Vraag:

My vierjarige kry deesdae nagmerries. Is dit waar dat sekere kossoorte dit kan veroorsaak? Of is daar iets wat ek vir haar te ete of drinke kan gee sodat sy rustig kan slaap? My ma glo vas ’n glas warm melk is ’n moet vir ’n gelukkige nagrus. Sal dit help?

Antwoord:

Nagmerries is baie algemeen by kinders, veral tussen drie en ses jaar oud. Dis die ouderdom waarop kinders alledaagse vrese begin ontwikkel en hul verbeelding baie aktief is.

Wat presies nagmerries veroorsaak is onbekend. Moontlike oorsake by kinders sluit in: algemene stresfaktore wat met grootword verbind word, ’n traumatiese gebeurtenis soos ’n ongeluk of operasie, aktiewe verbeelding, en koors.

Daar is min navorsing oor dieet en nagmerries, maar daar is gevind dat die volgende wel ’n rol kan speel:

  • Enige ete te na aan slaaptyd verhoog die risiko vir nagmerries weens die toename in metabolisme en breinaktiwiteit.
  • Studies het gevind dat ’n hoë inname van suikerbevattende kosse voor slaaptyd aanleiding kan gee tot nagmerries. Veral roomys en sjokolade is skuldig. Suiker voor slaaptyd verhoog die bloedsuikervlak. Met slaap daal die bloedsuikervlak weer en dit kan moontlik nagmerries veroorsaak.

Die aanbeveling is om alle vorms van suiker een tot twee uur voor slaaptyd te vermy. Die doelwit is om bloedsuikervlakke stabiel te hou deur te fokus op kos met ’n lae glisemiese indeks.

  • Daar is navorsing wat daarop dui dat ’n sterk gegeurde maaltyd na aan slaaptyd eienaardige drome kan veroorsaak. Dis omdat die metabolisme en liggaamstemperatuur toeneem, en dit hou verband met meer breinaktiwiteit.

Wanneer die liggaam hard werk om swaar of sterk gegeurde kosse soos mosterd, kerrie of tabascosous te verteer, word slaapkontinuïteit beïnvloed. Vermy sterk gegeurde kosse twee tot drie uur voor slaaptyd.

  • Tiramien is ’n afvalproduk wanneer die aminosuur tirosien afgebreek word. Tiramien is ’n stimulant vir die brein en word in die volgende kosse gevind: spek, kaas, sjokolade, eiervrug, ham, aartappels, wors, sauerkraut, spinasie, suiker en tamaties.

’n Warm glas melk is die algemeenste drankie wat verbind word met slaap en ’n goeie nagrus, maar is nie noodwendig die antwoord op slaapprobleme of nagmerries nie.

Melk bevat twee voedingstowwe wat verbind word met slaap en ontspanning: die hormoon melatonien en die aminosuur triptofaan. Die hoeveelheid melatonien en triptofaan in ’n glas melk is egter bitter min.

Die idee van ’n glas melk het meer van ’n sielkundige impak; dit word verbind met positiewe herinneringe oor slaaptyd en laat ’n mens ontspan en makliker aan die slaap raak.