5 Grotes

akkreditasie
Jou kind se vyf sintuie is die belangrikste gereedskap wat sy het om die wêreld om haar te verken en te leer verstaan. Met die prettige speletjies kan jy haar sintuie verder verskerp.

As sy die wind deur haar hare voel waai, haar middagete tussen haar vingers papdruk, na ’n liedjie luister of haar knuffeldiertjie liefdevol streel, span jou kind haar sintuie in. Die vermoë om te sien, hoor, proe, voel en ruik is van die belangrikste leergereedskap wat sy kan hê; dis wat sy gebruik om die wêreld beter te leer ken en verstaan.

Jou kleuter sal in die loop van haar dag self baie sintuiglike ervarings hê, maar jy kan dit verder versterk met prettige sintuigspeletjies.

Reuk-eksperimente

Trek albei wit laboratoriumjasse aan en maak gereed vir die groot snuifsessie!

Jy kan gebruik: koffiepoeier, piesang, lemoenskille, haar gunsteling-koeldrank, kaneelstokkies, grondboontjiebotter, suurlemoen, roosblare, uie, koekies, wattebolletjies gedoop in parfuum, asyn of vanieljegeursel.

Plaas al die produkte in botteltjies of bakkies. Laat jou kleinding die produkte geblinddoek ruik. Sy moet vooraf sien wat daarin is sodat sy makliker ’n prentjie by die geur kan pas. Moenie van haar verwag om al die reuke te onderskei nie. As sy sukkel, laat haar aan die produk voel of gee leidrade.

Gesels oor wat sy ruik. Ruik die koekies vir jou soet? En die asyn? Wat ruik die lekkerste? En wat ruik baie dieselfde? Waaraan laat die reuk van kaneel jou dink? Hoe laat die reuk van vanieljegeursel jou voel? Gesels dan met jou kind oor watter reuke waar in jul lewe inpas.

Hierdie speletjie sal jou kleuter se reukverbeelding wakker maak en haar bewus maak daarvan dat dinge verskillend ruik en dat sy sekere ervarings met sekere geure kan verbind.

Maak haar voortdurend bewus van die reuke om julle. Beskryf wat julle ruik sodat jou kind ’n woordeskat kan ontwikkel om reuke mee te beskryf soos stink, soet, lekker en skerp. Om goed te kan ruik voeg gehalte by jou kind se lewe. Haar reuksin speel ’n belangrike rol in haar emosionele belewing van die wêreld.

Dink maar hoe die geur van ’n spesifieke naskeermiddel jou onmiddellik aan jou eerste liefde herinner! Reuk kan jou kind help om dinge van mekaar te onderskei, soos ’n lemoen- van ’n suurlemoenskyfie, maar dit kan haar ook teen gevaar beskerm, soos wanneer sy rook of gas ruik.

Proe-plesier

Toets haar smaakkliere terwyl julle kuns doen. Trek jul voorskote aan en pak twee bakplate en kombuisbestanddele met ’n verskeidenheid smake uit. Sy mag met enige liggaamsdeel teken – van haar neus tot haar oor, elmboog, toon of vingers. Moedig haar aan om soveel moontlik liggaamsdele in te span.

Maak kitspoeding of jellie van verskillende geure aan, gooi dit uit op die bakplaat sodra dit gestol het, en laat haar daarin teken of patrone trek. Sy kan haar kunswerk versier met piesangskyfies, stukkies appel, rosyntjies, pynappelstukkies of suurlemoenskyfies. Moedig haar aan om aan alles te proe en vra: Is dit soet? Is dit vir jou lekker? Of sleg? Is dit sout? Is dit suur? Is dit hard? Is dit grof of sag?

Gooi suiker of sout in die bakplaat en laat haar daarin patrone maak of teken. Laat haar ’n vingerpuntjie daarvan proe en vra sy moet die smaak beskryf.

Laat haar ’n mannetjie “teken” deur haar vinger in water te druk, op die bakplaat te smeer en daarna droë jellie oor te strooi tot dit ’n prentjie vorm. Julle kan dit ook doen met speserye, kaneelsuiker of kruie. Tussendeur kan sy natuurlik ruim proe en alles beskryf!

Smaak gaan nie net oor lekker eet en drink nie. Babas druk nie verniet alles wat hulle kan raakvat heel eerste in hul mond nie: Die mond is ’n uitstekende ontdekkingsmeganisme, en smaak is ’n belangrike manier waarop jou kleinding leer onderskei tussen wat eetbaar is en wat sy liefs moet vermy.

Deur die herkenning van smake aan te moedig, help oefen jy haar brein om tussen verskille in smaak, tekstuur en temperatuur te onderskei, wat haar help met die uitkenning van kosse.

Klanke klink só

Vul twee blikkies kwart vol met rys, twee met boontjies, twee met munte, twee met sand, twee met klokkies, twee met skuifspelde, twee met blare, twee met knope, twee met sade en twee met pasta. Maak toe en meng die inhoud deurmekaar.

Laat jou kind die blikke skud en raai wat daarin is. Help haar om elkeen se pasmaat te vind. Terwyl julle speel, kan julle gesels oor hoe die klanke klink. Die knope raas hard, maar die rys se geluid is sagter. Die blare is skaars hoorbaar.

Skud die blikkies vinnig en stadig en vra sy moet sê of die klank vinniger of stadiger, ver of naby klink. Luister sommer ook watter geluide julle in en om die huis kan hoor en beskryf dit.

Deur haar gehoor leer jou kleinding hoe om klanke te onderskei en na te boots, en uiteindelik taal te ontwikkel. Gehoor is ook ’n belangrike leidraad ten opsigte van haar omgewing.

Deur haar ore kan jou kind gevaartekens waarneem, soos die klank van ’n aankomende motor, sy leer om haar te oriënteer ten opsigte van die klanke om haar en omdat dit so nou verband hou met kommunikasie, speel dit ook ’n belangrike rol in haar persoonlikheid en gedrag.

Vingers wat vat

Vul jou kleinding se sandput met allerlei interessante voorwerpe uit jou tuin, ’n paar van haar gunsteling-speeldinge en ’n paar lekkergoed. Laat haar haar hande daarin steek en in die sand grawe op soek na die voorwerpe. Sy mag nie kyk hoe die item lyk nie, maar moet elkeen wat sy wil uithaal, eers met haar hande bevoel tot sy ’n idee het hoe dit lyk.

Gebruik dan hierdie items om ’n reuse collage te maak met tuinvoorwerpe soos takkies, blare en stokkies.

Aanraking is belangrik vir die algehele ontwikkeling van jou kleinding se sentrale senustelsel. Die tasstelsel speel ’n belangrike rol in beskerming teen gevaar, en help ons om te identifiseer wat ons aanraak. Die vel stel jou kleinding in staat om te onderskei tussen pyn, hitte, koue en druk, wat alles belangrik is om haar liggaam veilig te hou.

Soek vir Sarel

Steek ’n speelgoedkaraktertjie van sowat 10 cm hoog oral in jou huis weg waar dit heel sigbaar is, maar tog tussen ander speelgoed, en laat jou kind daarna soek. Dit kan op die speseryrak tussen die botteltjies staan, in die badkamer op die wasbak, in haar kamer op die boekrakkie of tussen haar skoene.

Die idee is dat dit ’n voortdurende speletjie in die huis word sodat jou kind gedurig op die uitkyk is vir “Sarel”, amper net soos in die bekende Find Wally-boeke. Gee jou kleuter leidrade as sy vashaak. So leer sy om heeltyd visueel wakker en bewus van haar omgewing te wees.

Jou kind se sig is die belangrikste manier waarop sy van die wêreld om haar leer, en jy kan haar help deur haar toenemend bewus te maak van haar omgewing en wat daarin te sien is. In die proses sal sy leer om een voorwerp tussen baie ander uit te ken, om dadelik te sien as iets onvanpas is, en om verskille en ooreenkomste tussen voorwerpe raak te sien.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees