Vra maar vir asmatiese mense – dit het meestal in hul kinderjare ontstaan. Om asma te diagnoseer sal jou dokter jou uitvra oor jou kind se geskiedenis: Het sy ’n aanhoudende hoes, hoes sy snags, is daar episodes waar die bors fluit, verkoues aanhoudend na die bors gaan, of haal sy moeilik asem ná aktiwiteite of as sy in die koue speel? Kinders met asma kan ook emosioneel raak wanneer hulle rook of parfuum ruik.

Daar is ’n nou verband tussen allergieë en asma. Stowwe in die omgewing sowel as in kos kan asma veroorsaak; medikasie ook.

Met asma ontsteek die lugweg sodat dit opswel. Meer slym vorm en die senuweepunte van die lugweë raak geïrriteerd en sensitief vir koue lug, rook en virusinfeksies. Dan vernou die lugweë nog meer.

Hoe word asma behandel?

Jou kind sal medisyne kry wat verligting bring wanneer die gehoes en benoudheid erg is. Voorkomende middels wat elke dag toegedien word, word ook voorgeskryf. Dit behandel die ontsteking en uiteindelik die simptome en onderliggende oorsaak ook.

Kinders kan baie van die middels wat vir volwassenes voorgeskryf word, ook veilig gebruik – die dosis moet net laer wees. Selfs jong kinders kan leer om die inhaleerders met gesigmaskers te gebruik. Daar is ook koubare tablette en poeiers.

Die goeie nuus is dat namate kinders se longe groei, die asmasimptome kan verbeter en dalk selfs kan ophou. Ongelukkig kan dit terugkeer, selfs ná lang tye sonder enige simptome.

Kinders met erger asma is geneig om dit ook in hul volwassenheid te hê, en as dit nie in hul kindertyd behoorlik behandel word nie, kan hulle longskade opdoen.

Die beste manier om asmasimptome in die toekoms te verminder, is dus om dit in die kindertyd goed te behandel. Dieselfde geld allergieë. Sodra jy vermoed dat jou kind hieraan ly, moet jy hulp by die regte dokter gaan soek sodat met veilige behandeling begin kan word.

Intussen is dit ook belangrik om te weet wat die nuutste navorsing oor allergieë te sê het.

Beste raad vir allergievoorkoming

Dit was vir lank die aanbeveling dat ouers moet wag voor hulle vir hul baba kos soos eiers en neute gee wat allergieë kan veroorsaak. Dalk is jy al selfs deur jou ma of skoonma gewaarsku dat jy sekere kosse nie aan jou baba moet gee nie.

Maar die voorkoms van kosallergieë het die afgelope dekades gestyg en dié stuk raad word nou as outyds beskou. Dit werk eenvoudig nie en het dikwels die teenoorgestelde uitwerking. As jy wag en die allergeniese kos eers later gee, kan dit ironies genoeg juis tot ’n allergiese reaksie lei.

Jou baba kan iewers tussen vier en ses maande geleidelik aan vaste kos bekend gestel word. Teen die tyd dat sy sewe maande oud is, moet sy al die meeste kosse beproef het. Dit sluit in eiers, grondboontjies en ander neute, suiwel, soja, vis, seekos en graan.

Maar as jou kind reeds tekens van ’n allergie getoon het nog voor sy vaste kos begin eet het – soos matige tot hewige ekseem – moet jy liewer eers met ’n pediater of allergiekenner gesels voor jy haar dié kosse gee sodat dit onder toesig kan plaasvind.

Moet jy vir jou baba graan gee?

Ja. ’n Graanvrye dieet is beslis nie vir almal bedoel nie. Graanlym (gluten) is ’n proteïen wat in koring, rog en gort voorkom.

Net 1 persent van mense het seliaksiekte – ’n outo-immuunsiekte van die kleiningewande – en kan graan nie verteer nie en selfs daarvan doodgaan.

Tussen 1 en 2 persent van ander mense het werklik ’n graanallergie wat veroorsaak dat hulle in bulte uitslaan, opswel, maagpyn kry, braak en selfs asemhalingsprobleme kry. Daar is geen wetenskaplike bewys dat grootmense en kinders nie graan moet eet nie.

Hoe lyk ’n allergiese reaksie?

Daar is twee soorte reaksie. Die onmiddellike reaksie vind binne twee uur plaas: ’n uitslag, bulte, swelling, braking, diarree of krampe, irritasie en wanneer dit baie erg is, asemhalingsprobleme. Indien dit baie erg is, moet julle dadelik dokter of noodeenheid toe gaan. Ná so ’n reaksie moet jy twee weke wag voor jy ’n allergietoets laat doen.

Die vertraagde reaksie kan ure of dae later opduik in die vorm van ekseem of spysverteringsimptome soos braking, diarree en bloed in die stoelgang. Dit is meer subtiel en moeiliker om sin van te maak. Gaan dokter toe, veral as die braking en diarree erg is.

Hou op om die betrokke kossoort te gee sodat ’n allergietoets gedoen kan word. Dit is moontlik dat kinders allergieë vir koeimelk, eier, soja en koring kan ontgroei teen die tyd dat hulle skool toe gaan, maar die ander kosallergieë word in minder gevalle ontgroei.

Allergene in die lug

Myte, stof, skimmel en gras- en boomstuifmeel kan allergieë van die asemhalingstelsel veroorsaak soos asma en hooikoors. Dit kom selde onder kinders jonger as ’n jaar voor, maar namate hulle ouer word en meer buite speel, kan hulle veral meer in kontak kom met stuifmeel. Dis natuurlik erger in die lente en somer.

Die simptome is baie soortgelyk aan dié van verkoue en sluit in ’n loop-, jeukende of toe neus, ’n genies, rooi en jeukerige oë, ’n aanhoudende gehoes en ’n fluitbors.

Wat die vel vertel

’n Velallergie soos ekseem is dikwels die eerste skakel in ’n ketting van allergiese gebeure. Dit word soms die “allergiemars” genoem, waar een tree met taamlike voorspelbaarheid op die ander volg.

Indien die vel, wat ’n versperring is, ontsteek, kan allergene in die omgewing en kos kontak maak met die immuniteitstelsel deur die vel, en ’n allergiese reaksie kan ontstaan. Daarom is die beste velsorg en vroeë behandeling van ekseem uiters belangrik.

Goeie velsorg van die begin van ’n baba se lewe is kardinaal, veral in families waar daar allergieë is. Hou jou kind se vel altyd goed bevog. Dit verminder die gevaar van ekseem en ander allergieë aansienlik.

Jou behandelingsplan

Soms is die beste behandeling om kontak te vermy met die oorsaak, maar dis nie altyd moontlik nie.

’n Neussproei en antihistamien kan óf die hele jaar óf net seisoenaal gegee word, afhangend van wat die allergie veroorsaak. Soms moet ’n asmapompie – een wat die asma beheer én een wat verligting bring – gebruik word.

Antihistamiene wat kinders nie vaak maak nie, is beskikbaar oor die toonbank en is veilig. Daar is verskillendes vir kinders, maar nie vir babas nie – kyk altyd op die pakkie of vra die apteker. Die ouer weergawes wat ’n mens lomerig maak, moenie op ’n gereelde basis vir kinders gegee word nie, omdat dit slaap en gedrag kan aantas.

Neussproei wat van soutoplossing gemaak is, is veilig – selfs vir babas.

As ’n kind ’n baie kwaai allergie het soos vir byegif of vir ’n kossoort wat ’n hewige reaksie veroorsaak, sal die dokter julle wys hoe om ’n Epipen te gebruik. Dis ’n toestel wat outomaties ’n vooraf afgemete dosis epinefrien inspuit wanneer jy dit teen die vel druk. Dit keer dadelik simptome soos die swel van die keel en lippe, stimuleer die hart, verbeter asemhaling en verhoog bloeddruk.

Hoe werk allergietoetse?

Onthou dat ’n allergietoets op jou kind se probleem moet fokus. Dit vermy onnodige koste en verwarring oor die diagnose. Kosallergieë kan moeilik wees om te interpreteer; laat die toetse dus net doen deur iemand met kennis van die veld.

Die algemeenste toetse is ’n velpriktoets of bloedtoets. ’n Bloedtoets kyk na die teenwoordigheid van teenliggaampies vir ’n betrokke allergeen. Met die velpriktoets word ’n druppel van die allergeen op die vel geplaas en dan word die vel deur die druppel geprik. As jy allergies vir die betrokke allergeen is, sal jou immuniteitstelsel reageer en ’n swelsel wat soos ’n muskietbyt lyk sal vorm. Dit is veilig, vinning en kostedoeltreffend.

Dié toetse kan gedoen word in allergeengroepe, vir individuele allergene, of vir kompartemente. Wanneer ’n kompartement getoets word, kan kenners sien hoe erg die allergie is, en of ’n kind dit sal ontgroei of nie.

Daar is baie toetse op die mark waarvan die doeltreffendheid nie bewys is nie en wat kan lei tot onnodige dieet- en leefstylveranderings. Moenie jou kind self diagnoseer nie. Gaan liewer na ’n kenner wat in allergieë spesialiseer.

Al gehoor van allergie-inspuitings?

Dis ’n soort immunoterapie, ook bekend as allergie-immunoterapie, wat op lang termyn gedoen word om ’n mens se sensitiwiteit vir sekere allergieë te verminder. ’n Klein dosis word oor ’n tydperk vermeerder om die liggaam aan die allergeen gewoond te maak, of minder sensitief daarvoor te maak.

Vir omgewingsallergieë word dit egter nie vir kinders onder vyf jaar gegee nie. Deesdae kry kinders onder vyf ook liewer druppels onder die tong as inspuitings. Dit kan allergiese neusslymvliesontsteking, asma, allergiese bindvliesontsteking en allergieë vir bygif, sekere medisynes en kos behandel.

Kos-desensitering soos vir grondboontjies kan op ’n jong ouderdom oorweeg word, maar dit word net by gespesialiseerde allergieklinieke gedoen. 

Dankie!

Baie dankie aan die kenners wat met dié artikel gehelp het.

Lees meer by: kidsallergy.co.za en allergyfoundation.co.za. Prof. Claudia Gray is ’n pediater en allergiekenner by die Kidsallergy Paediatric and Allergy Centre in Pinelands, Kaapstad. Sy is ook medeprofessor in pediatrie by die Universiteit van Kaapstad en die Rooikruis- kinderhospitaal. Dr. Candice Royal is ’n pediater en allergiekenner by die Paediatric and Allergy Centre en by die Rooikruis-kinderhospitaal.