Op 20 weke slaap klein Mieke van Deventer deur en is sy ma Carmen en pa Gerrit se absolute trots. Carmen vertel sy lag tog te graag en is op haar oulikste in die oggende voor werk wanneer sy lekker gesels en allerhande geluidjies maak. Maar Mieke se lewe tot dusver was nie net maklik nie ...

’n Onwelkome verrassing

Met Mieke se geboorte was Carmen aanvanklik teleurgesteld omdat sy nie normaal kon kraam nie en ’n keisersnee moes kry, maar min het sy geweet wat nog wag. “Ons het nooit enigiets verdags op die sonar raakgesien nie. Dis eers met die geboorte dat ons uitgevind het sy het klompvoetjies. My man het in die teater vir my gesê Mieke se voetjies lyk snaaks. Die dokter het die diagnose beaam, maar ek was baie deurmekaar. Ek het nie geweet wat ’n klompvoetjie is nie. Ek giggel nou nog partykeer daaroor, want ek het aanvanklik gedink Mieke het dalk meer as twee voete. Ek het haar voetjies die eerste keer werklik gesien toe ek self kon opstaan om haar doek te ruil.” Mieke is die Donderdag gebore, maar Carmen sê die diagnose het haar eers die Sondag gevang.

“Ek spot nou en sê ek het nooit baby blues gehad nie; ek het net gehuil oor my kind se voete. Gerrit was van die begin af baie rustig en kalm. Hy het baie navorsing gedoen en was baie positief, maar was onseker oor die pad vorentoe.

“Die dokter wat by my bevalling was, het gesê hy het te min kennis van klompvoetjies en kan nie regtig sê wat ons kan verwag nie, behalwe dat dit met die regte behandeling reggestel kan word.

“Hy het dadelik ’n ortopedis hier van Kroonstad hospitaal toe laat kom om te kom kyk en ’n verwysing gegee na ’n pediatriese ortopedis in Bloemfontein.”

Die ortopedis het kortliks verduidelik wat volgende wag. Volgens hom kon navorsing nog nie vasstel wat presies die oorsaak van klompvoete is nie, maar hy het vermoed Carmen se baarmoeder was te klein vir Mieke en dat sy beperkte ruimte gehad het om in te beweeg. Albei Mieke se voetjies was aangetas, die een meer as die ander. Die Bloemfonteinse ortopedis, dr. Kobus Smit, het dadelik die Ponseti-metode aanbeveel. Dit behels die herhaaldelike spalking wat die voetjies ál meer in die regte posisie draai.

“Ons moes tot 10 dae ná Mieke se geboorte wag voor ons daarmee kon begin. Haar voetjies sou geleidelik met ál meer grade na buite gedraai word met die hulp van gips. Oor ’n tydperk van agt weke moes ons elke dag Bloemfontein toe ry om die gips te laat ruil.”

Carmen vertel hulle het aanvanklik nie geweet hoe moeilik dit sou wees om die gips te verwyder nie. “Ná die eerste afhaalproses het ons agtergekom dat wanneer die gips in lou water geweek word, dit binne sowat vyf minute sag word. Daarna word dit soos ’n verband afgedraai. Dit was omtrent ’n gemors!” Maar die goeie nuus was dat hulle ná die eerste gipssessie al ’n verskil kon sien. “Die vordering was ongelooflik.” Ná die eerste agt weke moes Mieke se haksenings in ’n operasie losgesny word.

“Ek en Gerrit was albei baie gespanne en onseker. Vrae het deur my kop gemaal. Ons was albei in die teater. Ek het ’n knop in my keel gehad en sal nooit die geluid vergeet toe die dokter die enkeltjies sny nie. Sy het verskriklik gehuil. Die dokter het heeltyd gesê sy huil nie omdat sy seer het nie, maar oor die ongemak. Mieke moes op haar magie lê en ek moes haar boude plat teen die bed druk. My man het haar met ’n foppie probeer troos.” Nadat die snywond genees het, moes Mieke nog twee weke lank gips dra. Daarna is sy met spesiale skoentjies toegerus.

“Sy dra die skoentjies nou elke dag 23 uur lank en namate die voete verbeter en sy ouer word, sal sy dit bedags meer dikwels kan uittrek. Sy baklei nogal teen die skoentjies: Sy skop en spartel op haar beste as rustyd verby is! Ek probeer maar om die skoentjies aan te trek terwyl sy slaap.” Al twee Mieke se voete lyk nou normaal, sê Carmen. “ ’n Mens sou nooit kon raai dat daar iets fout was nie. Die dokters hét gesê haar voete sou 100% regkom, maar in daardie stadium dink jy as ouer dis onherstelbaar. Jy wil met elke gipsruiling moed verloor omdat jy dink dis vir haar seer en ongemaklik. Sodra ’n mens na die skoene oorskakel, word dit baie meer hanteerbaar.”

’n Uitdagende pad

Die behandeling en gips was vir haar en haar familie baie meer traumaties as vir Mieke, vertel Carmen. “Met die eerste twee gipsruilings het sy wel vreeslik gehuil. Dis baie ontstellend om jou kind so te sien. Ek het langs daardie bedjie gestaan en net trane gesluk. Ek het altyd probeer om sterk te wees en nie voor Mieke te huil nie.

“Ná elke gipsruiling het ons altyd gesorg dat haar voeding regstaan: Dit was vir haar ’n groot troos. Vir minstens twee dae daarna was sy maar moeilik en ons was te bang om vir haar pynstroop te gee omdat sy nog so klein was. Die gips word styf om haar bene gedraai om te keer dat haar voete in die gips loskom en om die grade waarteen dit gedraai is, te behou. Namate die week aangaan, het dit haar bobene baie gedruk en gepla.”

Nog ’n uitdaging was dat hulle elke keer lank moes wag voor die gips droog was. “Dit duur sowat 12 uur voor die gips droog is, afhangend van die weer. Mieke se gips is in die hartjie van die winter aangebring. Ons kon die ortopedis met elke afspraak eers vieruur die middag sien, en die aande was dus baie lank en koud en die gips wou nie droog word nie. Ek het later geleer om dan nie vir haar ’n broekie of rekpakkie aan te trek nie: Ek het van my wolslaapkouse oor die gips getrek en dit net kort-kort omgeruil met droë kouse, wat baie gehelp het.”

Daar was ook finansiële uitdagings, want hulle was van net Gerrit se inkomste afhanklik, vertel Carmen. “Ek is ’n haarkapster en as ek nie werk nie, is daar nie geld nie. Elke week was dit brandstof van Kroonstad na Bloemfontein en terug, R500 vir elke gipsafspraak en dan het ons self die gips en verbande gekoop sodat hulle dit net kon aanbring. Maar met baie gebede en wonderlike vriende, familie en werkgewers was daar altyd iemand wat ons met brandstof gehelp het of met die betaling van die gips.

“Ons huur haar skoentjies teen R650 by Steps SA, ’n steungroep vir kinders met klompvoetjies. Wanneer dit te klein word, bestel ons nuwes teen dieselfde prys. Die spalk wat die skoentjies 60 grade uitmekaar hou was ’n eenmalige R1 200 en kan verstel word namate sy ouer word.”

Spyt en skuldgevoelens

Dit was vir haar aanvanklik baie moeilik om te aanvaar dat Mieke klompvoetjies het, erken Carmen. “Ek het myself daaroor verwyt. Niemand in ons familie het geweet wat dit is of wat sou voorlê nie. My ma en skoonma het saam met my gehuil. Gerrit was die sterk een wat geduldig was en getroos het. Hy het die navorsing gedoen en die vrae gevra. Hy het my staande gehou.”

Sy kan nou vir die eerste keer gemaklik oor Mieke se voetjies praat, sê Carmen. “’n Ma kan nie help om te dink dat sy iets gedoen het om dit te veroorsaak nie. Ek het Mieke baie weggesteek en wou nooit gehad het iemand moet haar sien of optel nie, want dan raak hulle bewus van die gips en ek was altyd versigtig dat iemand haar verkeerd sou vashou en dan sou seermaak.

“Ek is vandag spyt daaroor, want die meeste foto’s wat ek van haar het is net van haar gesiggie, omdat ek skaam was vir haar en skuldig gevoel het. Ek het dit aanvaar die dag toe ek besef het dis nie my skuld nie: Sy is ’n gesonde baba en ons kan haar help en haar voetjies regstel.”

Die toekomspaadjie

Die ortopedis is baie tevrede met Mieke se vordering. “Ek en Gerrit moet net baie streng wees oor die dra van haar skoentjies en ek moet haar voetjies elke dag masseer sodat hulle nie styf word en terugdraai nie.

“Ek is dankbaar dat ons deurgedruk het. ’n Dokter wat ons ortopedis gehelp het, het gevra ons moet asseblief net aanhou, want baie ouers kry hul baba so jammer dat hulle tou opgooi. Ek kan vandag sê dit was nie maklik nie, maar as ons nie deurgedruk het nie, sou sy later dalk operasie ná operasie moes deurmaak wat baie erger sou wees.

“Ek is baie positief en opgewonde oor wat vir ons voorlê. Mieke is baie bewus van haar voete en haar skoene. Sy speel kort-kort met haar voete deur haar bene op te lig en heen en weer te swaai. En sy word vreeslik opgewonde wanneer haar skoene uitgetrek gaan word.

“Ek glo sy is heeltemal genees en dat haar voete haar nie gaan keer om te leer loop of haar lewe te geniet nie. Sy gaan blom en presteer, haar beste gee in alles, soos sy reeds doen. Sy was van die begin af ’n vegter. Ek besef elke dag hoe leeg ons lewe was voor sy gebore is.”

Intussen maak Carmen werk daarvan om hul storie te deel ten einde groter bewustheid oor klompvoetjies te kweek. “Baie min mense weet daarvan, maar hoe meer ek in my werk met kliënte gesels, hoe meer kom ek agter dat talle mense iemand ken wat ook dieselfde moes deurmaak ...” 

HET JY GEWEET?
Die voormalige Mej. Suid-Afrika Bernelee Daniell is ook met ’n klompvoetjie gebore. Haar voet is op vier maande herstel, maar haar een been is steeds ietwat langer as die ander en haar skoengroottes verskil. Sy reken egter dit het haar nie benadeel nie.
Pa Gerrit, klein Mieke (5 maande) en Carmen van Deventer. Mieke dra haar spesiale skoentjies, wat deur ’n spalkie uitmekaar gehou word.
Mieke dra steeds spesiale skoentjies ná die operasie wat vir die volkome herstel van haar voetjies sal sorg.
ADRESBOEK
Gaan na steps.org.za of bel Steps SA by (021) 462 7357.