As boet en sus baklei

akkreditasie
Dit gebeur in meeste gesinne: dat boeties en sussies vassit. As die bakleiery hand uitruk in jou huis, volg ons wenke om die vrede te herstel.

Jou kinders het nog skaars die oggend hul oë oopgemaak of die hare waai soos hulle baklei. Jy wens jy kan net die kussing oor jou kop trek, want jy weet dit sal die hele dag so aangaan: Elke klein dingetjie verander in ’n gestryery – van wie se pap die meeste is tot wie eerste op die swaai moet ry.

Medespruit-konflik is die kruis van alle ouers met meer as een kind. Die goeie nuus is dat jou kind in die proses waardevolle vaardighede aanleer.

Die 8 topredes waarom Boet en Sus baklei

Kinders se gedrag is ’n uitdrukking van hoe dit diep binne met hulle gaan, sê Hettie Redelinghuys, ’n opvoedkundige sielkundige van Bloemfontein en self ma van twee spruite. As daar konflik tussen jou spruite is, moet jy vasstel wat dit veroorsaak.

“Ons moet by die kern van die simptome uitkom. Wat ’n kind doen of sê, weerspieël wat in sy hart aangaan. Dis dus nodig dat ons nie net fokus op wat gesê of gedoen is nie, maar op hoekom dit gebeur het.”

Ek soek aandag!

Soms voel kinders hulle moet meeding om hul ouers se beperkte tyd, aandag, liefde en aanvaarding. ”Wanneer ’n tweede kind gebore word, kan die oudste voel dat hy nou heelwat minder aandag kry,” sê Hettie. “As hy baklei, manipuleer hy jou om aandag te skenk.”

Ma hou meer van sussie

As medespruite baklei, gaan dit dikwels oor jaloesie, kompetisie en vergelyking, sê Hettie. Uiterlike skoonheid, intelligensie en spesifieke talente is alles moontlike areas vir ongunstige vergelyking en moet versigtig hanteer word. Dikwels is die rede vir die wrywing dat die kind hoop sy ouer sal sy kant kies.

Dis myne!

Jou kinders kan ook baklei om hul ruimte en persoonlike eiendom te beskerm, sê Hettie. Elke kind het ruimte van sy eie nodig, soos ’n eie kamer waaroor hy die septer swaai. Dieselfde geld vriende en speelgoed. Hy wil voel: “Daar is iets wat net myne is en waaroor ek in beheer is.” So leer kinders mekaar se eiendom respekteer, maar hulle leer ook dat verhoudings geskaad kan word as ’n mens selfsugtig is oor jou eiendom, ruimte of vriende.

Dis onregverdig!

Kinders is baie gesteld op regverdigheid en dis belangrik dat jou kinders nie voel jy bevoordeel een bo die ander nie, sê Hettie. “Dikwels kry veral hiperaktiewe of woelige kinders onregverdig die blaam. Ouers moet dus moeite doen om sake met wysheid te hanteer, en let op regverdigheid en die gelyke verdeling van mag tussen die kinders.”

Veranderende behoeftes

Soos jou kinders groter word, verander hul behoeftes, vrese en gewoontes – en dit beïnvloed die verhouding tussen medespruite. Dis normaal dat jou kinders deur verskillende fases gaan waar hulle op ’n sekere ouderdom onafskeidbaar is, net om mekaar ’n paar maande later aan die hare te gryp.

Individuele temperamente

Kinders verskil en net soos alle volwassenes nie oor die weg kom nie, kan jou kinders se persoonlikheid ook ’n rol speel in hoe goed hulle oor die weg kom.

Ouers se voorbeeld

Hoe jy en jou lewensmaat konflik oplos, beïnvloed hoe die klein na-apertjies dit doen. Stry gerus op ’n “mooi” manier voor die kinders, maar vermy negatiewe konflik waar hulle is.

Gesinsdinamika

Jou kinders se posisie in die gesin, geslag, hoeveel kinders daar is en hul ontwikkelingsfase beïnvloed alles die vrede in die huis. Jou oudste kind kan byvoorbeeld voel hy word verantwoordelik gehou vir die jongste en hom begin kwalik neem, of jou jongste kan jaloers wees op jou oudste se voorregte. Wanneer daar drie kinders is, kan dit gebeur dat twee saamspan teen een.

Keer die bakleiery

Dis ongelooflik belangrik dat ouers konflik tussen medespruite hanteer. Dr. William Sears, Amerikaanse ouerskapsghoeroe en pa van agt, sê die graad van medespruit-konflik en of dit in die toekoms ’n positiewe of negatiewe nadraai sal hê, hang af van hoe jy dit nou hanteer. Die goeie nuus is dat daar baie is wat jy kan doen om dit te help voorkom.

  • Doen moeite om genoeg alleentyd saam met elkeen van jou kinders deur te bring sodat hulle nie begin veg net om jou aandag te ry nie. Selfs net tien minute ’n dag kan ’n reuse verskil maak.
  • Soek ’n patroon: Soms baklei kinders op spesifieke tye, soos wanneer hulle honger, dors of moeg is. As dit is waarom hulle smiddae ná skool in die motor baklei, kan jy ’n ligte versnapering inpak wat sommer ook hul aandag aflei. Soms is ’n verandering in roetine al wat nodig is om jou spannetjie beter met mekaar oor die weg te laat kom.
  • Reël gesinsaktiwiteite wat vir almal lekker is. Lekker ervarings sal jou kinders sterker saamsnoer.
  • Bou doelbewus medespruit-vriendskap. Laat jou kind soms ’n lekkertjie in boetie of sussie se kosblik sit met sy naam by. So leer hy om in sy medespruit se lewe te belê. Of speel ’n speletjie waar julle beurte maak om iets moois van die ander te sê.
  • Moenie jou kinders met mekaar vergelyk nie. Vergelykings soos “Hoekom is jy nie so soet soos jou sussie nie?” tas ’n kind se menswaardigheid aan. Jou kind moet in sy diepste wese voel dat hy goed genoeg vir jou is net soos hy is.
  • Vier jou kinders se verskille. Probeer sover moontlik regverdig wees, maar aanvaar dat jy nie al jou kinders eenders kan behandel nie, aangesien hulle unieke behoeftes het.
  • Besluit op ’n vaste stelsel om voorregte waaroor jou kinders baklei, uit te deel, soos “Jannie kan Woensdae voor sit en Susan Donderdae”. As dit kom by die verdeling van lekkers, sorg dat as die een dit verdeel, die ander eerste kan kies.
  • Prys jou kinders as hulle mooi saamspeel.
  • Maak seker elke kind kry genoeg tyd en ruimte van sy eie. Moenie hulle dwing om met mekaar te speel nie – almal het soms ’n behoefte aan eie tyd.
  • Moenie jou oudste kind die rol van ouer vir jou jonger kinders laat speel nie. Hy moet as een van die kinders hanteer word.
  • Stel vooraf grense: Hulle mag mekaar nie lelik terg nie, hulle mag mekaar nie fisiek of emosioneel seermaak nie, hulle mag mekaar nie lelike goed toesnou of hulle verlekker in die ander se straf nie.
  • Stel self ’n voorbeeld van goeie konflikhantering.

Wanneer hulle baklei

Die maklikste manier om ’n einde aan ’n gestryery te maak is waarskynlik om die twee vegters van mekaar te verwyder tot albei weer kalm is. Tog beveel kenners aan dat jy nie te vinnig ingryp nie, maar eerder die situasie monitor en die strydende partye kans gee om self hul geskil op te los.

As jy elke slag dadelik ingryp, kan jou kinders begin verwag dat jy elke keer hul saak moet beredder eerder as dat hulle self ’n oplossing vind. Jy kan ook onbewustelik die indruk skep dat jy gedurig een kind beskerm, wat jou ander kind gegrief kan laat voel. En die kind wat voordeel trek uit jou inmenging, kan voel hy kan maar weer so iets doen want jy sal hom elke keer red.

Stel egter perke, sê Hettie. “As hulle wil stry of baklei, kan hulle, maar hulle mag nie jou vrede steel nie. Hulle het dus die reg om op ’n ander plek verder te stry. As hulle voor jou verder stry, moet hulle die gevolge dra, byvoorbeeld deur elkeen ’n werkie te kry om te doen.”

Indien jou kind by jou kom kla oor ’n boetie of sussie, is dit belangrik om aanvanklik te luister, al twee in te roep en dan te sê hulle moet ’n plan uitwerk en jou roep wanneer hulle die plan gemaak het, stel Hettie voor.

“Soms kan jy sê hulle moet sorg dat hulle verder in vrede speel, anders gaan hulle die gevolge van hul dade moet dra.”

As jy ’n geveg beëindig, moenie fokus op wie se skuld dit was nie. Behalwe dat jy waarskynlik die skuldige party verkeerd gaan identifiseer – ’n ma sien mos gewoonlik die reaksie op die aksie – verg dit twee om te baklei. Albei was betrokke en behoort deel van die skuld te dra.

Probeer ’n wen-wen-situasie uitwerk, waar hulle self met die oplossing vorendag kom. “Die kleiner kinders kan net vir mekaar sê hoekom hul kwaad is en dan jammer sê,” is Hettie se voorstel. Help jou kinders om hul gevoelens in woorde uit te druk.

Wanneer om in te gryp

Gryp onmiddellik in as jou kinders so baklei dat dit gevaar inhou, hulle mekaar emosioneel of fisiek seermaak of eiendom beskadig. William Sears sê sou ’n ouer nalaat om in te gryp waar emosionele of fisieke aftakeling van ’n kind plaasvind, kan medespruit-verhoudings vir lewenslank daaronder ly.
“Navorsing het gewys medespruite met slegte verhoudings word sonder ouerlike leiding volwassenes met slegte verhoudings.”

Moet dus nooit toelaat dat jou kinders mekaar boelie nie – of dit nou met woorde, emosioneel of fisiek is. Onthou, deur stil te bly terwyl jou een kind die ander afkraak, kies jy eintlik die boelie se kant. Kyk veral uit vir situasies waar een kind heeltyd die slagoffer is en nie terugbaklei nie. Dit kan verhoudings permanent opdons as jy nie betyds ingryp en jou kind in hierdie situasie beskerm nie.

Maak hulle uitmekaar en wanneer hulle kalm is, praat met hulle oor wat gebeur het en stel dit duidelik dat jy boeliegedrag onaanvaarbaar vind. Gee riglyne vir positiewe konflikhantering en lei hulle om hul eie – en hul medespruite – se gevoelens te verstaan.

Volgens Hettie is kommunikasie van die uiterste belang as dit kom by boeliegedrag, omdat jy moet uitvind wat die behoefte is wat jou boeliekind op so ’n negatiewe manier uitdruk.

Belangrike lewenslesse

Al is medespruit-konflik vir jou stresvol, help dit jou kinders om vaardighede te ontwikkel soos om konflik vreedsaam op te los, ander se standpunt in te sien, te onderhandel, kompromieë te tref en hul humeur te beteuel.

Ekstra bronne: http://kidshealth.org; http://www.childdevelopmentinfo.com
http://www.askdrsears.com

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees