In die ou dae kon dokters eers ná ’n ge­boorte agterkom of ’n ma se plasenta verkalk het omdat hulle dit dan regstreeks kon ondersoek. Deesdae kan ’n sonar gelukkig die probleem gou-gou raaksien.

“Voorheen was klein wit kalsiumstukkies in die plasenta ’n teken van verkalking,” verduidelik suster Burgie Ireland, ’n ervare Suid-Afrikaanse vroedvrou.

“Verkalking is ook nie as ’n groot pro­bleem beskou nie. Daar is net gemeen die plasenta is al ’n bietjie oud, wat normaal is as ’n baba ná sy verwagte datum gebore word.

“Ander tekens dat ’n baba sy opwagting later gemaak het, was lang vingernaels, baie min vernix (die natuurlike lagie vet wat die baba se vel in die baarmoeder teen die vrugwater beskerm) en ’n droë velletjie wat afdop.”

Moderne tegnologie het dinge egter heelwat verander. Met gevorderde 3D-­sonargrafika kan verkalking van dieplasenta voor die geboorte al gediagnoseer word.

As verkalking na aan die verwagte datum begin, is dit gewoonlik nie ’n probleem nie, maar as dit vroeg in die swangerskap gebeur, kan dit beteken die plasenta verouder te vinnig en kan dit vir jou baba gevaarlik wees.

“Meestal is die oplossing net om baba se groei sorgvuldig te monitor,” sê Burgie.

As die verkalking egter gepaard gaan met ander mediese probleme soos hoë bloeddruk, diabetes of nierprobleme, kan mediese ingryping nodig wees. Gelukkig is sulke gevalle seldsaam.

IS KALSIUM DIE SONDEBOK?

Die feit dat daar met plasentaverkalking kalsiumstukkies in die plasenta is, kan swanger vroue dalk laat wonder of ’n te ’n hoë kalsiuminname ’n rol speel.

Kalsium is ’n baie belangrike bestanddeel van ons dieet en die hoofbron daarvan is melk en kaas, maar jy kan dit ook kry uit eiers, vrugte en groente, sê Burgie.

“Die absorpsie van kalsium in die inge­wande hang af van vitamien D, wat afkomstig is van die ultravioletstrale van die son asook van visolies, eiergeel en verrykte melk.”

Die liggaam het kalsium nodig vir been- en tandonderhoud, senu-en spier­werking en ’n normale hartklop.

As ’n swanger vrou het jy ekstra kalsium nodig vir jou behoeftes asook die been­ont­wikkeling van jou ongebore baba.

As jy te min kalsium inkry, sal die kalsium vir jou baba se ontwikkeling deur jou eie bene voorsien moet word, wat die risiko van osteoporose later in jou lewe vergroot.

Te veel kalsium, aan die ander kant, het op die oog af nie ’n invloed op babas nie, maar kan vir jou nierstene gee.

Daar is ook kommer dat teensuurmiddels vir swangerskapsooibrand baie kalsium bevat. Die meeste koubare teensuurmiddels bevat kalsiumkarbonaat en bied vinnige verligting. Om van tyd tot tyd ’n teensuurmiddel te neem, is dalk onskadelik, maar as jy gereeld met hewige sooibrand sukkel en te veel teensuurmiddels drink, kan jy dalk meer kalsium inkry as wat vir jou goed is.

Die diagnose ’n Bekkensonar van die plasenta is die enigste manier om verkalking te diag­no­seer. Dit word soms tydens ’n roetine-­skandering raakgesien. As jy naby jou verwagte datum is, kan dit beteken dat die geboorte waarskynlik binne die daar­opvolgende paar weke sal plaasvind. As die swangerskap korter as 37 weke is, is dit effens meer riskant, maar selde gevaarlik vir jou baba.

INVLOED OP BABA

Plasenta-verkalking ná 37 weke word as normaal beskou en is nie gewoonlik ’n rede om geboorte te induseer of ’n keiser­snee te doen nie. Jy moet meestal net meer dikwels by jou dokter uitkom sodat hulle jou baba se groei kan dop­hou.

Plasenta­verkalking voor 37 weke kan egter ’n risiko vir jou baba inhou, veral as dit baie vroeg begin gebeur.

DIE RISIKO'S

’n Verouderde plasenta werk nie so goed soos dit moet nie. Dit kan beteken dat jou baba nie genoeg suurstof en voe­dingstowwe kry nie. ’n Kalsiumneerslag in die plasenta kan veroorsaak dat dele van die plasenta doodgaan, sê Burgie, of dat dit vervang word met veselagtige weefsel wat nie funksioneel vir die plasenta is nie. Kalsiumneerslae kan ook die risiko van bloedklonte in die plasenta verhoog. Dit kan bloedvate in die plasenta laat verhard en bloeivloei na die baba stadiger maak.

In die meeste gevalle hou plasentaverkalking gelukkig byna geen komplikasies in nie en kan jy gerus voel dat jou baba heeltemal veilig is.

Wat jy moet weet
  • As jou swangerskap al 37 weke of langer duur, is tekens van plasentaverkalking selde rede tot kommer.
  • Maak seker jy neem elke dag die regte hoeveelheid kalsium in. Praat met jou apteker oor jou swangerskapmultivitamiene en -kalsiumaanvullings. Onthou dat kalsium ook uit jou dieet kom; moet jou dus nie oordoseer met aanvullings nie.
  • Praat met jou apteker of gesondheidsversorger voor jy teensuurmiddels begin drink.
  • Jy het ’n groter risiko vir verkalking as jou bloeddruk te hoog of jy ’n diabeet is.