Baie kinders doen wurminfeksies op. Die grootste sondaar is die draadwurm, wat veral algemeen is in die ouderdomsgroep waarin kinders dikwels hul hand in die mond steek. 

“Die wurms word aangesteek wanneer kinders met mekaar speel of saam swem, -bad of -slaap,” sê die Kaapstadse pediater dr. Paul Sinclair. 

Jy gril dalk tot in jou tone by die gedagte aan wurmbesmetting, maar hou goeie moed; dit kan eintlik baie maklik behandel word.

Sonder dat jy weet … 

Klagtes oor jeukende boudjies is dalk die enigste teken dat ’n wurm hom in jou kind se lyfie tuisgemaak het, met die gevolg dat jy heeltemal onbewus is van die infeksie. Dit beteken egter nie dat daardie wurms hulle nie laat geld nie. Paul verduidelik:

“Die manlike en vroulike wurm bring die hele dag in die dikderm deur en teer op uitskeiding terwyl hulle voortplant. Dan kom die vroulike wurm agter wanneer jou kind slaap…

Dis danksy ingeboude sensors wat haar inlig dat jou kind se hartklop en liggaamstemperatuur afneem.

“Sy wurm haar garingdun lyfie van2 tot 3 cm lank al met die dikderm langs tot by die anus, druk haar eie boud daardeur en lê honderde mikroskopiese eiers terwyl sy rondwikkel.”

Jig! Jig! Jig! Maar dis hoekom jou kind se boudjies in die aand meer jeuk.

Sussie slaap sleg

Wurms is ’n algemene oorsaak van slaaponderbreking en prikkelbaarheid. Die wurm se nagtelike bedrywighede kan jou kind wakker maak, want dit kan kwaai daar onder jeuk.

“Jou kind grawe dan in haar onderklere en krap haar boudjies omdat dit ongemaklik jeuk. 

”Ongelukkig versprei dit net die wurms deur haar bed en nagklere, en wanneer sy haar hand in haar mond sit, besmet sy haar van voor af,” verduidelik Paul.

MAAK DIT SKOON

Dis grillerig om aan jou kind se lyfie te dink as ’n vesting vir hierdie onwelkome skepseltjies – wat kan jy dus daaraan doen? 

“As jy vermoed dat jou kind wurms het, is dit belangrik om haar en die hele familie as ’n voorsorgmaatreël te ontwurm,” sê die pediater dr. Paul Sinclair. 

“Daarvoor het jy wyespetrum-wurmafdrywende middels nodig wat albedasool of mebendasool bevat. Was ook alle beddegoed en matrasse met vuurwarm water en waspoeier om herbesmetting te voorkom.”

Paul beveel ook aan dat jy voorskoolse kinders elke ses maande ontwurm, en kinders van skoolgaande ouderdom elke jaar. Dit sal hul ingewande wurmvry hou. Jy kan kinders al van tussen 12 en 18 maande oud begin ontwurm.