As stoute maaitjies kom speel

akkreditasie
Dis swaar genoeg om jou eie kinders op die regte pad te hou, maar wat doen jy as stoute maatjies kom kuier?

‘Ek het hom amper geklap,” sê my goed gemanierde vriendin Jenny, wat nooit eens hard praat nie. Maar sy is tot die uiterste beproef deur haar seuntjie se maat wat by haar dogter se verjaardagpartytjie was en ’n chaos gesaai het. Hy het speelgoed met opset gebreek, sy vingers in die versiersuiker van die verjaardagkoek gedruk en wild rondgespring in die springkasteel waar hy jonger kinders omgestamp
en selfs die verjaardagmeisie laat huil het.

Die kanse is goed dat jy jou al in sulke situasies bevind het waar jy moes besluit of jy wil ingryp en die kind regwys of op jou tande moet byt en die gedrag verduur. Lank gelede was alles veel eenvoudiger.

Die algemene bevolking van verantwoordelike volwassenes is toegelaat – dit is selfs van hulle verwag – om die algemene bevolking van kinders in toom te hou. As jy deesdae ’n kind betig, selfs net liggies, loop jy die gevaar om sy ouers aanstoot te gee.

Konfronteer die kind

Ek is van die ou skool. Solank dit sagkens gedoen word, gee ek nie om dat ’n ander ma my kinders vasvat as hulle ’n bietjie wild raak nie. Ek sou van haar verwag om hulle te herinner om asseblief en dankie te sê – soos ek sou doen as ’n kind by ons kuier. Clare Huisamen, ma van Michael en Amy-Raine, stem saam: “Dit pla my glad nie as een van my vriende my kinders met woorde dissiplineer nie. Ek glo dit verg ’n hele buurt om ’n kind groot te maak en dis belangrik dat my kinders leer daar is ’n hele wêreld daar anderkant met ander reëls en regulasies wat hulle sal moet leer gehoorsaam.”

Michael Grose, ’n Australiese skrywer oor kinderopvoeding, stem saam. “Volwassenes moenie bang wees om ander kinders te konfronteer wat hulle nie gedra nie. Kinders se sosialiseringsproses vereis
dat hulle in verskeie omgewings met verskillende mense moet kan inpas. Dit beteken dat mense wat nie hul ouers is nie, ook ’n sê het in hoe kinders hulle gedra.

Volwassenes moet dus bereid wees om vir kinders te sê as hul gedrag nie aanvaarbaar is nie.”

Wat is "Aanvaarbare gedrag?"

“Aanvaarbare gedrag” is nogal ’n subjektiewe definisie. Verskillende gesinne het verskillende reëls en jy kan nie altyd verwag dat ’n besoeker sal weet wat aanvaarbaar in jou huis is nie. Jy is geneig om dit wat vir jou belangrik is af te dwing – ek haat ’n gegil, maar gee nie juis om vir ’n geskreeu nie – maar ander ma’s het ander afkeure. En wat vir een “oulike geesdrif” is, is dalk vir ’n ander “bedorwe en onbeteueld”.

Ma’s met wie ons gepraat het, verskil oor die mate waarin jy jou eie huisreëls mag afdwing. “As my kinders nie toegelaat word om iets te doen nie, gaan ek ook nie ander kinders toelaat om dit te doen
nie,” sê Theresa. Zoë stem saam: “Ek is dalk effens strenger met my eie, maar ek hou by dieselfde reëls vir almal as hulle by my kuier. Ek probeer egter om die atmosfeer so lig as moontlik te hou.”

Hulle het ’n punt beet – om ander kinders toe te laat wat jy jou eie verbied, stuur gemengde boodskappe uit en is onregverdig. Ander laat kinders wat kuier meer toe, afhangende van hoe ernstig die oortreding is.

Clare sê: “Ek dink ’n mens moet baie meer van ander mense se kinders verdra as van jou eie.” Dit help ook om te onthou dat jou interaksie met jou eie kinders deel is van ’n breër opvoedingstaak. Jy is nie besig om die ander kinders groot te maak nie – jy probeer maar net om ’n lekker middag deur te bring.

Wanneer is dit jou plig?

As die ander ouers by is, is dit sekerlik hul taak om hul kinders onder hande te neem? Soms lyk dit of hulle onbewus is of hulle maak of hulle is.

Liza vertel: “Ek het onlangs gaste vir ete gehad en omdat hulle nie ’n kinderoppasser het nie, het hulle
die kinders saamgebring. Hulle is agt en 10 jaar oud en oud genoeg om hulle te gedra. Ek het video’s en kos vir hulle gehad, maar hulle was ’n nagmerrie. Hulle het die huis vol gehardloop, ’n aaklige gemors gemaak en aanhoudend vir ander kos en nog koeldrank gevra. Hul ouers het die chaos dood- eenvoudig geïgnoreer, wat dit baie moeilik vir my gemaak het om iets daaraan te doen.”

As jy baie tyd met dieselfde gesin deurbring, is dit goed om te sorg dat julle almal weet wat van mekaar verwag word. “Ons het saam met vriende vakansie gaan hou en dit was ’n ramp,” sê Marie. “Ons het
nooit besef hoe ons ouerskapstyl verskil nie. Hul kinders het nooit by ’n tafel vir ’n ordentlik maaltyd aangesit nie en is toegelaat om wakker te bly tot hulle omval.

Dit was onmoontlik om ons gesinsreëls in dié situasie af te dwing en my kinders was heeltyd moeg en omgekrap.”

Het jy al agtergekom dat wanneer jy ’n ma ’n kompliment gee oor hoe beleef en aangenaam haar kind is, sy dikwels effens verbaas lyk? Dis iets wat elke ma eintlik weet: Kinders is gewoonlik beter gemanierd as hul ouers nie by is nie. “Hulle gedra hulle gewoonlik goed tot Ma hulle kom haal en vir tee bly, en dan verander die engeltjies – durf ek dit sê – in duiweltjies!” sê Jane.

Dit beteken tog dat jy vir die meeste van die tyd hul aaklige gedrag gespaar bly ...

Oorleef moeilike maaitjies só:

Veiligheid eerste: Sommige reëls is ononderhandelbaar. Dit is heeltemal aanvaarbaar om outoritêr op te tree wat betref sitplekgordels en swembadreëls – jy sou dieselfde van ander ouers verwag.

Lê reëls neer: Maak jou reëls duidelik aan ander kinders wanneer dit nodig is. “Ons speel nie met balle in die huis nie” of “ons sit altyd die TV af met ete” is gewoonlik genoeg om dit onder die kinders se aandag te bring. Mel Newman, ’n Johannesburgse ouerskapskenner, stel voor dat julle saam êrens gaan sit en gesels oor wat julle vir die middag beplan. Laat die kinders dan sagkens weet hoe ver hulle
kan gaan. “Daar is heelwat vryheid in die struktuur en die kinders voel veilig as hulle weet dat daar eenparig ooreengekom is oor die reëls van die spel,” sê sy.

Staan terug: Gewoonlik is dit beter om minder in te meng as te veel. As daar moeilikheid is, is dit beter om hulle dit self te laat uitstryk, soos die meeste kinders sal doen – dis ’n belangrike deel van die leerproses oor vriendskap en sosialisering. Dieselfde geld vir die omkrappery. Laat hulle verstaan dat hulle elke kussing en kombers mag gebruik mits hulle agterna alles terugsit, eerder as om hulle te verbied om met die komberse en kussings te speel.

Rowwe spel: Jy sal dalk tussenbeide moet tree as die spel te fisiek raak. ’n Gestoei op die grasperk is in orde; ’n swaardgeveg op die trampolien is nie. As een kind heeltyd aan die ontvangkant is, iemand ongelukkig is of jy bang is iemand gaan seerkry, moet jy ingryp. Gee hulle afleiding om effens stoom af te blaas, en die gevaar dat hulle in die ongevalle-afdeling sal beland is gering.

Hou dit onpersoonlik: Probeer om nie een kind uit te sonder nie (selfs al weet jy goed wie dit sondebok is). Raas eerder met die hele klomp pleks daarvan om op een kind te skreeu. Moet byvoorbeeld nie raas met een kind wat die ander met ’n lelike liedjie vermaak nie. Sê eerder vir al die giggelende kinders op die agtersitplek: “Ons gebruik nie daardie soort taal in my kar nie.” Hulle sal die boodskap kry.

Verdeel en verower: Dis moeilik vir sommige kinders om hulself in ’n groep te beheer, veral ’n groot groep op ’n partytjie. “As ek sien een van die kinders is oorgestimuleer en te opgewonde, vind ek subtiel ’n manier om hom ’n paar minute lank van die ander te skei,” sê Liza. “Ek sal hom byvoorbeeld vra om te kom help met die eetgoed vir tee. ’n Kalm tydjie in die kombuis kan wondere verrig.”

Bly kalm: Jy wil hê die kinders moet dit geniet en nie die gaste ontstel of jou eie kinders in die verleentheid bring nie. Dis dus beter om alles kalm te hou. Anders as jou eie kinders wat presies weet wat jou volgende skuif gaan wees, is vreemde kinders gewoonlik effens lugtig vir ander se ouers.

Gewoonlik sal ’n eenvoudige versoek of herinnering genoeg wees. Mel Newman het raad: “As die besoekers die grense toets, behandel hulle met respek. Dit vorm die basis van samewerking. As jy moet
ingryp, maak dit duidelik dat dit die gedrag, nie die kind is wat sleg is nie. Fokus op verantwoordelike keuses en lig die oplossing eerder as die straf uit.”

Die laaste uitweg vir die ma’s wat aan ons peiling deelgeneem het, is om die kuier kort te knip. Bied aan om die kuiergas huis toe te neem of vra sy ma om ’n bietjie vroeër as afgespreek te kom. Dit is sekerlik onnodig om by te voeg dat lyfstraf geheel en al onvanpas is – maak nie saak hoe aanloklik die gedagte is nie!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees