Die wetenskap het bewys dat stres vrugbaarheid kan aantas. Sowel die eiertjie as die gehalte van die eier kan aangetas word, asook die produksie en gehalte van die sperm, sê dr. Chris Venter, ’n spesialis-ginekoloog by die Vitalab-sentrum in Johannesburg.

Drie soorte stres

Drie soorte stres kan ’n invloed op jou vrugbaarheid hê, sê Chris: emosionele, fisieke en omgewingstres. “Stres by mans en vroue is presies dieselfde,” sê hy. Nuwe inligting wys dat jou ovulasiesiklus aangetas kan word deur die fisieke stres wat volg as jy so baie ure per dag werk dat dit jou slaappatroon beïnvloed. Dit verminder ook die kans vir suksesvolle inplanting, en daar is ’n verband met die verhoogde risiko vir ’n miskraam. Veeleisende oefening – soos as jy ’n driekampatleet is wat vir die Ironman oefen – kan dieselfde gevolg hê. “Ons sê oefening is goed, maar daar is perke,” sê Chris. Studies wys dat vroue wat in vitro-behandeling ondergaan terwyl hulle baie gespanne of terneergedruk is, eiertjies van ’n swakker gehalte produseer. En selfs al is die eiertjies van ’n goeie gehalte, is daar ’n kleiner kans dat die bevrugte eiertjie suksesvol in die baarmoeder inplant.

Raak hiervan ontslae

Omgewingstresfaktore sluit in rook, alkohol, uitermatige koffieinname en enige ontspanningsdwelms. Dit alles kan die gehalte van sowel eiers as sperm aantas, asook die kans vir ’n suksesvolle implantasie. Rook is trouens ’n groot faktor as dit kom by die afname in implantasie, vrugbaarheid en die gehalte van eiers. Hou dus op rook as jy swanger wil raak! Dieselfde geld vir vetsug. Die vetsuurvlak van jou bloed tas die produksie en gehalte van sperm en eiertjies aan en beïnvloed implantasie, sê Chris. As jy aansienlik oorgewig of vetsugtig is, probeer dus om jou gewig tot binne die aanbevole grens te bring.

Beproef alternatiewe metodes

Jy kan gerus ook aanvullende metodes beproef om jou stres te verlaag en so jou vrugbaarheid te verhoog, sê Chris. Hy stel joga voor, en selfs akupunktuur. “Wat jou ook al help, is voordelig. Akupunktuur is baie omstrede, maar daar is bewyse dat dit kan help. As dit jou help om meer bemagtig te voel, is daar geen skade in om dit te beproef nie.” Daar is eindelose navorsing oor hoe belangrik slaap vir jou algehele gesondheid is, hoewel persoonlike behoeftes verskil. “Goeie slaapgewoontes soos om elke aand dieselfde tyd bed toe te gaan, helder skermtoerusting vir ’n paar uur voor slaaptyd te vermy en in ’n warm bad te ontspan, lê die fondament vir ’n goeie nagrus. Vermy ’n swaar aandete en kafeïendrankies voor slaaptyd,” is die raad van dr. Jana Rossouw, ’n ginekoloog en verloskundige by Tygerberg-hospitaal in Kaapstad.

Raak kreatief

Wanneer ons gespanne is of hard na ’n doelwit toe werk, verwaarloos ons ander lewensaktiwiteite. Dit verhoog weer ons stres, sê die Johannesburgse kliniese sielkundige Jeanine Lamusse. As jou werk baie linkerbreingerig is, is dit belangrik om aan meer kreatiewe regterbreinaktiwiteite deel te neem. Eenvoudige dinge soos kuier saam met vriende, kuns (soos inkleurboeke vir volwassenes), dans of bewegingsterapie, selfs ’n massering kan jou help om meer met jou liggaam in aanraking te kom, sê Jeanine.

Leef bewustelik

As jy bewus van jou fisieke omgewing bly en regtig aandag aan die hier en nou gee, kan dit jou help om stres te verminder en te bestuur. Dit kan jou ook help om negatiewe gedagtes ’n positiewe kinkel te gee, sê Jeanine. “Dit help jou om aandag te gee aan wat jy in die hede kan beheer.” Dit is bevrydend om van dinge te vergeet wat jy nie kan beheer nie (al is dit soms baie moeilik), want dit gee jou die kans om al hierdie energie te rig op die dinge wat jy kán bereik, sê Jeanine. Maar soms kan bewustelik lewe ’n mens meer angstig maak, waarsku sy. “Dis gewoonlik omdat dit sake uitlig wat jy nog nie leer hanteer het nie. As dit die geval is, is dit ’n goeie plan om ’n terapeut te raadpleeg.” Dieselfde geld eintlik vir enige soort spanning wat handuit ruk – veral as die oorsaak daarvan emosioneel is, sê Jeanine en Chris. Gaan klop gerus by ’n terapeut aan om jou te help om die spanning in jou lewe in bedwang te bring. 

Op jou vrugbaarste
Tussen die ouderdom van 18 en 32 bereik jy optimale vrugbaarheid, sê dr. Chris Venter, ’n fertiliteitskundige en ginekoloog van Vitalab. Tussen 32 en ongeveer 37 of 38 is daar ’n geleidelike afname. Ná 38 is daar ’n skerp daling in vrugbaarheid en teen omtrent 42 eindig die meeste vroue se voortplantingsvermoë. Namate jy ouer word, neem jou eiertjies in sowel aantal as gehalte af. Vroue wat ná 40 natuurlik swanger raak, is in die minderheid.
HET JY GEWEET?
As ’n swanger vrou chronies kwaai gestres is, kan dit haar baba se breinontwikkeling en immuunstelsel aantas.