Waar daar 'n rokie trek

akkreditasie
Waarom jy jou kind tot elke prys van rokers af moet weghou...

Natuurlik weet jy nou al dat rook sleg vir jou is en dat dit jou kans verhoog om nare toestande soos longkanker, hartsiektes en chroniese brongitis op te doen.

En jy het beslis al gelees dat dit nie ’n goeie plan is om te rook terwyl jy swanger is nie. Maar is jy bewus daarvan dat as jy ná jou swangerskap weer begin rook, dit jou kind op allerhande vlakke skade kan berokken?

Navorsers meen dat byna die helfte van alle kinders wêreldwyd blootgestel word aan tweedehandse rook, oftewel die rook van mense wat rook. En die meeste van hierdie kinders asem tweedehandse rook in hul eie ouerhuis in.

Die direkte gevare van indirekte rook

Tweedehandse rook, of passiewe rook, ontstaan wanneer nierokers ’n mengsel inasem van die rook van ’n brandende sigaretpunt, pyp of sigaar saam met die rook wat ’n roker uitblaas.

In dié rokerige mengsel skuil daar tientalle giftige stowwe, waarsku die gesaghebbende Amerikaanse Omgewingsbewaringsagentskap. Die gevolg daarvan: Nierokers wat aan tweedehandse rook blootgestel word, loop ’n groter gevaar om hart- en longsiektes asook ander komplikasies van rook op te doen.

Syfers wys dat kinders wat saam met rokende ouers grootword, meer middeloorontsteking kry as hul maats wat rookvry grootword. Passiewe rokertjies se verkoue ontaard ook veel makliker in longontsteking en meer van hulle ly aan asma as kinders wat nie aan tweedehandse rook blootgestel word nie. Kinders wat ander se rook inasem, herstel daarby stadiger van siektes.

Dié kinders se tande verrot vinniger as ander s’n en hulle het ’n groter risiko om as jong baba te sterf aan wiegiedood, oftewel skielikebabasterfte-sindroom.

Die grootste gevare is egter long- en oorinfeksie en die kans om as volwassene tuberkulose op te doen, sê dr. Richard van Zyl-Smit, ’n longspesialis en hoof van kliniese navorsing by die Universiteit van Kaapstad se Longinstituut.

Van die “ligter” nagevolge van tweedehandse rook is ’n toe neus, hoofpyn, seer keel, oogirritasies en ’n hees stem.

Tweedehandse rook is nie net nou vir kinders skadelik nie, maar ook later in hul lewe. Navorsing wys kinders wie se ouers rook, is geneig om self eendag te rook. Ander langtermyngevolge sluit in swak longontwikkeling (met ander woorde hul longe ontwikkel nooit tot hul volle potensiaal nie), hartsiektes en ooginfeksies.

Dit lyk ook ál meer of hierdie kinders ’n groter kans het om kanker op te doen as dié wat nie blootgestel is nie. Hulle vaar dalk ook swakker in vakke soos wiskunde.

Is dit bewys?

Wetenskaplikes span bloedtoetse in om hul bevindings oor die nadelige uitwerking van tweedehandse rook op kinders te bewys. Dié toetse toon byvoorbeeld dat kinders wat aan rook blootgestel word, ’n gevaarlike hoë vlak van yster en lood in hul bloed kan hê. Dit verlaag op sy beurt weer hul weerstand teen siektes.

Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) draai nie doekies om oor passiewe rook nie. Op hul webtuiste beaam die vereniging dat daar geen veilige vlak van blootstelling aan tweedehandse rook is nie, en dat selfs kortstondige blootstelling skadelik kan wees.

Babas en kinders behoort groot te word in ’n omgewing wat heeltemal rookvry is, is Kansa se mening. Daar is meer as 800 chemikalieë in rook wat almal ’n verskeidenheid van probleme kan veroorsaak, waarsku Richard. Dit sluit in:

  • Nikotien, wat die immuunstelsel skaad,
  • Rookpartikels of koolstof, wat die selle van die long irriteer, en
  • Chemikalieë wat kanker kan veroorsaak.

Dit is dus nie net een van die chemikalieë wat die sondebok is, nie, maar ’n kombinasie van ’n klomp wat almal sleg is vir ons gesondheid – en veral vir ons kinders s’n.

Kinders is die kwesbaarste

Veral kinders kom sleg tweede as hulle ander se sigaretrook inasem. Medici gee hoofsaaklik drie redes daarvoor:

  • Kinders is nog besig om liggaamlik te ontwikkel en het ’n swakker immuunstelsel.
  • Hulle haal vinniger asem as volwassenes en asem dus meer lug in verhouding tot hul liggaamsgewig in as grootmense.
  • Kinders het baie minder beheer as volwassenes oor hul binnenshuise omgewing en kan dus nie sommer ’n plek verlaat waar daar gerook word nie.

Kinders wat aan hoë volumes tweedehandse rook blootgestel word, soos dié wie se ouers rook, het die grootste risiko om nou en later gesondheidsprobleme op te doen. In ’n neutedop is dit weens die onvermydelike blootstelling aan rook en hul swakker ontwikkelde immuunstelsel, sê die Kaapse longspesialis dr. Richard van Zyl-Smit.

Gehoor van derdehandse rook?

Die gesondheidsgevare van rook hou nie by tweedehande rook op nie. Daar is ook iets soos derdehandse rook! Dis ’n betreklik nuwe begrip, maar dis ook sleg vir babas en kinders se gesondheid.

Dit hou verband daarmee dat rook ’n rukkie in die lug bly hang en dan afsak om op allerhande oppervlaktes of in stofdeeltjies te beland waar dit baie lank kan bly. Derdehandse rook is daardie slegte reuk wat in die lug hang wanneer tweedehandse rook nie meer gesien kan word nie.

Dit beteken dus dat selfs al rook jy buite, jou kinders steeds aan die giftige stowwe in rookpartikels blootgestel kan word omdat die rook in jou klere en hare en op jou vel vasgevang word.

Die rook van net een sigaret in ’n vertrek met geen ventilasie nie skep ’n veel hoër konsentrasies van giftige stowwe as wat daaglikse aktiwiteite in ’n groot stad skep!

Giftige rookpartikels bly aan oppervlaktes klou – veral kleedstowwe – selfs al is die vertrek goed geventileer. Ons kan dit inasem of deur velkontak opneem. Die skade word dus nie beperk as jy ’n waaier aanskakel, die vensters oopmaak of lugversorging aanskakel nie.

Rook wat aan matte vasklou, kan veral vir kruipende babas gesondheidsgevare inhou. Om in ’n motor te rook is ’n ander groot taboe. In Suid-Afrika is dit al sedert 2008 teen die wet om te rook in ’n motor wat kinders jonger as 12 vervoer. Soortgelyke wette geld in Amerika,

Kanada en Australië. Ook in ’n motor maak ’n oop venster weinig verskil, want die rook beland op die bekleedsel en nie in die buitelug nie. Die gehalte van die lug in ’n motor waar gerook is, is dieselfde of swakker as die lug in rokerige kroeë – aldus studies waaroor die gerekende Amerikaanse Mayo-kliniek op sy webtuiste berig.

Die gevare van derdehandse rook behoort genoeg rede te wees om daarop aan te dring dat niemand by jou kind se dagsorgsentrum rook nie en dat sy oppasser ook nie rook nie.

Maar, voeg Richard by, die moontlike nadelige uitwerking van derdehandse rook op kindergesondheid is tans net teoreties en baie moeilik om te bewys.

Beskerm jou kind so

Die Unie vir Internasionale Kankerbeheer (UICC) beveel aan dat ouers hul kinders van so vroeg moontlik leer om van tweedehandse rook weg te bly. Moenie gaste toelaat om in jou huis te rook nie, selfs al is die kinders nie tuis nie, en ook nie in jou motor nie, selfs al is die kinders nie by nie. Hou jou kinders ook weg van openbare plekke waar rook toegelaat word.

Swangerskapo en tweedehandse rook

Dis nie genoeg om op te hou rook as jy swanger is nie – probeer ook wegbly van rokers. Tweedehandse rook hou hope gesondheidsrisiko’s vir ongebore babas in. Die longspesialis dr. Richard van Zyl-Smit sê ongebore babas is die heel kwesbaarste vir tweedehandse rook.

As hulle dit gereeld “inkry”, vergroot die risiko van ’n miskraam, voortydige geboorte, ’n laer geboortegewig, wiegiedood asook latere aandaggebrek, allergieë en asma.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees