1. Wees konsekwent

Jou huisreëls gaan net krag hê as dit deurlopend toegepas word. Wat vandag geld, moet môre ook geld.
Dis soms moeite om konsekwent te wees, veral as jy moeg is, en nie lus vir baklei nie. Dan sien jy maar die oortreding oor, want dis makliker om die vrede te bewaar. Maar weet dit – as jy konsekwentheid begin toepas, spaar jy jouself op die lange duur baie meer tyd en moeite.

Hoekom dit werk vir jou kind? Jou kind weet presies waar jy staan. Hy sal soms nog jou grense toets, maar wanneer jy konsekwent is laat dit hom gekoester en geborge voel, al sit hy dalk `n keel op.

2. Kies duidelike grense

Jou kind moet presies weet wat is aanvaarbaar en toelaatbaar en wat nie. Kies die dinge wat vir jou die belangrikste is, en hou daarby. Die grense sal verskil van huis tot huis. Jou kind moet weet wat die grense is – jy moet dit op sy vlak aan hom kommunikeer - en dat die grense nie saam met jou bui verander nie. Hierdie reël is veral belangrik vir `n kind wat graag neul.

Hoekom werk dit vir jou kind? Grense laat jou kind veilig voel. Hy leer wat julle gesinswaardes is, en maak dit deel van homself. Dit help hom om selfdissipline en selfbeheer te ontwikkel. Verder leer hy ook oor regverdigheid.

3. Gee keuses met gevolge

Jou kind moet leer dat sekere gedrag sekere gevolge het. Die minder lekker gevolge word veroorsaak deur sy eie gedrag. Moenie wag tot die swak gedrag kop uitsteek voordat jy die gevolge begin verduidelik nie. Julle moet in kalm tye daaroor gesels, en jy moet jou standpunt duidelik maak.

Byvoorbeeld: wanneer jy vloerstuipe kry, gaan ek my doof hou en jou in jou kamer sit. Jy kan uitkom wanneer jy klaar is. Nog `n voorbeeld: wanneer jy mooi met my praat, luister ek. As jy op my skree of neul, ignoreer ek jou.

Hoekom werk dit vir jou kind? Hy leer om hom self te dissiplineer en self sy gedrag aan te pas. Hy leer om self verantwoordelikheid te vat vir sy dade.

4. Onderskei tussen die kind en die gedrag

Wanneer jou kind iets stouts of verkeerds doen, moet jy oppas om `n etiket om sy nek te hang, want `n kind kan maklik afgekraak voel en sy selfbeeld kan `n knou kry. Sê vir hom wat jy verkeerd gedoen het, hoekom dit verkeerd was en wat nou gaan gebeur, sonder om uit te maak asof die daad deel van sy persoonlikheid is.

Byvoorbeeld: jou kind skree op sy sussie en stamp haar. Moenie hom uitskel as `n onbeskofte monster nie. Sê eerder dat skree en stamp heeltemal verkeerd en onaanvaarbaar is, en dat hy nou alleen in sy kamer moet gaan sit as straf en dan vir sy sussie om verskoning moet vra.

Hoekom werk dit vir jou kind? Sy vertroue in jou onvoorwaardelike liefde kry nie so `n knou nie. Die klem is op sy gedrag, en nie op wie hy in wese is nie.

5. Praat sodat sy jou verstaan

Wanneer jy reëls en grense instel, moet jy dit nie in die hitte van die oomblik doen nie. Jy moet die reëls en grense, en die redes daarvoor, rustig en kalm aan jou kind kommunikeer, op `n vlak wat vir hom verstaanbaar is. Gee hom ook kans om vrae te vra. Vra hom om dit weer aan jou terug te verduidelik. So sal jy seker wees dat sy verstaan.

Hoekom werk dit vir jou kind? Kinders oortree dikwels onbewustelik, omdat hulle nie die reël verstaan het nie. Dis goed vir jou kind se selfbeeld as jy hom belangrik genoeg ag om die reël werklik aan hom te verduidelik.

6. Hou die toekoms in gedagte

Soms reageer jy vinnig en skerp op iets verkeerds, en ander kere sien jy dit maar oor. Probeer om jou eie emosionele toestand apart te hou van hoe jy dissiplineer. Hou die groter prentjie in gedagte. Met elke daad van jou kant af, leer jou kind iets en bou jy aan die mens wat hy eendag gaan wees. Dink langtermyn... wat verrig jy as jy nou wild skree en skel? En watse boodskap gee jy jou kind as jy te moeg is om hom te dissiplineer?

Hoekom werk dit vir jou kind? As jy aan dissipline dink as `n lewenslange proses waardeur jy jou kind opvoed, sal jou kind jou as meer voorspelbaar aanvaar. Dit skep vertroue en jul verhouding sal blom.

7. Moenie uitstel nie

Om goeie gedrag te versterk en swak gedrag te ontmoedig, moet jy dadelik op die gedrag reageer deur `n gepaste beloning of gepaste straf. Moenie wag tot vanaand nie, of dreig dat pa later gaan straf nie. Teen vanaand het jou kind al vergeet wat hy vanoggend verkeerd gedoen het.
Hoekom werk dit vir jou kind? Kinders het `n kort geheuespan, en die boodskap wat jy wil tuisbring is baie meer effektief as jy dit onmiddellik oordra. Jou kind voel ook belangrik wanneer jy so betrokke is, en dat hy `n prioriteit is, en nie iets wat altyd moet wag vir later nie.

8. Vang hom iets goeds doen

Jou kind soek eintlik regtig jou goedkeuring, maar weet ook nie altyd hoe om dit te kry nie. As jy jou kind prys vir wat hy reg doen, gaan hy dit beslis weer doen. Positiewe terugvoer kan wondere verrig, veral as jy voel dat jy altyd aan die baklei is. Neem jou voor om ewe veel aandag aan die goeie te gee.

Hoekom werk dit vir jou kind? Kinders floreer op positiewe terugvoer. Dit laat hom trots voel as jy raaksien hou oulik hy is.

9. Wees realisties

Weet jy wat tipiese gedrag vir `n 1-jarige is? As jy `n dissipline-probleem het, is die oorsaak moontlik heel eenvoudig dat jou verwagtinge onrealisties is. Sorg dat jy ingelig is oor wanneer `n kind wat kan doen, en hoe sy breintjie werk en ontwikkel. Dit dien geen doel om grense te stel wat bo jou kind se ouderdomsvermoë is nie. Wees realisties en pas jou dissipline daarby aan. Jy kan nie jou 2-jarige straf omdat hy na `n uur in die kerk gewriemel het nie.

Hoekom werk dit vir jou kind? Jy kan baie onnodige onderonsies vermy, en `n rustiger gesinslewe hê as jou verwagtinge realisties is. Jou kind sal kalmer wees, en minder gefrustreer deur sy eie (on)vermoë wanneer jy toepaslik reageer op ouderdomsverwante gedrag.   

10. Beplan en voorkom

'n Geroetineerde gesinslewe maak dissipline makliker. Wanneer hul roetine omver gegooi word, kan hulle moeg, honger en prikkelbaar raak, en dan begin hul gedrag agteruitgaan. Onthou, jou kinders het nie beheer daaroor nie. Dis die ouers se werk om roetine in te stel, en ook dinge makliker te maak wanneer `n roetine nie moontlik is nie. Neem altyd iets te ete en drinke saam as julle lank van die huis gaan weg wees, en beplan jou dinge so dat jou kind sy slapies kan inkry.

Hoekom werk dit vir jou kind? Jou kind is baie minder geneig om vloerstuipe te kry as hy gereeld eet en drink, en genoeg rus kry. As jy dit reg beplan, kan `n breuk in roetine `n avontuur wees, eerder as `n nagmerrie.