Vraag:

My baba is nou vyf maande oud en dis amper tyd om met vaste kos te begin. Ek sien daar is ’n groot verskeidenheid kos op die mark, sommiges organies. Wat is die verskil tussen organiese kos en die ander? Wat is die voordele van organiese kos en moet ek dít eerder vir my baba gee?

Antwoord:

Organiese kos word verbou sonder die gebruik van spuitstowwe, chemiese kunsmis, antibiotika of groeihormone. As jy vir jou kind organiese kos gee, beperk jy sy of haar blootstelling aan al dié stowwe.

Sommige ouers verkies organiese babakos omdat dit meer omgewingsvriendelik is, ander meen weer dat dit beter smaak of gesonder is as gewone babakos.

Die nuutste navorsing het egter gevind dat organiese kos nie noodwendig gesonder is as nie-organiese kos nie.

Die voedingstowwe in kos word bepaal deur verskeie faktore, soos varsheid, bergingstoestande, grondgehalte, weersomstandighede, en wat die diere geëet het. In die geval van verwerkte organiese kos word die voedingswaarde bepaal deur die bestanddele, resep en gaarmaakmetodes.

Anders as baie gewone babakos, mag organiese kos nie gefortifiseer word nie. Sommige gewone babakosse bevat dus meer voedingstowwe.

Die Amerikaanse akademie van pediaters (AAP) het verskeie studies bekyk en gevind dat organiese kos dieselfde vitamiene, minerale, antioksidante, proteïene, vette en ander voedingstowwe as nie-organiese kos bevat.

Organiese kos het egter minder gifstowwe, wat wel ’n gesondheidsvoordeel inhou.

Daar is ook ’n kleiner kans dat organiese vleis met antibiotika-weerstandige bakterieë besmet kan wees.

Die AAP meen egter dat daar nog nie genoeg bewyse is dat ’n organiese dieet op lang termyn tot beter gesondheid lei nie. Meer navorsing hieroor is nog nodig.

Daar is ook nog nie genoeg navorsing om te wys dat die verskil in gifstofvlak ’n uitwerking op ’n mens se langtermyngesondheid het nie.

Wat wel bewys is, is dat jong kinders wie se brein nog besig is om te ontwikkel, wel kwesbaar is vir die blootstelling aan chemiese gifstowwe.

Baie ouers glo dat hul babas en kinders hoofsaaklik organiese kos moet kry en voel skuldig as hulle dit nie kan bekostig nie.

Die belangrikste is egter om ’n gebalanseerde dieet te volg met baie groente, vrugte en heelgraanprodukte en min vet, en om jou baba van ’n jong ouderdom af aan ’n groot verskeidenheid gesonde kos bloot te stel.

Dis ’n groter bepaler van toekomstige gesonde eetgewoontes as die eet van oganiese kos. Navorsing wys beslis dat ’n gesonde dieet siektes op lang termyn voorkom.

As jy graag vir jou kind organiese kos wil gee en die kostes ’n bekommernis is, kan jy versigtig kies wanneer jy organiese kos koop. As jy jou eie vrugte en groente tuis kweek, kan jy ook jou kind se inname
van gifstowwe beperk.

E-pos jou vrae na  yolandi@babaenkleuter.co.za