Bednatmaak blues

akkreditasie
Baie kinders maak ná hul 6de verjaardag nog bed nat. Gelukkig is daar heelwat wat gedoen kan word om jou klein “piepie-in-die-kooi” te help.

Dis genoeg om enige ouer se hart te breek: daardie beteuterde gesiggie en hangskouertjies van ’n kind wat jou kom wakker maak met die nuus dat dit wéér gebeur het. Nóg ’n nag en nóg ’n nat bed; partykeer sommer meer as een glipsie in die loop van die nag.

Min dinge knak jou gemoed soos ’n kind wat in graad 1 of selfs ouer is en nog bed natmaak. Jy voel skuldig. Jou kind voel skaam en dink dis haar skuld... En kort voor lank is dit ’n Groot Geheim waaroor niemand in die gesin mag praat nie.

Enige ma met ’n klein “piepie-in-die-kooi” sal weet dat dit botsende emosies by ’n mens wakker maak. Ja, jy is heimlik ongeduldig en gefrustreerd oor die onrustige nagte en ekstra wasgoed, maar aan die ander kant wil jy jou kind styf vasdruk as jy sien hoe die nat bed haar selfvertroue knak.

Sommige van ons kan ook uit ons eie kinderdae onthou hoe aaklig dit was om in so ’n ou nat bed wakker te word. As jy dié artikel lees, is die kans goed dat jy ook jou bed natgemaak het, want by die oorgrote meerderheid kinders wat dit ná vyfjarige ouderdom nog doen, is dit oorerflik en het een of albei ouers ook daarmee gesukkel.

Die eerste ding wat jy moet weet, is dat jy en jou kind nie alleen is nie. Bed natmaak is baie meer algemeen as wat ouers of kinders glo. Een uit elke 5 vyfjariges en ten minste 1 uit 20 tienjariges sukkel nog snags met nat beddens. Die geleerde term daarvoor is enurese en dit word gedefinieer as die onwillekeurige leegmaak van die blaas by kinders van 5 jaar of ouer.

Gewoonlik word die toestand eers tussen 5 en 8 jaar oud formeel behandel, maar daar is baie wat ’n mens met jonger kinders kan doen om die probleem te probeer oplos.

Hoe jy kan help 

Janneke Vermaak, ’n opvoedkundige sielkundige van Somerset-Wes, sê jy moenie te vinnig aanneem die probleem het ’n sielkundige oorsaak nie. Dit kan ’n fisiologiese probleem wees, of iets met ’n eenvoudige, praktiese oplossing.

  • Maak byvoorbeeld altyd seker dat jou kind met ’n leë blaas gaan slaap.
  • Vermy kos of drinkgoed wat kafeïen bevat (soos tee, koffie, kola of sjokolade) kort voor slaaptyd.
  • Probeer jou kind se vloeistofinname vanaf ’n uur voor bedtyd beperk, maar onthou dat dit slegs sal werk as sy die res van die dag genoeg water of ander vloeistowwe gedrink het.
  • Laastens moet jy jouself afvra of dit snags vir jou kind maklik is om by die toilet uit te kom.

Die oplossing is dalk meer voor die hand liggend as wat jy dink.

  • Los byvoorbeeld ’n nagliggie aan op die pad na die badkamer
  • Sit ’n kindersitplek op die toiletbak
  • Of los die kinderkamer se deur oop. As jou kind op die boonste stapelbed slaap, is dit dalk nodig om ’n ander plan te maak.

Die goue reël is om nooit te raas oor ’n nat bed nie. Wees geduldig (baie kinders ontgroei die probleem vanself) en sensitief (nat beddens knaag aan ’n kind se selfbeeld). Kinders wat oud genoeg is, kan help om die bed skoon oor te trek en aangemoedig word om self droë nagklere aan te trek, maar dit mag nie as ’n straf gesien word nie.

Die oorsaak is selde sielkundig

Dr. Gawie Bruwer, ’n uroloog by die Durbanville Medi-Clinic, meen ook ouers glo te maklik daar is ’n sielkundige probleem as ’n kind haar bed natmaak. As dit nie ’n nuwe probleem is nie, het dit selde ’n sielkundige oorsaak, sê hy. Sielkundige faktore is meer algemeen by kinders wat vir ’n tydperk droog was en later enurese ontwikkel.

Volgens Gawie is dit belangrik om te onthou dat bed natmaak oorerflik is. As een van die kind se ouers kleintyd hul bed natgemaak het, is die kans dat hul kind ook daarmee gaan sukkel bykans 50%. As al twee ouers daarmee gesukkel het, is die kans byna 80% dat hul kind die probleem geërf het.

Troos gerus jou kind as daar ’n familiegeskiedenis van enurese is. “Mamma het haar bed natgemaak tot sy 10 was” of “Dit het baie met Pappa gebeur toe hy klein was”, is woorde wat baie kan doen vir ’n kleintjie wie se selfbeeld geknou is.

Enurese hou verder verband met die normale ontwikkeling van blaasbeheer,” sê Gawie. “Meisies ontwikkel gewoonlik urinebeheer voor seuntjies, maar alle kinders ontwikkel dit eers snags nadat hulle dit en stoelgangbeheer bedags al baasgeraak het.”

Nogtans beveel hy aan dat jy nie te lank wag voor jy hulp soek nie en dat jy die saak teen skoolgaande ouderdom, en baie beslis voor jou kind se 12 verjaardag, onder die knie probeer kry.

Volgende bladsy: nog oplossings...

 

Nog oplossings 

Beloningstelsel

Met jong kinders behaal baie ouers uitstekende resultate met ’n beloningstelsel vir nagte sonder ’n glipsie. As jy op dié roete besluit, moet jy die doelwitte duidelik stel en jou kind onmiddellik en konsekwent beloon vir ’n droë bed in die oggend. ’n Nat bed moet saaklik hanteer word. Moenie daaroor raas nie, maar moet beslis geen beloning of selfs ’n “troosprys” gee nie. 

Bedalarm

As ’n beloningstelsel nie help nie, en as jou kind oud genoeg is, kan ’n bedalarm oorweeg word. Daar is verskillende soorte alarms, maar die beginsel is by almal dieselfde: die alarm gaan af sodra die bed natgemaak word en die idee is dat die kind mettertyd gekondisioneer word om wakker te word wanneer haar blaas vol is.

Die slegte nuus is dat dit dikwels 3 tot 5 maande duur voor bedalarms begin werk. Hulle is ook betreklik duur en nie alle mediese fondse wil daarvoor opdok nie.

Die goeie nuus is dat die suksessyfer uitstekend is – bykans 80%. Boonop keer min kinders se probleem terug wanneer die alarm weggeneem word. 

Medikasie

’n Alternatief is medikasie wat snags die liggaam se produksie van urine laat afneem. Medikasie wys gewoonlik gouer resultate as ’n bedalarm, maar kinders behoort dit slegs as ’n tydelike maatreël te gebruik en die slegte nuus is dat 20% van hulle weer hul bed begin natmaak sodra die medikasie gestaak word. 

Fisioterapie

“Hoewel bedalarms op die duur doeltreffender is as medikasie, werk dit slegs as die ouers gemotiveerd en betrokke is,” waarsku Gawie. Dis daarom dikwels ’n goeie plan om die probleem saam met ’n fisioterapeut te takel. Die fisioterapeut sal oefeninge aanbeveel om blaaskapasiteit te probeer verhoog en sal jou en jou kind motiveer om deur te druk met die alarmstelsel.

Steeds op moedverloor se vlakte? Onthou dan dat baie van die kinders wat hul bed natmaak, die probleem vanself ontgroei namate hulle blaaskapasiteit verbeter – net soos hul ma of pa voor hulle dit ook gedoen het...

Waarom gebeur dit?

Geneties: Tot 70% van kinders wat bed natmaak, se ouers het dit ook gedoen.

Kafeïen: Kos en drank wat kafeïen bevat (soos tee, koffie, kola en sjokolade) vererger die probleem.

Hardlywigheid: ’n Derde van kinders wat met chroniese hardlywigheid sukkel, maak ook hul bed nat.

Blaasinfeksie: Soms lei blaasinfeksie tot enurese snags of bedags.

Slaapapnee: Slaapapnee weens ’n blokkasie in die boonste lugpyp is ’n baie seldsame oorsaak van enurese.

Aandaggebrek: Enurese is twee keer meer algemeen by kinders met aandaggebrek en hiperaktiwiteit.

Stres: Die geboorte van ’n jonger boetie of sussie, hospitaalverblyf, onmin in die gesin, ’n nuwe skool, boelies by die skool, die trek na ’n nuwe huis of (baie selde) seksuele misbruik kan enurese veroorsaak by kinders wat voorheen droog was.

Hoe algemeen is dit?

Enurese raak...

  • 15% van alle 5-jariges
  • 7% van alle 8-jariges
  • 5% van alle 10-jariges
  • 2% van alle 15-jariges

Dit is 50% meer algemeen by seuns as by dogters.

Praktiese wenke

  • Maak seker dat jou kind met ’n leë blaas gaan slaap.
  • Maak seker dis maklik vir jou kind om snags by die toilet uit te kom (los byvoorbeeld ’n nagliggie aan).
  • Betrek jou kind by die skoonmaakwerk agterna (maar nie as ’n straf nie).
  • Moenie vloeistofinname probeer beperk nie. Kinders behoort sowat 8 drankies per dag te drink, deur die dag versprei, met die laaste een sowat een uur voor slaaptyd.
  • Vermy kafeïen in aandete of drankies voor slaaptyd (geen tee, koffie, kola of sjokolade nie), omdat dit die lyf ekstra urine laat maak.
  • Gebruik waterdigte oortreksels vir die matras en duvet, en absorberende lakens.
  • Spons jou kind goed af ná ’n glipsie; haar hare ook as sy baie nat is.
  • Gebruik vaselien om haar vel te beskerm.
  • Spoel lakens en linne in koue water of ’n sagte bleikmiddel.
  • Gebruik reukweerders vir die kamer.
  • Dit help soms as jy jou kind toilet toe neem voor jy self gaan slaap. Dis is ’n goeie tydelike maatreël wat haar selfvertroue ’n hupstoot sal gee.

Hoe oorerflik is dit?

  • ’n Derde van die pa’s en ’n vyfde van die ma’s van kinders wat hul bed natmaak, het dit ook gedoen.
  • ’n Kind wie se ouers al twee hul bed natgemaak het, het ’n kans van 77% om dit ook te doen.
  • As net een van die kind se ouers bed natgemaak het, het die kind ’n kans van 44% om dit ook te doen.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees