(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba en Kleuter, Jan 2015)

1. Die afskeid by die skool

Dit is dikwels vir ma moeiliker as vir haar kind. Hou dit kort en probeer maar om te huil waar jou kind jou nie gaan sien nie, want netnou sit jy iets aan die gang. Huil die vorige aand by die huis, of later die oggend op pad werk toe. As jou kind huil, is dit steeds beter om vinnig te groet – juffrou sal weet hoe om dit te hanteer. Die emosies van die dag kan selfs vir pa onkant betrap!

2. Pak ’n gesonde kosblik

Die versoeking is groot om bederfies vir die eerste dag in te pak, maar dis beter om te begin soos jy beplan om aan te hou. Bederf eerder met ’n nuwe kosblik of koel waterbottel en ’n briefie of plakkertjie as verrassing binne-in.

3. Gee jou kind die eerste oggend ’n stewige ontbyt

Senuwees kan haar ontbyt bederf; kies dus haar gunsteling-kos, al moet jy vroegoggend pannekoek bak!

4. Vroeg bed toe!

Gaan slaap die vorige aand vroeg. Jou kind sal dalk sukkel om aan die slaap te raak; begin dus jul gewone aandroetine ’n halfuur vroeër. Onthou om naels te knip, hare te was en ore skoon te maak.

5. Pak die vorige aand al tasse reg n sit sy skoolklere uit

Dit help dat die oggend tuis glad verloop. Natuurlik het julle álles op die lysie aangeskaf en jou kind het presies die regte klere – tot die haarrekkies is reg! As haar skoene veters het, maak seker dat sy lankal geleer het om dit self vas te maak. Pak ook sneesdoekies in haar tas en maak seker sy weet hoe om dit te gebruik.

6. Wees vroeg by die skool

Sorg dat julle lekker vroeg by die skool is sodat daar tyd is vir foto’s neem voor al die verrigtinge begin. Maak seker jou kind weet presies wat om ná skool te doen, of jy haar nou oplaai, of sy bus ry en of sy nasorg toe gaan.

7. Knyp tyd af by die werk

Probeer jou bes om tyd by die werk af te knyp sodat jy die eerste week smiddae tuis kan wees, of vroeër tuis kan wees. Jou kind gaan moeg wees en jou aandag nodig hê. Moenie te veel ekstra opwinding in die eerste ruk beplan nie. Jou kind het vir eers genoeg hooi op haar vurk. Die beste stresontlading vir kinders is oefening – hol lekker in die tuin rond en skop ’n bal tot julle papnat gesweet is.

8. Besoek die skool voor dit oop gaan

Kinders is soms angstig oor waar die toilette is. Probeer om die skool te besoek voor die eerste dag sodat julle dit saam kan verken en kan sien waar haar klas is en waar die toilette is. Ry ook sommer gereeld by die skool verby sodat alles vir haar meer bekend voel.

9. Wees n’ maatjie, maak n’ maatjie  

As jou kind baie skaam is, kan jy vir haar ’n goeie wenk gee: Om maatjies te maak, moet ’n mens ’n maatjie wees. Sê vir haar om haar te ontferm oor ’n ander kind wat koponderstebo staan. Deur dit te doen, help sy die ander kind én haarself.

10. Luister opreg na jou kind

As jou kind bekommerd is oor enige aspek van skoolgaan, gee haar die ruimte om daaroor te praat. Luister opreg, al klink dit vir jou onbenullig. Leer haar dan om probleemoplossend te dink: “Mamma sal nie laat wees nie, maar as ek is, kan jy na die tannie in die kantoor gaan en vra dat sy my bel.” Of oefen saam met haar hoe sy moet vra om die kamer te verlaat. Rolspel ’n paar situasies.

11. Jou kind is nie “groot” nie

Moenie aanhoudend daarop hamer dat jou kind nou groot is nie. Sy sal dit vining as druk ervaar as jy heeltyd sê sy moet haar nou soos ’n groot kind gedra. Moet ook nie dreig met die juffrou nie. Hou al jul geselsies oor skool positief. Moenie die skool of juffrou kritiseer waar jou kind jou kan hoor nie. Jy moet haar eerder laat glo dat daar ’n wonderlike nuwe wêreld op haar wag. Vertel sommer ’n staaltjie oor jou eerste dag.

12. Laat sy die juffrou se naam ken

Maak seker sy weet wat haar juffrou se naam is en in watter graadeen-klas sy is. As sy dan op die skoolterrein verdwaal, kan sy vra waar juffrou X se klaskamer is.

13. Merk alle skool klere

Maak seker ál haar nuwe skoolklere en skoolbesittings is gemerk. Laat sy jou daarmee help. As julle plakkers gekoop het met haar naam op, kan sy dit op alles aanbring. Dis ’n taak dié wat oor ’n paar dae kan strek, maar dit laat die kleingoed baie betrokke en belangrik voel. Met die nuwe, vol skedule, is dit tipies dat graadeens hul goed oral laat lê, veral in die eerste week of wat. Ongemerkte goed sal julle nooit weer terugkry nie – gemerkte goed sal heel moontlik weer hul baas vind. As iets ongemerks verlore gaan, is dit jóú skuld, nie jou kind se
skuld nie.

14. Wees baie entoesiasties oor huiswerk

Blaai elke dag deur die huiswerkboekie. Buiten die daaglikse huiswerk sal jy ook sien watter temas behandel word.

15. Wees betrokke by jou kind se skool  

Neem jou voor om betrokke te wees by die skool. Gaan na al die vergaderings toe sodat jy weet wat aangaan. Steek jou hand op om te help net waar jy kan. Maak seker jy ken die skool se reëls. Kinders stres wanneer dit lyk of ma en pa ook nie weet hoe dinge by die skool werk nie.

16. Sit n’ klein troosie in hul skool sak

Sit die aand voor skool ’n mooi, gladde klippie in jou kind se tas. Wys die klippie vir haar en sê dat as sy na jou verlang, sy net aan die klippie moet vat om te weet jy dink aan haar. Dis ’n tasbare herinnering aan jou konstante liefde. Wie weet, dalk hou julle die klippie tot matriek!