Vat RSV vas

akkreditasie
Die respiratoriese selvirus (RSV) hou van kinders onder twee. By grootmense en gesonde ouer kinders lei dit dalk net tot gewone verkouesimptome, maar die kleintjies kan baie siek word.

Algemeen en hoogs aansteeklik. Dít is twee van die vernaamste kenmerke van die respiratoriese selvirus (RSV), wat minstens drie uit elke vier babas onder een jaar oud aanval. RSV het egter nog vele ander nare eienskappe, soos dat dit infeksie van die longe en asemhalingsweë veroorsaak. Vir sommige babas en jong kinders kan só ’n infeksie potensieel dodelik wees.

Volgens inligting op die webtuiste van die Amerikaanse Longvereniging is dié kinders veral kwesbaar vir ernstige RSV-komplikasies:

  • Vroeggebore babas wie se longetjies dikwels onderontwikkel is en wat boonop moontlik nie genoeg teenliggaampies van hul ma af gekry het om die virus te beveg nie,
  • Kinders jonger as twee wat met ’n hart- of longkwaal gebore is,
  • Babas en jong kinders met verswakte immuunstelsels, het sy as gevolg van siekte of mediese behandeling soos chemoterapie of ’n oorplanting,
  • Pasgeborenes onder agt tot tien weke, en
  • Babas in oorvol dagsorgsentrums.

RSV is hoogs aansteeklik en versprei deur ’n hoes of nies van iemand wat dit reeds het. Die virus kan ook op deurknoppe, tafeloppervlaktes, hande en speelgoed wees en tot vyf uur lank lewendig bly – g’n wonder dat dié virus soos ’n veldbrand kan versprei nie!

Volgens prof. Robin Green, ’n kinderlongspesialis aan die Universiteit van Pretoria, het medici voorheen gedink RSV vier hoogty in die wintermaande van Mei tot Augustus. “Die patroon is egter nou aan die verander, want ons sien RSV dwarsdeur die jaar.”

Wanneer daar ’n RSV-uitbraak by ’n speelgroep of dagsorgsentrum is, sal 100 persent van die kinders waarskynlik die virus opdoen.

Soos met verkouevirusse kan ’n mens RSV herhaaldelik kry. En hoewel kinders later ’n mate van immuniteit opbou, kan dit hulle steeds plattrek.

Diagnose

By ouer gesonde kinders sal ’n dokter nie spesifiek vir RSV toets nie omdat dit soos ’n verkoue behandel kan word. Dit is egter juis die aanvanklike ooreenstemming met verkouesimptome wat RSV gevaarlik maak, sê kenners.

Daarom behoort ’n dokter vir RSV te toets wanneer ’n kind wat ander gesondheidsprobleme ook het, verkouesimptome toon. Dokters gebruik neusafskeidings om die virus te identifiseer.

Só lyk die simptome

Dit begin met ’n loop- of toe neus, ’n ligte hoes en lae koors wat binne sowat drie dae ontwikkel tot swaar hoesbuie en moeilike asemhaling namate die virus die kleiner lugweë in die longe begin aanval.

Dan begin die hoesbuie vererger en die kind begin vinniger asemhaal. Die gevaarligte begin flikker wanneer hy aanhou hoes en sy asemhaling hygend of hortend raak terwyl sy koors styg.

’n Vaal gelaat en ’n effense blou kleur om die mondhoeke of onder die vingernaels weens die swakker suurstoftoevoer, is verdere tekens dat RSV moontlik toegeslaan het. In albei laasgenoemde gevalle moet jy jou dokter toe haas.

Nóg tekens is knieserigheid en ’n dramatiese afname in eetlus. Kinders jonger as ses maande sal sukkel om te voed en sleg slaap omdat hulle nie behoorlik kan asemhaal nie. Neem jou kind so gou moontlik dokter toe, veral as hy in ’n risikogroep is.

Ernstige gevolge

RSV tas hoofsaaklik die boonste en onderste lugweg aan, maar kom ook baie algemeen voor met longsiektes soos longontsteking en longpypontsteking. Laasgenoemde is een van die virus se ernstigste komplikasies.

RSV lei ook dikwels tot middeloorinfeksie. Dokters meen dat as ’n kind in sy babadae RSV opgedoen het, daar ’n moontlikheid bestaan dat hy die virus later in sy lewe gereeld kan kry. Babas wat voor hul eerste verjaardag RSV opdoen, het ook ’n groter kans om later in hul kinderjare aan asma te ly.

Die behandeling 

As jou baba jonger as ses maande is en RSV opdoen, sal hy waarskynlik in die hospitaal opgeneem word, veral as hy sukkel met asemhaling, voeding of slaap. Daar sal hy suurstof of medisyne kry om asemhaling te vergemaklik en moontlik aan ’n drup gekoppel word om verlore vog terug te plaas.

Kinders wat by die huis behandel word, moet so gemaklik moontlik gehou word. Maak veral seker jou kind kry genoeg vloeistowwe in. Gee gereeld koorswerende medisyne en probeer om sy verstopte neusie skoon te hou. ’n Soutwaterspuit sal daarmee help.

Lig die koppenent van sy bed effens, prop ’n handdoek onder sy matras in of laat sy kop op ’n kussing rus om hom te help om makliker asem te haal. Wat om nie te gee nie:

  • Antibiotika, want die siekte word nie deur ’n bakterie veroorsaak nie.
  • Medisyne wat lomerigheid veroorsaak, soos antihistamien.
  • Hoesmedisyne, want daar is geen bewys dat dit doeltreffend is vir die behandeling van RSV nie.

Kan RSV voorkom word?

Die eenvoudigste en kostedoeltreffendste manier om besmetting te voorkom is om gereeld met seep en warm water hande te was. Was jou en jou kind se hande altyd kort nadat julle naby iemand met verkouesimptome was. Herinner ook jou kind se oppasser om dit te doen.

Probeer om jou baba weg te hou van jou ouer kinders met verkoue. Maak alle oppervlaktes in jul huis gereeld skoon met ’n ontsmettingsmiddel. Hou jou baba weg van groepe mense, veral in die winter en veral as hy vroeg gebore was of ’n hart- of longkwaal het. Moet ook nooit toelaat dat mense naby jou baba rook nie.

As jou kind in ’n hoërisiko-groep vir RSV val, oorweeg dit om hom eerder by die huis te laat versorg as by ’n crèche. Die jaarlikse griepentstof kan ook help om jou kind teen RSV te beskerm. Babas kan van ses maande af al die inspuiting kry.

Daar is ’n goeie entstof teen RSV wat Synagis genoem word, sê Robin. Maar dis duur en moet vier tot vyf keer ingespuit word. Dit word dus meestal voorgeskryf vir vroeggebore babas en kinders met chroniese longen hartsiektes.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees