5 suksesvolle dissipline-kunsies

akkreditasie
Hier is 'n kundige se 5 beste maniere om te sorg dat die kroos doen wat jy vra - en drie ma's deel hul suksesvolle dissipline-kunsies. 

As jy wil weet hoe om jou kinders op die regte pad te hou, wie beter om te vra as ’n kinderkenner – en ander ouers wat al daar was, dit gedoen het en die T-hemp het om dit te bewys? Dis hoekom ons vir hierdie artikel oor dissipline by ’n sielkundige en ’n paar regte ma’s gaan kers opsteek het.

Naomi van Wyk, ’n kliniese sielkundige van Stellenbosch, bied gereeld dissipline-werksessies vir ouers aan en reken dié vyf planne werk die beste.

Aandag aftrek

Dis die aangewese dissipline-metode vir peuters. Hul aandagspan is só kort dat aandagafleiding baie meer doeltreffend is as om ’n handjie te slaan wat vat waar, of doen wat hy nie moet nie. Aandag aftrek kan ook baie help wanneer ouer kinders met mekaar baklei.

Hoe doen jy dit? Gee vir die twee wat stry ’n idee vir ’n nuwe speletjie waar hulle alleen kan speel en afkoel. Of nog beter, iets wat hulle sal help om saam te werk.

Humor

Humor is baie doeltreffend mits jy dit reg inspan, sê Naomi. Moet nooit jou kinders laat voel dat jy vir hulle lag nie, want niemand hou daarvan om uitgelag te word nie. Gebruik humor ook met sensitiwiteit vir kinders se soms lomp pogings om dinge reg te kry.

Hoe doen jy dit? Lag vir jou kind se gedrag, nie vir hom of haar nie. Dit help ook as jy soms vir jouself kan lag as jy iets “verkeerd” gedoen het. As jou kinders oor ’n speelding baklei, kan jy byvoorbeeld ’n soortgelyke speelding gryp en dit op jou kop sit. Loop in die rondte, tree laf op en sê jul stryery laat Mamma lawwe dinge doen! Die stryery sal gou vergete wees.

Positiewe versterking

Die gesegde sê jy is wat jy eet, en dis waar van kinders ook. Hul stapelvoedsel is aandag. Deur aandag te gee aan die dinge waarvan jy meer wil sien, soos twee kindertjies wat rustig saamspeel, versterk jy daardie gedrag.

Ongelukkig is baie van ons meestal besig om gou die skottelgoed te was of kos te maak terwyl ons kinders rustig speel en gee ons eers aandag wanneer hulle op mekaar begin skreeu. Dán begin ons dikwels sommer saamskreeu – en dit is beslis nie doeltreffend nie, sê Naomi. Onthou dat negatiewe aandag soos skreeu, skel en slaan ook aandag is.

Hoe doen jy dit? ’n Baie goeie manier om positiewe versterking te gee is om met ander mense oor jou kinders te gesels terwyl hulle in die geselskap is. “Ek hoor so dikwels ma’s met mekaar gesels en dan vertel hulle vir mekaar al die nare dinge wat hul kinders doen – kinders let baie meer op na hierdie gesprekke as wat jy dink,” sê Naomi.

Dis baie kragtig om vir iemand anders te vertel hoe wonderlik dit vir jou is as jou seuntjie so mooi met sy sussie speel – al moet jy soms ’n bietjie aandik – terwyl hy binne hoorafstand is.

Ritme en roetine

Dis seker een van die heel beste dissipline- planne. Jy kan byna 80 persent van probleme met dissipline uitskakel as jy kinders se lewe vereenvoudig met ’n bekende, voorspelbare ritme en roetine.

Ritme skep veiligheid. As ’n kind weet wat jy elke dag van hom verwag en dit elke dag doen, hoef julle nie elke keer daaroor te veg nie.

Hoe doen jy dit? Hou by ’n gereelde roetine van vaste eet-, bad- en slaaptye. Voeg later dinge soos vaste televisiekyk en rekenaarspeel-tye by.

Dis nie myne nie, dis nie joune nie

In die geval van nukke of ’n onderlinge bakleiery is dit belangrik dat jy onderskei wie se probleem dit is voor jy inspring om die situasie te beredder. As ’n kind iets doen wat vir jou onaanvaarbaar is, is dit jou probleem. Jy is die een wat moet seker maak dat die situasie verander. Maar as jou kind nie hou van wat jy doen nie, is dit sy probleem.

“Jy kan natuurlik help om die probleem op te los, maar wees versigtig dat jy nie verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie,” sê Naomi.

Hoe doen jy dit? As jy vir jou kind ’n geel koppie gegee het en hy val op die grond neer en skreeu omdat dit die blou koppie moes wees, is dit sy probleem. Jy hoef dit nie reg te stel, te baklei, toe te gee óf te onderhandel nie.

Help hom om “sy probleem” op te los deur te simpatiseer en dalk vir hom voor te stel wat beter sal werk as skop en skreeu, byvoorbeeld mooi vra of hy die blou koppie mag kry eerder as die geel een.

Sodra hy jou egter begin slegsê of slaan, en dit is vir jóú onaanvaarbaar, word dit jou probleem en moet jy iets aan die onaanvaarbare gedrag doen, soos deur hom na sy kamer te stuur om daar te skreeu tot hy bedaar het. Naomi sê dit klink miskien soos ’n vreemde onderskeid om te tref tussen dit wat jou probleem is en dit wat die kind se probleem is, maar dis tog belangrik.

“As ouers is ons baie geneig om te dink alles is ons verantwoordelikheid en aanvaar ons dikwels te veel verantwoordelikheid vir die dinge wat ons kinders doen.” As Mamma boonop heeltyd alles regstel hoef die kind nooit verantwoordelikheid te aanvaar om sy eie probleme op te los nie.

Sterkaarte

“Sterkaarte is veral van nut as die gedrag wat jy wil verander baie konkreet is, soos bed opmaak in die oggend. Baie mense maak egter die fout om sterkaarte te gebruik vir begrippe wat vir kinders vaag is, soos ‘soet’ of ‘gehoorsaam’ wees.

As jy nie die gedrag wat jy wil verander kan tel nie, kan ’n sterkaart nie werk nie,” is Naomi se raad. Sterkaarte is ’n bietjie soos wanneer jy ’n troeteldier wil leer om iets te doen: Jy versterk of beloon die gedrag waarvan jy meer wil sien regstreeks en dit veroorsaak dat jy meer van daardie gedrag sien.

Sterkaarte moet egter baie konsekwent gebruik word om dit suksesvol te maak. Die belonings moet byvoorbeeld iets wees wat die kind graag wil hê. Nie almal wil sterre hê nie! Jy kan dikwels dieselfde resultate kry deur bloot jou kind te prys vir gedrag waarvan jy meer wil sien.

Wat werk nie?

Dié drie planne kan jy maar los, sê Naomi:

Skel en skree

Jou kinders leer by jou hoe om probleme op te los. As jy die probleme wat jy met hulle het oplos deur te slaan, skreeu en skel, gaan hulle dieselfde doen wanneer húlle ’n probleem het. “Probeer dus om jou altyd duidelik uit te druk en op ’n manier wat jy graag wil hê hulle moet ook gebruik, sonder om dit natuurlik te lank of ingewikkeld te maak.”

Hoe bly jy kalm?

As jou kind(ers) se gedrag onaanvaarbaar is kan jy byvoorbeeld vir hulle sê “Dit werk glad nie vir my as jy op my skreeu nie; jy kan mooi praat of jy kan kamer toe gaan”. As die gedrag voortduur sonder dat jou kind op jou aanmaning reageer, sê ferm “Ek sien jy kies om kamer toe te gaan”.

Stuur jou kind dan kamer toe tot sy weer rustig is. “Deur dit alles kalm te doen leer jy jou kind dat sy ook probleme kan oplos deur kalm te bly, maar tog ferm te wees.”

Aanhoudende geneul

“Tel nou jul speelgoed op! Julle het dan nog nie die speelgoed opgetel nie! Wanneer gaan julle die speelgoed optel? Hoeveel keer moet ek nog sê tel jul speelgoed op!” Klink dit bekend?

Waak daarteen om jou kinders daaraan gewoond te maak om jou te ignoreer, sê Naomi. “Wag tot jy reg is om seker te maak dat ’n opdrag wel uitgevoer word vóór jy dit vir hulle gee. Kinders kan aan jou stemtoon agterkom wanneer jy begin ernstig raak.”

Jok

Ouers jok soms om hul kinders sekere dinge te laat doen of nie te laat doen nie, soos om te sê “As jy te naby aan die pad loop, gaan die monster jou vang”. Dié gejokkery word volgens Naomi maklik ’n gewoonte.

Kinders kom baie gou agter as jy nie die waarheid praat nie. “Probeer om nooit jou kinders met iets te dreig wat nie uitvoerbaar of waar is nie – jy verloor net hul respek.”

Wie's baas

Jy mag maar die baas in jul huis wees. Kinders moenie in beheer van die huis wees nie, sê die Stellenbosse sielkundige Naomi van Wyk. Dis te veel werk vir mensies wat eintlik nog moet speel.

Jou spruit hoef byvoorbeeld nie te kies wanneer sy gaan slaap of wil TV kyk nie; dis jou verantwoor- delikheid. “Ek het al baie ma’s gesien wie se kinders hulle aan hul neuse rondlei omdat hulle voel hulle mag nie die baas wees nie. Jy het meer kennis, ervaring en vaardighede as jou kind. As jy nie die baas is nie, moet jou kind dit wees en dis onregverdig teenoor julle albei.”

Naomi se heel beste raad:

Ma’s maak ook foute, maar dit is nie die einde van die wêreld nie. Kinders gee ’n mens baie kanse om dinge reg te stel en kry nie naastenby so maklik emosionele skade as wat ’n mens dink nie.

Ma-geheime

Christie Bresler, ’n ma van drie van Bultfontein in die Vrystaat, sê dié plan werk omtrent altyd vir haar spannetjie.

Ek bedink altyd ’n aktiewe doen-ding vir die kinders om ontslae te raak van ’n onderlinge bakleiery: Ek stuur hulle byvoorbeeld om die tou aan die boom uit te klim of die roetepaadjie te gaan hardloop. Dit trek die aandag gou af van die bakleiery.

Dissipline is beslis baie doeltreffender as ek luister en aktief dissiplineer deur aan hulle te raak of na hul hoogte af te sak sodat ek hulle in die oë kan kyk. Ek maak so seker hulle luister.

Adél Steyn, ma van twee van Harrismith in die Vrystaat, maak van fantasie gebruik.

Fantasie verg ’n bietjie werk van ’n ouer, maar dit is altyd die moeite werd en dit help almal om deur ’n sieldodende roetine soos tande borsel en aantrek te kom wanneer dit net nie wil vorder nie. So kan die tandeborsel verander in ’n dinosourus wat kos uitgrawe, of arms en bene word treine wat deur ’n tonnel (mou of broekspyp) ry as dit by aan- en uittrek kom.

Omdat dit prettig is en aanraking insluit, verlaag dit almal se spanningsvlak en word dit sommer ’n bindingstyd vir ouer en kind.

Nelia Andrag, ma van drie van Durbanville, sê dié oulike plan werk vir hulle.

Elke kind versier ’n blikkie en daarin sit ons 10 sosatiestokkies. As iemand ongehoorsaam is, verloor hy ’n stokkie uit sy blik. Elke aand tel ons die stokkies en vir elkeen wat oorbly kry hul 10 sent. Dit is dan sommer ook hul sakgeld.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees