As ouboet jaloers is op baba

akkreditasie
Hoe gemaak as jou ouer kleinding voel die baba is 'n dief wat al sy aandag steel?

Tweede babas is makliker – jy weet immers al wat jy doen. Maar vir jou oudste spruit is dit ’n splinternuwe, dikwels onwelkome ervaring.

Cizelle Louw, ’n kliniese sielkundige van Pretoria, sê die bekendstelling van ’n nuwe lid aan die gesinseenheid kan ’n beduidende en dikwels langtermyn-invloed hê op die kommunikasie en dinamiek in die gesinstruktuur.

“Van die algemeenste probleme is gevoelens van verwerping by ouer spruite, ’n gevoel dat hulle nie raakgesien word nie en ’n wanindruk oor wat die pasgeborene vir die gesin beteken. Dit kan alles kinders se emosionele ontwikkeling, selfbeeld en selfvertroue skade berokken.”

Gewoonlik is kinders aanvanklik taamlik opgewonde oor die koms van ’n nuwe baba, tot die werklikheid inskop. Dan kan die opwinding vinnig in teleurstelling verander, sê Jo-Marie Bothma, ’n kliniese sielkundige van Harrismith.

Sy sê die algemeenste vrees by kinders is dat die nuwe baba hulle “eersgeboortereg” gaan oorneem. “En dit gebeur in ’n mate. Ouers moet nou hul tyd, geld en veral aandag tussen al die kinders verdeel. Natuurlik sal dit beteken dat die ander kind nou minder aandag kry as voor die koms van die baba.”

Jo-Marie sê ouer kinders is dan geneig om onseker te voel oor hul ouers se liefde vir hulle. “Hulle kan voel hul ouers is nie meer lief vir hulle nie, want daar is minder tyd vir drukkies en soentjies en hulle moet gedurig by al die besoekers hoor hoe oulik die nuwe baba is. Dis moeilik om vir jou tweejarige te
verduidelik dat jou hart groot genoeg is om verskeie kinders ewe lief te hê, al bestee jy meer tyd saam met baba.”

Dít speel ’n rol

Dis vir kinders tussen 18 maande en drie jaar oud dikwels moeiliker om by ’n nuwe baba aan te pas as vir ouer kinders omdat hulle op dié ouderdom normaalweg sukkel om hulle van hul ouers los te maak, sê Cizelle.

Hierdie probleem word vererger omdat hulle nog nie die vermoë het om hul vrese en jaloesie te verwoord nie. Oor die algemeen reageer ouer kinders meer bek-af as hulle van dieselfde geslag as
die baba is, en as die kinders se ouderdom na aan mekaar is (een en ’n half tot drie jaar uitmekaar), sê Jo-Marie.

As die ouderdomsgaping weer baie groot is (vyf jaar en meer), is daar soms ’n misnoegde reaksie omdat die aanpassing vir almal so groot is. “Maar dis nie ’n reël nie en hang af van die kind en ouer se persoonlikheid, asook die hantering van die baba se integrasie in die gesinstelsel. As dissipline boonop inkonsekwent is, is die reaksie meestal meer negatief.”

Jo-Marie sê sy vind dikwels dat eerste kinders die geboorte van ’n derde baba nie so steurend vind soos die geboorte van ’n tweede baba nie, sê Jo-Marie. “Dis meestal omdat die oudste kind dan reeds gewoond is daaraan om aandag te deel. Maar die aanpassing sal meer intens voel as die geboorte
in ’n belangrike ontwikkelingsfase van die ouer kind gebeur, soos as sy graad 1 toe moet gaan.

Meestal is die aanpassing vir ’n tweede kind ook makliker, veral as die gaping nie te groot is nie. As die gaping tussen baba 2 en 3 wel baie groot is, kan dit veroorsaak dat die spreekwoordelike baba van die gesin nou skielik sy plek moet prysgee vir ’n regte baba, wat hom kan ontstel.”

Wat jy kan verwag

Cizelle sê selfs al is jou kleinding opgewonde oor die baba en by tye liefdevol en versorgend, kan jy byna altyd ’n mate van jaloesie te wagte wees. Een studie het getoon omtrent elke ouer kind word ’n bietjie stouter ná die geboorte van ’n nuwe baba en die helfte klou meer aan hul ouers, huil meer dikwels of hul toiletgewoontes gaan agteruit.

Sy en Jo-Marie sê dié gedrag is algemeen ná die koms van ’n nuwe baba:

  • Hulle huil om geen spesifieke rede nie.
  • Hulle is klaerig en kermrig.
  • Hulle kan hulle onttrek.
  • Hulle is klouerig en wil heeltyd by jou wees.
  • Hulle is buierig en kwaai.
  • Hulle is aggressief of geniepsig teenoor ander kinders.
  • Hulle kan die baba slaan of rof behandel.
  • Hulle is baie veeleisend.
  • Daar is slaapprobleme, soos dat hulle snags by jou wil slaap.
  • Hulle dring daarop aan om op jou skoot te sit as hulle sien dat jy die baba vashou.
  • Hulle is skielik baie meer geheg aan ’n troosvoorwerp soos ’n foppie of kombersie.
  • Hulle keer terug na ’n vorige ontwikkelingsfase en kan weer begin bed natmaak, of skielik nie meer self eet of anntrek nie.
  • Dinge wat voorheen nie ’n probleem was nie, word nou ’n uitdaging, soos etenstyd, slaaptyd of die afl aaislag by die skool.
  • Hulle toets reeds gevestigde grense en reëls.
  • Hulle kla van maagpyn, naarheid of hoofpyn sonder dat daar enige mediese verklaring voor is.
  • Maar natuurlik is elke kind uniek en sommige kinders sal glad nie hierdie gedrag openbaar nie, of net ’n baie ligte aanval van jaloesie kry.

Jou geheime wapen

Die beste manier om jou kind by die nuwe baba te laat aanpas, is om haar voor te berei en slim te hanteer, is Jo-Marie en Cizelle se raad.

Goeie voorbereiding

  1. Vertel haar die groot nuus in eenvoudige taal. Kinders onder twee hoef eers die laaste twee of drie maande van die nuwe baba te hoor, behalwe as hulle vroeër vrae vra. ’n Ouer kind moet vroeër vertel word sodat sy dit nie elders hoor nie.
  2. Verseker jou kleinding deurentyd dat sy altyd ’n spesiale plek in jou hart sal hê, en dat jy altyd vir haar baie lief sal wees, al kom die baba.
  3. Maak haar deel van die swangerskap. Neem haar saam na ’n sonarafspraak en betrek haar by die koop van babakleertjies of die voorbereiding van die babakamer. Laat haar voel as baba skop.
  4. Praat kort voor die tyd met haar oor jou hospitaalverblyf. Verduidelik presies wat sy kan verwag: hoe lank jy gaan bly, wie haar gaan oppas, en wanneer sy kan kom kuier.
  5. Verduidelik hoe dinge gaan verander wanneer die baba kom, dat babas baie aandag nodig het, en dat jy daarom nie heeltyd net na haar kan omsien nie. Jy sal egter steeds genoeg tyd hê om spesiale dinge saam met haar te doen.
  6. Skaf vir haar ’n babapop aan en moedig haar (of hom!) aan om die “baba” te versorg.
  7. Bou solank ’n ondersteuningsnetwerk sodat iemand anders soms na jou baba kan omsien terwyl jy aandag aan jou ouer kind gee.

Ná die geboorte

  • As jou kleinding in die hospitaal kom kuier, bring eers ’n rukkie alleentyd saam met haar deur voor pappa die baba bring. Vertel haar hoe baie jy haar mis en gee haar ’n geskenkie van die baba af.
  • Laat jou kleinding saamry hospitaal toe om die baba huis toe te bring.
  • Probeer jul bestaande roetine so ver moontlik behou. As sy in ’n kleuterskool is, hou haar daar. Doen moeite met spesiale rituele soos slaaptydstories.
  • Verseker jou kleinding gedurig van jou liefde en gee baie drukkies en soentjies.
  • Bly konsekwent met reëls en grense – dit skep sekuriteit en 'n voorspelbare omgewing – maar wees daarop voorbereid dat dit vir jou kleinding 'n aan passingstyd is en moenie te veel verwag nie.
  • Gee haar genoeg tyd om baba deeglik te bekyk, aan haar te vat en haar met jou hulp te hanteer. Vestig haar aandag op baba se reaksie: “Kyk, hy hou daarvan as jy vir hom sing!”
  • Laat haar help as sy wil. Prys haar oor haar bydrae tot baba se versorging.
  • Voedingstye is ’n tameletjie; wees dus voorbereid. Lees ’n storie terwyl jy borsvoed of laat sy haar eie babapop voed of self ’n sappie drink.
  • Maak as ouers beurte met die versorging van die baba en ouer kind sodat julle albei aan baba en jul oudste kan aandag gee.
  • Gesels met jou kleinding oor hoe sy voel oor die veranderinge in die huis. Help haar om haar gevoelens te verwoord.
  • As sy aggressief is, maak dit kalm duidelik dat dit onaanvaarbare gedrag is en probeer dit kanaliseer.
  • Moenie slegte gedrag met aandag beloon nie, anders word dit herhaal. Doen liewer moeite om later op haar behoefte aan aandag te reageer.

Verkeerde hantering

Dit gebeur byna nooit dat die aankoms van ’n nuwe baba die gesin so ontwrig dat permanente
letsels oorgehou word nie, troos Jo-Marie.

Ouers wat glad nie hul kinders voorberei en deel maak van die integrasie van ’n nuwe baba nie, loop wel die gevaar om die verhouding tussen hul kinders te knou. Daar kan ook ernstige nagevolge wees as
ouers regtig die nuwe baba voortrek en die ouer kind begin afskeep.

4 Moets

  • Bou elke dag minstens 15 minute alleentyd saam met jou oudste in waar iemand anders na baba
    omsien en jy eksklusief en ongesteurd met haar speel.
  • Vra familielede om nie net aandag aan die baba te skenk nie, maar ook die ouer kind(ers) ’n bietjie te bederf.
  • Vertel jou kind elke dag hoe lief jy vir haar is en dat geen ander kind haar plek kan inneem nie.
  • Betrek haar by jul baba en prys liefdevolle gedrag teenoor die nuwe aankomeling.

4 Moenies

  • Moenie by jou kleinding die verwagting skep dat die baba haar maatjie gaan wees nie – sy kan diep teleurgesteld wees as baba net huil en slaap!
  • Moet haar nie van die baba af probeer weghou nie.
  • Moenie nou ’n drastiese verandering aan jou ouer kind se lewe aanbring nie – dis nie nou die tyd
    om potjielesse aan te pak nie!
  • Moet nooit jou baba en ouer kind alleen by mekaar laat nie. Jou kind kan jou baba per abuis
    beseer.

Topwenk

Maak vrede daarmee dat dinge die eerste ruk chaoties gaan wees - jy sal wel mettertyd 'n toetine vind.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees