Ina en Johan du Toit het ná jare van sukkel eindelik met ’n tweeling swanger geraak. Hannes en Lisa is nou 15 maande oud en is op 37 weke met ’n keisersnee in die lewe gebring. Dié twee, wat met geboorte baie gesond was, het net omtrent vyf dae in die neonatale intensiewesorg-eenheid (NISE) deurgebring. “Die geboorte en die tweeling se toestand was eintlik baie beter as dit waarop ons ons voorberei het,” vertel Ina (35).

Sy was gelukkig om self ook in die hospitaal te kon aanbly terwyl die tweeling in die NISE was, “wat reëlings makliker gemaak het”, sê Ina. “Ouerskap was vir my baie nuut. Daarom was dit gerieflik om by hulle in die hospitaal te wees. Hoewel dit nie maklik was nie, want die bababloute het my ’n paar dae ná Hannes en Lisa se geboorte getref.”

Ina en die kleintjies is ná vyf dae uit die hospitaal ontslaan en kon na hul huis in Centurion terugkeer. Johan het vir ’n week of wat verlof geneem om Ina met die tweeling te ondersteun. “Johan het so maklik in die pa-rol ingegly. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Die eerste ruk was egter vir my rof, want ek moes snags skielik opstaan om te voed en doeke te ruil. Ek het net ná die geboorte besef dat borsvoeding sy tol gaan eis en het bottelvoedings begin gee met die idee dat Johan my snags kon help voed.”

Johan het sowat ’n week en ’n half later teruggekeer werk toe. “Ek onthou nog goed hoe ek daardie Maandagoggend gevoel het toe hy werk toe ry. ’n Angstigheid het my beetgepak omdat ek alleen met die twee babas by die huis sou wees, en eintlik was hulle rustig. Dit het my angstig gemaak om te weet dat Hannes en Lisa net van my afhanklik is. Ek kon dit nie help nie, maar was nie baie beïndruk deur hierdie mensies wat net huil en niks teruggee nie.”

Ina verduidelik dat sy heeltemal bewus daarvan was dat die eerste ruk ’n groot aanpassing sou wees, maar haar angs het haar verras. “Ek het vir die eerste keer besef daar is fout toe ek vir die soveelste keer nie die huis met hulle kon verlaat nie. Ek wou net nêrens heen gaan nie en dit het my nie gepla om heeldag in my nagklere deur te bring nie.”

Ina was bang dat die tweeling iets sou oorkom. Sy het dit vermy om hulle selfs vir oomblikke alleen te laat, ook as hulle slaap. “Ek kon dit nie regkry om te slaap terwyl hulle slaap nie. Ek het na hulle gesit en staar omdat ek bang was hulle kom iets oor.” Haar persoonlikheid het beduidend verander en skielik was sy iemand wat sy nie geken het nie.

“Ek wou net huil. Ek en Johan het ook meer as gewoonlik baklei. Eintlik ek met hom, want hy word nooit kwaad nie. Hy het ná die tweeling se geboorte alles in sy vermoë gedoen om my te help. Ek was bitter omdat ek by die huis moes bly en na die babas omsien terwyl hy elke dag werk toe kon gaan.”

HET JY GEWEET?
Suid-Afrikaanse vroue se risiko vir voor- en nageboortelike depressie is vier keer groter as die wêreldwye gemiddeld.

Ina sê dat sy nooit vir haar babas kwaad gevoel of hulle geblameer het nie. “Ek was eerder kwaad vir almal wat my alleen saam met hulle gelos het. En eintlik is die ironie dat ek soveel ondersteuning gehad het. Vriendinne en familie het kos aangedra, maar ek wou my eie ruimte hê.

“Ek het nie ’n band met hulle gevorm nie en ouerskap was vir my baie anders as wat ek my voorgestel het dit sou wees.” Ina is vir haar sesweke-ondersoek ginekoloog toe. Die ginekoloog moes gesien het dat iets skort, want sy het ’n pasiënt voor Ina ingedruk en gevra dat Ina moet wag en ontspan voor dit haar beurt is.

“Ek het gedink dit sou slegs ’n fisieke ondersoek wees, maar my ginekoloog het ’n lang vraelys gehad. Sy het my onder meer gevra of ek met die tweeling in die huis warm koffie drink en of ek voel ek skeep my troeteldiere af. Sy wou ook weet hoe ek dit hanteer as Hannes en Lisa tegelykertyd huil. Ek het natuurlik in trane uitgebars omdat ek so skuldig gevoel het.”

Die ginekoloog het vir Ina medikasie vir ses maande voorgeskryf en verduidelik dat effens ouer ouers dikwels aan angstigheid ly. “Ek het ná die afspraak onmiddellik vir Johan gebel en van die medikasie vertel. Hy het gesê dat hy my ondersteun en bly was dat ek hulp kry.” Die eerste ruk met die medikasie was vir Ina ’n aanpassing, aangesien sy nog nooit voorheen enigiets vir depressie of angs gedrink het nie.

“Die medikasie was ’n skok vir my stelsel en aanvanklik was ek uit voeling met alles om my. Dit was egter nie lank nie of ek het agtergekom dat die huilery en die feit dat ek na hulle moes omsien, my nie meer so erg pla nie. Dit was asof daar ’n demper op alles geplaas is – niks het my meer só vreeslik omgekrap nie.”

Omstandighede in die huis het stelselmatig beter verloop: Die medikasie het goed gewerk en die tweeling het op drie maande aansienlik beter begin slaap. Sy het ook ná vier maande kraamverlof weer teruggekeer werk toe.

Terug by die werk het Ina weer stadig soos haarself begin voel: iemand wat nie net gedefinieer word as die ma van ’n tweeling nie, maar ook iemand met ’n suksesvolle loopbaan as uitgewer. “Daar is baie te sê vir opstaan in die oggend, aantrek en grimering aanwend om die wêreld in die oë te kyk. “Dit het so goed gegaan dat ek vasbeslote was om ná die voorskrif van ses maande die medikasie stop te sit. Ek het my ginekoloog gebel om te hoor hoe ek dit moet doen. Sy het voorgestel dat ek die laaste maand se medikasie daagliks met die helfte moet verminder.” Dis ook toe presies wat sy gedoen het.

Maar daarna het dit nie goed gegaan nie. Ina het weer eens angstig geraak en alles het na te veel gevoel om te hanteer. “Alledaagse dinge het my oorweldig laat voel, doodgewone huisdinge soos kos maak en smiddae betyds vir die oppasser wees. Die verantwoordelikheid om die kruideniersware te koop het soos ’n reuse-berg voor my gelê. Ek het ook begin besef ek is vir die eerste keer in my lewe bang om te bestuur.”

Ina het nie geweet of dit net haar verbeelding is en of dit werklik was omdat sy nie meer die pilletjies gesluk het nie. “Ek het twee maande lank so aangehou en toe besluit om hulp te soek.” Ina het besef dat sy nie weer net medikasie wou drink nie, maar dat sy ook die hulp van ’n professionele persoon nodig het. Sy het ’n sielkundige genader.

“Die sielkundige het nageboortelike depressie (PND) gediagnoseer. Hoewel hierdie sessies my tog gehelp het, het ek geweet dat ek by ’n psigiater wou uitkom sodat ek die regte medisyne kon kry.” Dié afspraak het ’n week later by ’n spesialis in Centurion plaasgevind. “Dit was die moeilikste ding wat ek ooit moes doen, maar ook die lekkerste afspraak wat ek nog gehad het. Danksy die verwysings van die ginekoloog en sielkundige het die psigiater my onmiddellik verstaan. ’n Ander soort middel is voorgeskryf.”

Ina se verhouding met die mense om haar het die afgelope maande gegroei, veral met Hannes en Lisa. Sy spreek die psigiater een keer per maand en heg baie waarde aan hierdie sessies. “Ek voel minder angstig en wanneer ek so voel, kan ek eerlik met die psigiater wees sonder dat ek sleg voel of geoordeel word. Ek voel soos ’n beter ma.” Daar is baie mense wat wil help, maar nie weet wat om te sê nie. Gelukkig is daar tog mense wat verstaan en goeie vriendinne wat haar ondersteun.

“Ek het agtergekom dat die meeste ten minste ’n deel van my angs gevoel het toe hulle ouers geword het. Daar is selfs vriendinne wat ook aan nageboortelike depressie gely het, maar nooit daaroor gepraat het nie en ook nie hulp gekry het nie.” Ina verduidelik dat sy die hele toestand eindelik in die oë kan kyk, al bly dit ’n lang proses waaraan sy elke dag werk. “Ek kan deesdae daaroor praat en daaraan dink sonder om te voel daar is fout met my. En meer belangrik: sonder om skuldig te voel.” 

Ek was nie kwaad vir my babas nie, maar vir almal wat my alleen saam met hulle gelos het.
Wat is postnatale depressie?

Tussen 10 en 40 persent van nuwe ma’s ly aan nageboortelike of postnatale depressie (PND).

Daar is verskeie vlakke van erns. PND slaan gewoonlik tussen die sesde week en die derde maand ná geboorte toe, maar dit kan ook onmiddellik begin of selfs ’n jaar ná die baba se geboorte begin wys.

Dis ’n ernstige versteuring wat behandel moet word. Dit word volgens psigiaters dikwels misgekyk omdat vroue bang is om te erken dat hulle nie die mas opkom nie. Dokters meen net sowat 10 persent van vroue wat aan PND ly, meld dit aan.

Ina
Kry hulp

Gaan gerus na Pharma Dynamics se Let’s Talk-webtuiste, letstalkmh.co.za, of kontak die hulplyn by 0800 205 026 – dit word deur opgeleide voorligters beman. Vul ’n vraelys in van die South African Depression and Anxiety Group op www.sadag.org as jy dink jy het moontlik nageboortelike depressie. Jy kan ook na die volgende internasionale webtuistes gaan:

  • postpartumdepression.org
  • nimh.nih.gov
  • postpartum.net
  • pandasfoundation.org.uk
  • lifewithababy.com
  • postpartumprogress.com
  • panda.org.au
HET JY GEWEET?
Nageboortelike depressie het geen langtermyn-uitwerking op babas nie, mits jy hulp kry voor jou kind twee jaar oud is.

Foto’s: Celeste van der Berg Photography