Kosmaak, warm maak, skoonmaak, mooimaak. Al hierdie doodgewone dinge kan skadelike stowwe in jou huis vrystel wat jou gesondheid kan knou.

Op kort termyn kan dit ’n allergiese reaksie wees wat nie veel van verkoue verskil nie. Die enigste manier waarop jy weet dis nie verkoue nie, is as die simptome (neus of oë wat jeuk, nies, hoofpyn) verdwyn sodra jy jou huis verlaat.

Maar op lang termyn kan besoedelende stowwe long- en hartkwale en selfs kanker tot gevolg hê.

Ons verdeel hierdie stowwe in twee groepe: biologies (dit lewe of het in ’n stadium gelewe, soos stofmyte) en nie-biologies (soos rook).

Kom ons bekyk dié sondaars van nader.


BIOLOGIESE GEVARE

Huisstofmyte

Hierdie goggas is kleiner as stofdeeltjies en kom voor in matte, gestoffeerde meubels, matrasse en sagte speelgoed, om maar ’n paar gunsteling-blyplekke te noem. Hulle leef, grillerig genoeg, van jou velskubbe en skei dit later uit. Daardie uitskeidings sweef dan soos ’n onsigbare wolk in jou huis rond en veroorsaak allergiese reaksies.

Volgens die Amerikaanse asma-en- allergie-vereniging is stofmyte die hoofoorsaak van allergiese toestande soos asemhalingsprobleme, ooginfeksies, asma, hooikoors en ekseem.

Wat kan jy doen? Myte gaan nooit heeltemal verdwyn nie, maar jy kan tog keer dat hulle jou huis oorneem. Hier is wenke:

  • Herstoffeer jou ou meubels en stofsuig jou matte, gordyne en matrasse gereeld – verkieslik met ’n goeie stofsuier wat die vermoë het om stof werklik op te suig en dit nie net weer terug in die lug blaas nie. Die beste keuse is ’n stofsuier wat deur water filtreer of een met ’n HEPA-filter (dit staan vir high-efficiency particulate air). Hou deure en vensters oop terwyl jy stofsuig.
  • Skaf spesiale kussing- en matrasbeskermers aan wat adverteer dat hulle teen stofmyte bestand is. Onthou egter dat myte steeds in jou duvet en kombers kan aanteel; was laasgenoemde dus gereeld.
  • Koop ’n goeie huisstofsproei soos Mite Free. Dié handelsnaam maak onder meer ook ’n kussingsproei en sy produkte is deur die SABS goedgekeur vir klaarspeel met stofmyt-allergene. Volgens Avin Levy, uitvoerende hoof van die Johannesburgse onderneming SoPure wat die produk vervaardig, kan dit met ’n geruste hart naby kinders gebruik word. Avin beveel ook aan dat jy jou kind se sagte speelgoed gereeld met die Mite Free-spoelmiddel was. Die middels maak nie die myte dood nie, maar maak dit onskadelik vir mense.
  • Vermy die gebruik van ’n bevogtiger in jou kind se kamer, want stofmyte hou – nes muf – van ’n lekker vogtige omgewing. As jou kind ’n toe bors het en jy ’n lugbevogtiger moet gebruik, skakel dit vir korter rukkies aan.
  • Was beddegoed in baie warm water (hoër as 60 grade Celsius).
  • Installeer ’n lugsuiweraar.

Kakkerlakke

Baie mense is allergies vir die speeksel en liggaamsdele van kakkerlakke. Die simptome ontstaan ook in die asemhalingstelsel.

Wat kan jy doen? Wees op die uitkyk vir die kalante – hulle bly graag naby kos en water – en maak hulle onmiddellik van kant as jy hulle sien. Dooie kakkerlakke kan net so baie skade aanrig as lewendiges, want die allergene verdwyn nie as die gedierte dood is nie. Moet hulle dus nie net doodspuit en daar los nie.

Dit is die speeksel van troeteldiere waarvoor mense allergies is.

Troeteldiere

Dierbare Sokkies of Wagter kan ook verantwoordelik wees vir allergieë, veral die asmatiese soort. Tot 6 persent van mense is allergies vir kat se kind.

Dit is egter nie die hare van die troeteldiere waarvoor mense allergies is nie, maar die speeksel. Dié beland op die diere se hare as hulle hulself lek. Die oplossing?

  • As jou kind baie allergies is, moet julle liefs van jul troeteldiere ontslae raak, of ten minste nie die diere in sy kamer toelaat nie.
  • Bad jul diere ten minste een keer per week.
  • Probeer om die diere van jul matte en gestoffeerde meubels af te hou.
  • Koop ’n spesiale sproei wat die chemiese samestelling van die allergeen verander.
  • Installeer ’n lugsuiweraar.

Hou allergene in toom

Allergene is die naam vir stowwe wat allergieë veroorsaak. Al die allergene in jou huis kan jou liggaam uitput, want elke keer as jy daarmee in aanraking kom, produseer jy histamien. As dit die heeltyd gebeur, vind daar ’n oorproduksie van histamien plaas. As jou liggaam dan in aanraking kom met ander allergene, virusse of bakterieë wat ’n groter gevaar vir jou gesondheid inhou as stofmyte, kan jou immuunstelsel dit nie so doeltreffend hanteer nie omdat jy gedurig ander klein oorloggies moet voer. Dit maak dus sin om die minder skadelike allergene in jou huis in toom te hou.

Muf

Daardie benoude reuk in toe vertrekke, kelderverdiepings of badkamers met klein vensters kan skadelik vir jou gesin wees.

Swamme of skimmel (wat albei sinonieme vir muf is) kan in jou lugversorger leef of ongesteurd op ’n klam plek onder ’n mat of agter ’n kas groei.

En jy hoef nie naby die see te woon om met muf te sukkel nie. Muf kan amok maak in enige huis waar daar nie genoeg ventilasie is nie. Hoekom? Want julle asem die muf-spore in.

Wat kan jy doen?

  • Sorg vir ordentlike ventilasie in al die vertrekke in jou huis.
  • Installeer ’n toestel wat die lug in jou huis suiwer.
  • Vermy dit om jou kind te laat slaap in ’n kamer wat die geringste teken toon dat daar skimmel is, al is dit net binne-in ’n kas.
  • Hou jou tuimeldroër buite die huis as dit nie ’n meganisme bevat wat die warm lug buitentoe kan blaas nie.
  • Gebruik ’n sproei soos Mite Free om die skadelike spore van die skimmel te neutraliseer.
  • Wees op die uitkyk vir daardie harige swart spikkels, veral ook op huisplante.
Roep die dokter
As jou kind tot allergie geneig is, moet jy liefs die pediater vra om ’n antihistamien voor te skryf. Om vas te stel of jou kind vir iets allergies is, kan die dokter ’n velprik- of bloedtoets uitvoer. Só kan julle dan jul bes probeer om spesifieke allergene te vermy. Immuunterapie is nog ’n plan met allergieë, maar nie vir kinders jonger as vyf jaar nie. Dié behandeling word in die vorm van ’n inspuiting toegedien en is volgens die webtuiste van die Suid-Afrikaanse Allergievereniging (www.allergysa.org) net vir mense wat baie ernstige allergiese reaksies het teen onder meer huisstofmyte, stuifmeel en bysteke.


NIE BIOLOGIESE GEVARE

Tabakrook

Daar is ’n baie goeie rede waarom dit teen die wet is om op openbare plekke te rook. Dis skadelik vir ander mense en kan net soos eerstehandse rook long- en ander soorte kanker veroorsaak. Waarom dan in jou eie huis die lug met rook besoedel?

Die gasse van sigaretrook gaan sit in jou matte, gordyne en selfs in die vrugte in jou vrugtebak.

In die een of ander stadium word dié rook deur jou huismense ingeasem en dit kan veral kinders se lugweë skade berokken.

Ftalate en karbolsuur

Dis moeilik om uit te spreek, maar sluip jou huis maklik binne. Ftalate is een van die algemeenste skadelike chemikalieë in ons huis en kom voor in skoonmaakmiddels en baie plastiekprodukte. Dit kan ook in jou kind se viniel-speelgoed skuil. Ftalate versteur die hormone van mense en moontlik ook ongebore fetusse.

Wat kan jy doen? Vermy produkte wat viniel bevat en alle huishoudelike skoonmaakmiddels wat ’n kunsmatige lekker reuk het.

Karbolsuur

Karbolsuur is ’n bestanddeel van die meeste ontsmettingsmiddels en waspoeiers en kan, as jy sensitief daarvoor is, onder meer asemhalingsprobleme veroorsaak.

Wat kan jy doen? Kyk uit vir die bestanddeel se naam in produkbeskrywings. Kenners waarsku ook dat ’n mens nooit verskillende soorte skoonmaakmiddels moet meng nie, veral nie dié wat bleikmiddels bevat nie. As chemikalieë verbind, word gevaarlike gasse gevorm en vrygestel. En natuurlik moet jy skoonmaakmiddels buite die bereik van jou kinders bêre.

Asbes

Voor die jare 80 is asbes algemeen as ’n isolasiemateriaal in huise gebruik. Vra ’n kenner om ondersoek te kom instel in jou huis as dit tussen die 1920’s en 1980’s gebou is, want asbes kan skadelik vir julle almal se gesondheid wees.

Dink egter mooi voor julle materiaal wat asbes bevat wil laat verwyder. As die materiaal in ’n goeie toestand is, is dit waarskynlik skadeloos en as dit verkeerd verwyder word, kan dit veel meer skade aanrig.

Daar is nie onmiddellike simptome van asbesvergiftiging nie. Mettertyd kan dit egter tot kanker of longkwale lei.

Lood

Soos asbes is lood ook ’n potensieel skadelike stof wat ’n paar dekades gelede algemeen in ons huise voorgekom het omdat die meeste verf baie daarvan bevat het. Die proses om loodverf te laat verwyder is byna gevaarliker as om dit op die mure te los. Maak dus seker jy kry ’n kundige se mening voor jy enigiets doen.

Lood skuil ook in stof, veral dié wat op vensterbanke versamel. Dit kan ook op legkaarte, boublokkies en plastiekspeelgoed of -borslappe wees.

Wat kan jy doen? Hou jou kinders se leef-, leer en speelruimtes en veral hul geverfde speelgoed skoon en stofvry. Die Mediese Navorsingsraad sê ook dat ’n klam lap meer doeltreffend is om vloere mee skoon te maak as ’n besem of ’n stowwer.

Ander potensieel gevaarlike stowwe in jou huis sluit in goedkoop houtprodukte soos laaghout (plywood) en veselbord.

Raak ook sommer vandag ontslae van alle motballetjies. Dit hou dalk die insekte van jou weggepakte klere en komberse weg, maar kan jou kinders se gesondheid benadeel. Gebruik liewer veilige beskerming teen insekte soos droë laventel- of kerriebostakkies.

Probeer ook die gebruik van alle ander plaagdoders beperk, of gebruik dit ten minste soos die vervaardigers aandui jy moet en maak deure en vensters oop as jy dit binnenshuis moet gebruik.

Koolstofmonoksied

Jou gasstoof, -verwarmer of -kaggel kan hierdie dodelike gas afskei sonder dat jy dit eens agterkom omdat dit reuk- loos is.

Kenners sê die enigste teëvoeter is om seker te maak daar is altyd genoeg ventilasie in vertrekke waar hierdie toestelle aan’t werk is, en om die toestelle gereeld te laat nagaan.

As jy werklik besorg is, kan jy ’n koolstofmonoksied-alarm in jou huis laat installeer wat gedurig die vlak van hierdie gas monitor.

Lood kan selfs in ou legkaarte, boublokkies of borslappe wees.

Wat van bestraling?

Alle elektroniese toestelle stuur strale uit. Hoewel die soort bestraling waaraan gewone mense daagliks blootgestel word baie min en waarskynlik onskadelik is, kan aanhoudende bestraling van verskeie elektromagnetiese golwe tog op lang termyn jou en jou kinders se gesondheid aantas.

Wat jy kan doen?

  • Dit kan skadelik wees om te woon in ’n huis wat na aan kragdrade (minder as 150 m) of ’n selfoonmas (minder as 300 m) is. Jy hoef nie slapelose nagte daaroor te hê nie, maar as jy weer huis koop, is ”hoe verder van drade, hoe beter” ’n goeie riglyn.
  • Die strale van selfone en mikrogolf-oonde hou nie te veel gevaar in nie, maar leer jou kinders om nie reg langs die mikrogolfoond te staan of deur die deurtjie te loer nie.
  • Dis veral vir kinders ’n goeie plan om nie heeldag en aldag met ’n selfoon langs die oor te loop nie.
  • Bestraling uit rekenaars en televisiestelle is nie iets om jou oor te bekommer nie. Leer egter jou kinders om nie vir te lang tye voor die rekenaar of televisie te sit nie.

Suiwer die lug

Spesifieke binnenshuise plante en kruie soos roosmaryn en laventel kan glo help om die lug in jou huis skoon te hou.

Lugsuiweraars help ook om lug met stofmyte, rookwalms en giftige gasse skoon te maak.

Hulle werk op verskeie maniere, lyk soos lugverkoelers en kos vanaf omtrent R3 000. Volgens vervaardigers gebruik hulle ook nie te veel elektrisiteit nie.

Kenners beveel dit aan vir huise met kinders, ouer mense en mense met allergieë of asma.

Vra dié vrae as jy een wil koop:

  • Hoe groot is die gebied wat die suiweraar dek?
  • Hoe gereeld kan die suiweraar al die lug in ’n vertrek in skoon lug omskakel?
  • Hoeveel elektrisiteit gebruik dit?
  • Hoeveel kos ’n nuwe filtreerder of gloeilamp en hoe gereeld moet dit vervang word?