Wat is PSOS?

Vroue met dié toestand se eierstokke produseer meer androgene as wat ’n gesonde vrou se eierstokke sou produseer. Androgene is manlike hormone, wat vroue ook vervaardig, maar die hoë vlak van androgene by vroue met PSOS tas die ontwikkeling en ook die vrystelling van eiertjies gedurende ovulasie aan. Hierdie vroue kan dus ongereelde menstruele siklusse hê en daar kan ’n klomp siste in hul eierstokke voorkom. PSOS kan onder meer diabetes en kardiovaskulêre komplikasies veroorsaak.

Wat veroorsaak PSOS?

Prof. Zephne van der Spuy, oudhoof van verloskunde en ginekologie aan die Universiteit van Kaapstad, sê kenners vermoed dat PSOS deur omgewingsfaktore én oorerwing veroorsaak word. Sy reken dat vroue met PSOS dikwels ’n ma of sussie met dieselfde toestand het. Dogters kan ook die geen van hulle pa kry. Mans wat voor 30 bles word, het tien teen een die PSOS-geen. PSOS kan gewigstoename, insulienweerstandigheid, hewige haargroei, aknee en ovulasieprobleme veroorsaak.

Hoe word PSOS behandel?

Dit word op verskeie maniere behandel. Vroue met PSOS is dikwels oorgewig. Hulle word eers aangeraai om gewig af te skud en lewenstylveranderinge te maak, soos om gesonde eetgewoontes aan te kweek en te begin oefen.

As jy swanger wil word, sal jy fertiliteitsbehandeling ontvang wat ovulasie stimuleer, terwyl voorbehoedpille weer dikwels vir ander vroue met PSOS voorgeskryf word omdat dit die menstruele siklus beheer, die manlike hormoonvlak verlaag en help om aknee te verbeter.

Jy kan ook medikasie vir swaar en ongewenste haargroei neem, maar dit sal nie jou vrugbaarheid verbeter nie. Dus behandel jou dokter jou spesifieke behoefte.