5 Stappe na goeie gesondheid

akkreditasie
Keer só allerhande nare siektes nog voor hulle jou kind kan aanval.

Daar is 'n rede waarom jou ma altyd gesê het voorsorg is beter as nasorg. Nou het ju jou eie spruite en jy wil graag vir hulle net die beste hê. Gesondheid is heel boaan jou lysie. Maar wat kan jy doen om jou kind se gesondheid te verseker? Ons bekyk die top vyf móétdoen-dinge vir goeie gesondhied.

1. Sy word wat sy eet

Kinders wat baie vrugte en groente eet, het ’n kleiner kans om eendag hartsiektes op te doen as dié wat die minimum eet, het Finse navorsers bevind. Hul navorsing het oor 27 jaar gestrek en is op kinders van drie tot 18 jaar oud gedoen.

Ander navorsing het gewys kinders so jonk as nege jaar oud het deesdae bloeddrukprobleme, wat
ook tot hartsiektes kan lei. Dis nie aldag maklik om jou kind te leer om gesond te eet nie. Jou sterkste teenstander is die media – advertensies van kinders wat lekkergoed en vetterige kitskosse verorber
word in tye uitgesaai wanneer jou kind gewoonlik voor die TV sit.

Hoe dan gemaak om haar van kleins af gebalanseerde eetgewoontes te leer? “Jou kind se dieet behoort al die voedingstowwe te bevat wat sy nodig het om te groei,” sê dr. Marietjie Weakly, ’n tand- heelkundige van Dental Ladies-tandheelkundiges in Roodepoort, Johannesburg.

“So ’n dieet bevat baie rou kos – rou groente en vrugte, graan, vleis, bone, neute, kaas en melk. ’n Gesonde eetplan help jou liggaam om weerstand op te bou teen virus- en bakteriese infeksies. Boonop het jou kind genoeg voedingstowwe en water nodig sodat haar brein kan dink, leer en onthou.”

Wat nie beteken sy mag nooit haar mond aan ’n pasteitjie, koekie of pizza sit nie. Die geheim is matigheid. As jou kind net soms ’n roomys, hamburger of sny verjaardagkoek eet, kan dit nie skade doen nie.

Leer haar oor voedingswaardes sodat sy later self met verantwoordelikheid haar kos kan kies.

2. Goeie mondhigiëne

Ons weet almal van “al in die rondte, voor en agter, op die tong”, maar is dit regtig genoeg vir jou spruit se optimale mondhigiëne?

Dr. Carmen Spies, ’n tandheelkundige van Dental Ladies, sê daar is baie wat ouers ekstra kan doen om goeie mondhigiëne te verseker. Behalwe dat die tandjies minstens twee keer per dag geborsel moet word, moet hulle ook tussen borseltye opgepas word.

Al ooit van xylitol gehoor? Dis ’n natuurlike versoeter wat in sommige vrugte en groente aangetref word, en wat tandbederf volgens navorsing met 80 persent verminder. Xylitol kan as ’n plaasvervanger vir suiker gebruik word en moet eintlik elke dag gebruik word. Dit kom voor in sommige lekkergoed, suikervrye xylitol-kougom en xylitol-jel.

“Gebruik dit veral ná elke maaltyd en snoephappie” sê Carmen. Dan kry ’n mens deesdae tandemousse
wat maklik aangewend word. As jy dié nuutjie twee keer per dag aan jou kleinding se tande smeer, voorkom dit gaatjies en kan dit selfs gaatjies wat in die eerste stadium van vorming is, herstel. Vra jou tandarts vir meer inligting hieroor.

Wat nog?

Die sorg en skoonmaak van jou baba se tande is belangrik. Melktandbederf kan die natuurlike proses
vervroeg waarvolgens dié tande uitval om plek vir permanente tande te maak. Die nadeel? Openinge tussen tande wat tande skeef kan laat groei en permanente tande skeef kan laat uitkom.

  • Daaglikse mondhigiëne moet begin sodra die eerste melktand verskyn. Vee jou kind se tandvleis skoon met gaas of ’n lappie. Borsel eerste tandjies met water.
  • Vermy gaskoeldrank en lekkergoed. Nie net bevorder die suiker plaakvorming nie, die gas belemmer die liggaam se kalsium-opname.
  • Vlos! Van heel kleins af.
  • Moedig jou kind aan om baie water te drink – dit verdun suur in die mond en voorkom plaak-aanpaksels.

3. Waak teen wurms

Praat van wurms en die meeste van ons gril. Maar dit is ’n nare werklikheid en wêreldwyd een van die algemeenste infeksies. Volgens nasionale riglyne van die departement van gesondheid moet kinders elke ses maande ontwurm word. Jy kan begin sodra jou kleintjie 12 maande oud is. Ontwurmings- medisyne vir kinders is as stroop of koubare pille beskikbaar.

Volgens die Mediese Navorsingsraad loop veral klein kinders die gevaar om wurms te kry. Dit kan
gebeur deur aanraking met sand of grond waar hulle speel, of hulle kan die wurmeiers deur hul mond inkry, byvoorbeeld as hulle groente eet wat natgelei is met water wat besmette grond bevat.

Wurms wat dikwels in kinders aangetref word, sluit in die rondewurm, sambokwurm en haakwurm. Dié outjies maak hulleself in jou kind se ingewande tuis en neem daar toe.

Besmetting kan tot gewigsverlies lei omdat kos nie behoorlik geabsorbeer word of die kind geen eetlus het nie. Dit kan ook bloedarmoede, ’n seer en/ of opgeswelde maag, braking, koors, diarree en lusteloosheid veroorsaak. In ernstige gevalle veroorsaak rondewurm ’n versperring in die ingewande en moet dit onder narkose verwyder word.

4. Hou klein handjies skoon

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sterf 3,5 miljoen kinders elke jaar aan diarree en
lugweginfeksies. Meer as 30 persent van kindersterftes in Suid-Afrika gebeur as gevolg van voorkombare aansteeklike siektes soos griep, longontsteking, waterpokkies en diarree.

Michelle van der Westhuizen, eienaar van die PE Babynet-babakliniek in Port Elizabeth, sê mense
keer dikwels as dit by hande was kom omdat hulle voel die liggaam se immuniteitstelsel word versterk
deur blootstelling aan kieme. “Tog is die teenoorgestelde waar, en die kieme is oral, van handvatsels tot
op speelgoed,” sê sy.

Hande was moet vir jou kleinding prettig wees. Michelle stel voor dat jy handseep met oulike prentjies en geure kies, soos die Not a Baby-reeks van Elizabeth Anne’s. “Sit ’n stoeltjie by die wasbak sodat hulle kan bykom. Kinders hou daarvan om dinge self te doen. Laat hulle ’n bietjie speel, al word die vloer nat.

Moedig die goeie gewoonte aan,” sê Michelle. Nog ’n oulike idee is ’n buisie handwasjel wat jy in jou handsak kan hou of in jou kind se rugsakkie kan pak om te gebruik wanneer daar nie water byderhand is nie.

Die WGO sê hoe

  1. Maak die hande nat en werk die seep tot ’n skuim op.
  2. Vryf die palms teen mekaar. Was die rugkante van die hande asook die vingers en veral tussen die vingers. Skraap die naels saggies teen die handpalms.
  3. Spoel deeglik met warm water af.

5. Speel-speel sterk en gesond.

Praat van oefening en al die grootmense dink onmiddellik aan moeite en sweet. Maar vir kinders moet oefening pret en alledaags wees.

Aktiewe kinders het sterker spiere en ’n sterker beenstruktuur, minder ongesonde vet, ’n laer risiko om tipe 2-diabetes te ontwikkel, laer bloeddruk en laer cholesterol . . . en dié outjies is oor die algemeen optimisties oor die lewe.

Skakel dus maar die TV af en jaag die kleinspan buitentoe! ’n Aktiewe leefstyl help jou kind ook om emosionele struikelblokke te oorkom en beter te slaap. Boonop kweek dit uithouvermoë (om vir boelies weg te hardloop), krag (steek die klimraam oor) en veerkragtigheid (buig en raak jou tone).

Uithouvermoë word opgebou deur aërobiese oefening. Die hart klop vinniger en asemhaling versnel. As dit gereeld gedoen word, sal die hart versterk en die liggaam se vermoë om suurstof na die organe te vervoer, verbeter.

Wanneer kinders klimraam of boom klim, speel-speel stoei of op hul hande staan, bou hulle al spelende krag. Soepelheid word weer verbeter deur wawiele, spreibeen sak, of om selfs te rek na ’n speelding wat ’n bietjie ver lê.

Hoeveel oefening is genoeg?

Jou kleuter moet minstens 1½ uur per dag aktief wees (vryspel), ’n voorskoolse kind twee uur (’n uur vryspel en ’n uur beplande aktiwiteite) en ’n skoolkind een of meer uur per dag, in segmente van 15 minute of meer verdeel.

Blitswenke

  • Maak seker jou kind eet ontbyt. Dit sal nie net voorkom dat hy hom tussendeur aan peuselhappies
    vergryp nie, maar hom ook wakker en produktief hou.
  • Beproef gereeld nuwe kossoorte en -geure. As jy jou kleinding geleidelik aan nuwe kossoorte
    blootstel, sal jy help sorg dat hy later ’n groter verskeidenheid by sy dieet insluit.
  • Beperk die hoeveelheid suiker in jou kind se dieet. Onthou, suiker kom selfs in sommige tamatie- en slaaisouse voor. Te veel suiker vroeg in haar lewe kan meebring dat sy later niks sonder suiker wil hê nie.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees