VRAAG:

My baba is amper drie maande oud. Ek sukkel met my blaas en kan nie knyp nie. Gaan dit altyd so wees? Is daar iets wat ek kan doen?

ANRO-MARI COHEN ANTWOORD:

Baie vroue sukkel met inkontinensie, oftewel die verlies aan blaasbeheer. Dit word veroorsaak deur faktore soos swangerskap, kraam en menopouse. Die erns wissel tussen urine wat af en toe lek wanneer jy hoes of nies tot so ’n skielike en sterk drang om te urineer dat jy nie betyds by ’n badkamer kan uitkom nie. As inkontinensie jou daaglikse aktiwiteite beïnvloed, moet jy liewer dokter toe gaan. Vir die meeste mense kan eenvoudige leefstylveranderinge dié probleem in bedwang bring. As jy geneig is om urine te lek wanneer jy lag, nies, hoes, draf, spring of iets optel, staan dit bekend as stresinkontinensie. Tydens swangerskap produseer jou liggaam spesiale hormone wat jou ligamente en gewrigte meer elasties maak. Dit, gekombineer met die gewig van jou baba, ver­swak en strek die spiere van jou bekkenvloer, en dit kan veroorsaak dat urine lek. ’n Normale bevalling kan ook inkontinensie veroorsaak, veral as ingrypings nodig was wat skade kon aanrig aan die spiere en senuwees in jou bekken wat jou blaas beheer. (Party vroue sukkel ook ná ’n keisersnee met inkontinensie.) Swak blaasspiere, ooraktiewe blaasspiere en senuweeskade dra alles tot inkontinensie by. By sommige vroue duur dit langer as by ander. Dit kan binne ’n paar weke nadat jy gekraam het verdwyn, of ’n paar maande ná die geboorte nog voortduur. Jy kan beheer oor jou blaas verbeter deur elke dag bekkenvloeroefeninge bekend as Kegel-oefeninge te doen. Kegel-oefeninge behels dat jy jou bekkenvloer saamtrek om die spiere te versterk. Dié oefeninge moet minstens drie keer per dag gedoen word en dit duur tot drie maande voor jy ’n verskil voel. Lê op jou rug met jou bene gebuig en haal ontspanne asem. Isoleer jou bekkenspiere deur jouself te verbeel dat jy tegelyk ’n windjie en ’n piepie terugknyp. Met ander woorde: Trek in en op. Jy moet die spiere om jou vagina en anus voel saamtrek. Probeer om nie jou boude of maagspiere saam te trek nie en moet ook nie asem ophou nie. Moenie moed verloor as jy die saamtrekking nie vir ’n lang ruk kan hou nie. Begin met vyf sekondes en hou dit later 10 sekondes lank. Ontspan dan 10 sekondes en trek weer saam. Volg dit op met 10 vinnige saamtrekkings. Jou doelwit is om drie keer per dag 10 lang sametrekkings gevolg deur 10 kort sametrekkings uit te voer.