Ek het net voor my baba se geboorte 88 kg geweeg en weeg nou 70 kg. My baba is nou ses maande oud. Ek het in my swangerskap net 8 kg aangesit en verloor dus ou vet waarmee ek voor my swangerskap al gesukkel het. Ek spot en sê my baba eet die ou vet weg. Ek borsvoed my kind en eet alles wat my oë sien! My pa sê hy het nog nooit so iets in sy lewe gesien nie. Ek het tydens my kraamverlof so 5 km per dag met my baba gaan stap, maar noudat ek terug is by die werk, is dit moeilik om tyd vir oefen te kry. Dus is ek elke dag dankbaar dat ek kan borsvoed.

Ruzelle Swanepoel van Pretoria, Gauteng.

Ek het op 33 jaar oud uitgevind ek verwag ’n tweeling – my eerste swangerskap. Ek het in daardie stadium omtrent 57 kg geweeg en met hul geboorte op 37½ weke was ek 72 kg; ek het dus altesaam 15 kg aangesit. Ek het wel die laaste ruk baie water teruggehou en veral my voete en bene was erg geswel. Ek het ’n wonderlike (maar baie streng) ginekoloog en hy het met elke besoek daarop aangedring dat ek nie vir twee (of in my geval drie) moet eet nie, maar dat ek gesond moet eet en baie moet rus. Met my derde besoek het ek volgens hom te veel gewig aangesit. Gelukkig het ek dit snaaks gevind en nie aanstoot geneem nie, maar ek het sy raad gevolg en regtig gesond probeer eet en lewe. Ek het ná hul geboorte binne twee maande al my swangerskapsgewig verloor en weeg vandag ’n paar kilogram minder as wat ek voor die swangerskap geweeg het. Ek skryf dit maar toe aan min slaap, agter die kinders aan hardloop, heeltyds werk, soms vergeet om te eet en dat ek elke aand om 21:00 vir die eerste keer stilsit – en dan net hoop my een seuntjie word nie meer as twee keer die aand wakker nie.

Die meeste ma’s se geheim is borsvoeding en besig bly.
Shirley Meyer van Kaapstad, Wes-Kaap.

Ek glo nie aan dieetfoefies en pille nie! Ek het verkeerde goed soos koeldrank uitgeskakel. Ek het ook skyfies en lekkergoed en alle ander sondaars uitgeskakel. Ek vervang deesdae brood met Provita, maar eet darem af en toe ’n stukkie koek! Ek probeer my grootste maaltyd van die dag in die middag eet, en eet deesdae al my maaltye op ’n klein bordjie of in ’n kleiner bakkie. Dit maak regtig ’n verskil. Ek het met albei my swangerskappe 80 kg geweeg, maar weeg nou weer 60 kg.

Ilse van Heerden van Despatch, Oos-Kaap.

Ek het nie veel gedoen nie. Ek hou daarvan om aan die gang te bly en ons gaan stap graag as gesin. Maar daardie laaste 5 kg wil soos gewoonlik net nêrens heen nie!

Rochellé Hodson van Nigel, Gauteng.

Ek borsvoed my baba. Hy is nou vier en ’n half maande oud en ek weeg nou baie minder as voor my swangerkap met hom!

Marna du Toit van Paarl, Wes-Kaap.

Ek het met my swangerskap 23 kg aangesit. Ek het 60 kg geweeg toe ek swanger raak. Ek het ná 12 weke al 9 kg aangesit. Ek het nie eens baie geëet nie, want ek was naar tot amper ses maande van swangerskap. Met my ontslag uit die hospitaal ná die geboorte het ek reeds 6 kg minder geweeg. Ek het ná omtrent vyf maande ál die gewig wat ek aangesit het, verloor sonder om enigsins ’n dieet aan te pak. Ek het wel geborsvoed en besig gebly. Ek doen al my eie huiswerk, tuinwerk en wasgoed. Dus het ek tydens kraamverlof glad nie stil gesit nie. 

Evette Grobler van Bethlehem, Vrystaat.