Die gebruik van pre- en probiotiese aanvullings is een van daardie grys onderwerpe waaroor baie mense kopkrap. Is dit werklik nodig, wonder baie ouers. Sommige studies sê daar is geen bewys dat hierdie soort aanvulling ons immuniteit teen siektes verhoog nie. Wat is die waarheid?

Probiotika is die ”goeie” bakterieë wat in ons liggaam en veral ons dermkanaal voorkom. As daar te min van hierdie bakterieë teenwoordig is, neem die ”slegte” bakterieë oor en is die gevolg verskillende kwale asook ’n gebrek aan immuniteit.

’n Rits faktore – rook, stres, anti-inflammatoriese middels, teensuurmiddels vir die maag, die gebruik van antibiotika en die afwesigheid van gefermenteerde kos in ons dieet – veroorsaak ’n wanbalans van bakterieë (ook flora genoem) in ons lyf, sê dr. Anton Janse van Rensburg, ’n Gautengse arts en dermkanaalkundige. 

Die gevolg: Moderne mense se bioom oftewel inwendige ”ekostelsel” is nie meer gesond nie. Die mooi woord vir hierdie toestand is disbiose, en baie mense in die moderne samelewing ly daaraan, sê Anton. 

Babas wat met ’n keisersnee gebore word, trek ook aan die kortste ent omdat hul blootstelling aan hul ma se bakterieë baie minder is as dié van babas wat deur die geboortekanaal beweeg. Die gevolg is dat dit baie langer duur voor die baba se dermkanaal behoorlik deur goeie bakterieë "gekoloniseer” is. Natuurlik is keisersneë soms nood­saaklik, maar die slegte kant daarvan is dat die baba dikwels disbiose het. “Een van die gevolge is ’n swakker immuunstelsel in die eerste paar jaar van hul lewe,” sê Anton. 

Blootstelling aan hul ma se bakterieë tydens ’n natuurlike geboorte help ongelukkig ook nie veel as die ma self disbiose het nie. “Dit is eintlik híér waar ons samelewing nie meer op ’n goeie plek is nie,” meen Anton. 

Naas die toenemende voorkoms van keisersneë en die dikwels onnodige gebruik van antibiotika, blameer weten­skaplikes ’n reeks ander faktore vir die ongesonde bakterie-balans in kinders se ingewande. Dit sluit in die moderne samelewing se fokus op té veel ontsmet en ons voorkeur vir verfynde kos wat min of geen vesel bevat nie. Een van die gevolge van die wanbalans is ’n afname aan kinders se immuniteit teen siektes. 

Volgens die Paarlse dieetkundige Mariza van Zyl kan die gebrek aan genoeg dermflora ook een van die redes wees vir die wêreld se huidige oorgewig- en diabetes-epidemie. Sommige medici meen selfs die geweldige toename in allergieë het te doen met ’n versteurde derm-ekostelsel. 

Wat van ’n veselryke dieet?

Is ’n veselryke dieet nie genoeg om gesonde vlakke van bakterieë te handhaaf nie? “ ’n Veselryk dieet is belangrik, maar nie genoeg nie,” sê Anton. 

Volgens hom het navorsing gewys dat ’n mens gereeld gefermenteerde, bakterie­ryke kossoorte moet inneem. “In my navorsing het ek agtergekom dat meeste groeperings in die wêreld die een of ander gefermenteerde produk by hul dieet insluit wat daagliks hul derm­kanaal-bakterieë help aanvul.” 

Voorbeelde is miso in Japan, sauerkraut (suurkool) in Duitsland en kisri (gefermenteerde pannekoeke) in Midde-Afrika. 

Hier in Suid-Afrika ken ons ook amasi (dikmelk). Drankies soos kefir (tuisgemaakte jogurt, oorspronklik uit Rusland) en kombucha (’n bruisende tee wat oorspronklik uit die Ooste kom) is ook hier gewild. 

Danksy moderne isolasietegnieke is die proses van fermentering vandag meer gevorderd en kan spesifieke voordelige bakteriespesies nou in kapsulevorm ingeneem word, sê Anton.

Hoe kan jy bakterie-inname verbeter? 

“Ek gee vir my kinders elke dag ’n klein bietjie kombucha-sap, maar ek gee ook vir hulle behoorlik geformuleerde probiotiese bakterieë in kapsule-vorm,” sê Anton.

’n Mens kan begin deur die kapsules twee weke lank elke dag te gee, maar op lang termyn behoort elke derde dag voldoende te wees. As jou kind antibiotika moet drink, moet hy egter twee weke lank elke dag ’n probiotiese kapsule inneem. 

Jy kan ook slim te werk gaan deur kefir in ’n smoothie te meng of suurkool saam met hul gunsteling visvinger-ete voor te sit, is Mariza se raad op haar webtuiste, betereet.co.za. 

Is jong kinders se behoefte aan probio­tika anders as ouer kinders of volwassenes s’n? Nee, sê Anton. “Hul behoefte is feitlik dieselfde. Kinders onder een het wel ’n ander soort nodig.” Hy stel voor dat hulle ’n mondsproei-produk gebruik wat spesifiek vir kinders onder 12 maande geformuleer is.

Begin jou baba teen omtrent nege maande aan kefir en/of kombucha bekendstel sodat hulle daaraan gewoond raak. Jou eie borsmelk moet natuurlik ook genoeg goeie bakterieë bevat, en jy kan dus gerus ook elke dag van die gefermenteerde kos eet of drink. 

Wat van babas wat bottelmelk drink? 

Anton se raad is dat jy een of twee van hierdie voedings met ’n geskikte probiotikum aanvul nadat die melk verhit is. Daar is egter heelwat formulemelk op die mark wat reeds met probiotika verryk is. Studies het selfs gewys dat babas wat melk gedrink het wat met sekere lewende probiotiese bakterieë aangevul is, minder koliek gehad het en minder antibiotika nodig gehad het as dié wat formulemelk sonder probiotika gedrink het. 

Moet ons aanvullings drink?

Hoewel pre- en probiotiese aanvullings vir almal – van baba tot ma – onskatbare voordele inhou, is dit veral kinders op die outismespektrum wat baie daarby baat vind.

“Ek behandel kinders met outisme van dag een af met probiotika. Ek gebruik egter die nuutste wetenskaplike deurbrake in die veld van spoorbiotika om dit te doen. Spoorbiotika is probiotiese bakterieë wat uit produkte soos gefermenteerde sojabone kom. “Wat hierdie produkte uniek maak, is die feit dat hulle beter oorleef in die maagsure en dat hulle help met die vestiging van meer as 1 000 spesies goeie bakterieë in die dermkanaal,” sê hy. 

Dit maak sin, want navorsing het gewys daar kan iets fout wees met die mikro­bioom van kinders met outisme. Medici is dit eens dat die ingewandsomgewing ’n ingewikkelde stelsel is waaroor ons nog baie moet leer. Projekte soos die Amerikaanse Human Microbiome Project en die Europese MetaHIT het dokters se kennis egter al baie verbreed.

By Anton is daar min twyfel dat gesonde ingewande noodsaaklik vir algemene gesondheid is. Hoekom anders sou so baie pasiënte oor ’n tydperk van 18 jaar positief op die behandeling gereageer het?

Die verskil tussen pre-en probiotika

Daar is meer as 500 verskillende bakterie-soorte in ons spysverteringskanaal. Probiotika is te kry in aanvullings wat natuurlike, lewende mikro-organismes bevat. Dit kom egter ook van geboorte af natuurlik in die spysverteringskanaal voor. Ons vul dit aan om die balans van bakterieë gesond te hou en seker te maak dat die slegte bakterieë nie ons ingewande oorneem nie. 

Daarom is dit so belangrik om vir jou kleinding ekstra probiotika te gee terwyl hy antibiotika gebruik, aangesien antibiotika die balans van die organismes in die dermkanaal verander sodat skadelike bakterieë kan oorheers.

Borsmelk stimuleer ook die groei van goeie bakterieë. Vir ’n gesonde derm is dit dus baie belangrik dat jou baba borsmelk inkry.

Ander bronne van probiotika sluit in suiwelprodukte soos jogurt en kaas, asook gefermenteerde kos soos suurkool en kefir. Kefir is aangesuurde melk en proe amper soos karringmelk. Kefir is boonop goedkoop – jy kweek dit self met ’n plantjie.

Prebiotika is ’n natuurlike stof wat in voedsel voorkom. Dit word ook nie deur die liggaam verteer nie, maar stimuleer die groei van sekere goeie bakterieë in ons dermkanaal. Ons kan dit beskou as die goeie bakterieë se kos, wat hulle help om te groei en vermeerder.

Anders as probiotika, word prebiotika nie in die kookproses vernietig nie. Dit maak dit ook maklik om by alledaagse maaltye in te sluit.

Die belangrikste bron van prebiotika vir babas is borsmelk, aangesien dit ’n vorm van prebiotika bevat. Ma’s vir wie borsvoeding regtig moeilik is, moet in ag neem dat spanning sleg is vir die dermkanaal – moet dus nie onrealistiese verwagtinge van borsvoeding koester nie.

Jou baba kan later prebiotika inneem deur kossoorte soos piesangs, bessies, hawermout, tamaties, uie, spinasie, preie en peulgewasse soos sojabone.