Vraag:

Ek het ’n nege maande oue dogtertjie wat op haar boude sit en kruip. Ek het haar van jongs af elke dag op haar magie gesit, maar sy weier om op haar hande en knieë te kruip.

Antwoord:

Ek kry dit in sowat 50 persent van gevalle reg om babas wat skuifel te help om handeviervoet te begin kruip. Soms werk dit, soms nie. Ek sou haar aanmoedig om te kruip deur die speletjies hieronder minstens vier keer per dag te speel. Dit kan ’n rukkie duur voor dit werk. Moet egter nie bekommerd wees as sy aanhou skuifel nie, dit hou nie noodwendig langtermyn-gevolge in nie. Hier is ’n paar idees.

Bring soveel tyd moontlik op jou knieë saam met haar deur. Wys haar dat kruip pret is. Plaas interessante speelgoed voor haar op die mat en maak seker dat jou huis kruipvriendelik is. Kruip rond sodat sy kan sien hoe jy kruip en sit ook agter haar en moedig haar aan om tot by die speelding te kruip.

Plaas haar in die kruipposisie en sit die palms van jou hande teen haar voetjies sodat sy iets het om teen vas te skop. Hou ook jou hande om haar enkels en stoot een van haar beentjies vorentoe en dan die ander een. So kry sy ’n gevoel van hoe dit voel om handeviervoet te kruip. Laat sy op haar magie oor ’n groot opblaasbal lê.

Hou haar aan albei heupe vas en rol haar vorentoe tot sy met haar handpalms plat op die grond druk. Speel ook speletjies waar sy speelgoed optel wat voor haar lê – dan sal sy outomaties met die een handjie op die grond druk en met die ander die speelding optel. Kyk gerus op my blog www.lizanneduplessis.com.