book-icon Uitgawe Junie & Julie 2018

Vat die kieme vas

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

’n Loopneus, hoofpyn, seer keel, oë wat traan en miskien ’n gehoes is alles simptome van verkoue. Dié toestand, wat meestal deur die rinovirus veroorsaak word, regverdig dit nie regtig dat jou kind in die bed bly nie. Griep, daarenteen, word deur die influensavirus veroorsaak en laat jou kind baie pap en lusteloos voel. Die simptome stem baie ooreen met dié van verkoue, maar as dit eers begin, kan dit ’n kind binne drie tot ses uur sommer baie siek maak. Anders as die rinovirus, wat meestal net die boonste lugweg aanval, is die influensavirus regtig gevaarlik en is die simptome baie hewiger as met ’n verkoue, veral by klein kindertjies en bejaardes. Geen wonder dus nie dat talle kinders en ouer mense elke jaar met griep in die hospitaal beland.

Koors is die liggaam se manier om te wys hy veg teen die infeksie. Moet dus nie altyd outomaties koorsstroop gee nie – dis goed vir jou kind om dié proses te deurloop. As die koors egter groter of gelyk aan 38 grade C is, kan jy stroop of ’n setpil gee om die koors te verlaag. Kies parasetamol, en moet nooit aspirien vir ’n kind onder 12 gee nie. Beproef ’n parasetamolstroop soos Panado wat spesifiek vir babas of kinders ontwikkel is. Dis belangrik om jou kind se liggaamstemperatuur te beheer, veral met griep. As hy ’n hoë koors het, maak dit nie saak hoe koud dit buite is nie – trek sy klere uit.

Behandel altyd jou klein baba se toe neus, anders sukkel hy om goed te drink en slaap. Gereelde druppels soutoplossing sal help. Moet egter nie te veel daarvan gebruik nie, want dan het dit die teenoorgestelde uitwerking. Baie dokters meen ’n neussproei werk beter as druppels aangesien dit hoër in die neusgang kan bykom. Nog raad is om te sproei in die rigting van die kind se agterkop en nie sy voorkop nie. Ontstuwingsneussproeie soos Iliadin, Otrivin en Zadin is almal goeie teenvoeters vir ’n toe neus, maar kan nie langer as vyf dae aaneen gebruik word nie. Sterimar en Salex is gewone soutwatersproeie wat geen tydsbeperking vir gebruik het nie. Soutoplossing-neussproeie is heeltemal veilig vir langdurige gebruik. Homeopate beveel dikwels Weleda se Oleum Rhinale aan. Beproef gerus ook Bennetts se Saline Nose Spray vir ’n droë of verstopte neus. As jou baba se neus verstop is, kan jy die slym met ’n spesiale spuit probeer uitkry. So ’n spuit het ’n bol op die punt wat jy in elke neusgat moet druk en laat los om slym uit te suig. Dit is egter nie altyd doeltreffend nie, want die slym sit dikwels heelwat hoër op in die neusgang vas. Sommige dokters beveel warm drankies en hoendersop aan om die ongemaklike gevoel van ’n toe neus te verlig. En as jy borsvoed, kan jy ’n bietjie borsmelk in sy neusie laat drup voor ’n voeding. Borsmelk bevat probiotiese bakterieë wat ’n toe of loopneus kan help opklaar. As die toestand chronies is, moet jy die oorsaak daarvan probeer opspoor. Die oorsaak van ’n neus wat pal toe is, is dikwels ’n allergie. Dit kan dus van waarde wees om vas te stel waarvoor jou kind allergies is.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees