaal word?

Mangeloperasies is niks nuuts nie. Die eerste een is omtrent 2 000 jaar gelede al uitgevoer, sê die Bloemfonteinse oor-neus-keel-arts dr. Johan Grobbelaar.

“Vandag word die mangels van een uit elke agt kinders in Amerika na raming uitgehaal. Driekwart van dié operasies word uitgevoer weens klagtes oor versperrings in die keelkanaal.” Hier in ons land is die grootste rede vir mangeloperasies nie versperrings nie, maar herhaalde mangelontsteking, sê Johan.

Hy meen egter ons behoort meer aandag te skenk aan kinders met obstruktiewe probleme, dus kinders wie se mangels so groot is dat dit die keel versper.

Wat is obstruktiewe simptome?

Kinders wat snork, oopmond slaap en soms hul asem vir rukkies ophou terwyl hulle slaap (dit staan bekend as slaapapnee) het almal obstruktiewe simptome. Nog ’n teken kan wees dat kinders ’n swak dieetpatroon het, soos dat hulle hoofsaaklik sagte kos wil eet – dit kan beteken daar is ’n versperring in hul oor-, neus- of keelkanaal.

“Kinders met dié probleem sal byvoorbeeld vaste kos soos vleis kou en dit dan uitspoeg,” sê Johan.

As obstruktiewe simptome nie wyk nie, kan dit konsentrasie-, gedrags- en emosionele probleme veroorsaak. Dis egter baie moeilik om obstruktiewe probleme te diagnoseer, veral as iemand jonger as vyf is.

Maar daar is genoeg bewyse vir ’n verband tussen die simptome van vergrote mangels en onder meer leerprobleme, sê Johan.

’n Onlangse studie wat die Childhood Adenotonsillectomy Trial (CHAT) genoem word, het gewys die gedrag en lewensgehalte van kinders wie se mangels en neusmangels (adenoïede) verwyder is, het merkbaar verbeter.

Ander moontlike gevolge van obstruksie in die keel- en neuskanaal sluit in bed natmaak, dagslapery en fisieke veranderinge aan die middelste deel van ’n kind se gesig soos uitstaantande, ’n lang gesig en ’n hoë verhemelte.

Geswelde mangels kan duidelik nie onderskat word nie, maar dis nie die enigste of die belangrikste rede waarom ’n kind se mangels en/of neusmangels uitgehaal behoort te word nie.

Hieroor word mangels ook uitgehaal

Dokters oorweeg gewoonlik mangelverwydering as iemand meer as ses infeksies per jaar kry, of meer as drie per jaar twee jaar ná mekaar.

“ ’n Mens moet ook die graad van ontsteking, die reaksie op behandeling en die lewensgehalte van die kind (soos hoeveel dae hy van die skool afwesig is) in ag neem,” sê Johan.

Nog ’n rede vir ’n mangeloperasie is ’n voortdurende slegte asem wat deur mangelstene veroorsaak word. Mangelstene ontstaan wanneer stowwe soos slym en selle in die mangelholtes (diep inhamme in die mangelweefsel) vasval en verhard of verkalk.

Dis iets wat meer grootmense as kinders oorkom, maar kinders kan dit ook opdoen.

Kinders met herhaalde oorsiektes kan ook by die uithaal van hul mangels en/of neusmangels baat, sê Johan.

Nog redes vir mangeloperasies sluit in as koorsstuipe deur mangelontsteking veroorsaak word, as absesse in die mangel ontstaan en die voorkoms van ’n soort mangelbakterie wat nie met antibiotika uitgewis kan word nie.

Ander oorwegings is rumatiekkoors of ander hartklepsiektes, ’n sekere niersiekte en moontlike kanker in die mangelweefsel.

Johan beklemtoon egter dat nie een van die oorsake hierbo belangriker as die ander is nie.

Hoewel elkeen van ons se klagte vir ons self belangrik is, bly die belangrikste oorweging vir ingryping dat potensieel lewensgevaarlike komplikasies voorkom moet word. Dit sluit in asemnood, hartklepsiektes en die vermoede van kanker.

Wanneer is my kind oud genoeg vir 'n operasie?

’n Operasie moet oorweeg word as die rede daarvoor groter is as die moontlike gevare van die operasie, sê Johan. As jou kind byvoorbeeld aan ’n toestand soos apnee ly, moet daar opgetree word, ongeag sy ouderdom.

Hoe jonger jou kind is, hoe groter moet die rede vir die operasie wees. Amerikaanse navorsing wys dat daar in uiterste gevalle vanaf 12 maande geopereer kan word. Dis egter die uitsondering eerder as die reël.

’n Mens moet ook die infrastruktuur van die hospitaal in ag neem. Stel vas of daar ’n narkotiseur is wat gereeld met kinders werk, ’n pediater en goeie saalsorg, is Johan se raad aan ouers met kinders wie se mangels op ’n baie jong ouderdom verwyder moet word.

Wat is die gevare?

Enige operasie kan komplikasies hê. Met die verwydering van mangels en neusmangels is die geraamde voorkoms van sterftes wêreldwyd 1 uit 30 000, sê Johan.

Ongelukkig is daar nie soortgelyke akkurate syfers vir Suid-Afrika nie.

“Ouers moet bewus wees van die algemene gevare en die potensieel ernstige en lewensgevaarlike komplikasies. Wees ook baie bedag op die moontlike risiko dat jou kind agterna te veel pynmedikasie ingegee word,” sê hy.

In ’n onlangse studie is gevind dat die algemeenste rede vir sterfte ná die verwydering van mangels en/of neusmangels verband hou met die oordosering van medikasie eerder as bloeding.

“Bloeding van die rou mangelbed kom voor in 1 tot 10 persent van gevalle en kan dae ná die operasie nog plaasvind,” sê Johan. “Kom so gou moontlik met jou dokter in aanraking as so iets gebeur.”

Soms kan lug agter die sagte verhemelte deur die neus begin lek, maar dit is ’n seldsame komplikasie. Dit veroorsaak dat ’n mens se stem vreemd en swak klink en kan ook eetprobleme meebring. Gelukkig kom dit in die meeste gevalle vanself reg.

In uiterste gevalle kan ’n mens ook met chroniese pyn in die keel ná ’n operasie sukkel.

Vrae en feite

Kan mangels teruggroei?

Ja, hulle kan. Die oor-neus-keelspesialis dr. Johan Grobbelaar verduidelik dat hoewel jou mangel in ’n kapsel is, die onderste deel soms aaneenloop met die klierweefsel onderaan die tong.

Daar is ook wyd verspreide klierweefsel oral op die slymvliesoppervlaktes in die mond en keel. Soms begin hierdie weefsel vergroot en vul dan die spasie waar die mangel uitgehaal is, wat dit laat lyk of die mangel teruggegroei het.

Dieselfde geld vir die neusmangels. As so iets met jou kind gebeur, behoort jul dokter eers te kyk hoekom dit gebeur het voor enige ander ingryping plaasvind. Pasiënte word baie selde weer geopereer.

Het mangels 'n bestaansreg?

Ja. Naas die vel is mangels die eerste verdedigingslinie van ons liggaam. Hulle probeer virusse en bakterieë wat die liggaam binnedring opvang en na die limfstelsel vervoer, waar die immuunstelsel die laaste slag moet toedien.

Soms is daar egter ’n gaping in die mondering en word die mangels self met die bakterie of virus besmet. Dit veroorsaak swelling, rooiheid, pyn en soms wit of rooi spikkels op die mangels. Dan sukkel die mangels om meer ingewikkelde organismes te stuit.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees