Biblioterapie: Boeke maak beter

akkreditasie
Boeke is 'n wonderlike manier om jou kleinding om moeilike emosionele uitdagings in haar lewe baas te raak.

Die lewe is nie ’n gelyk pad nie, selfs nie eens vir klein kindertjies nie. Maatjies wat spot, Pappa wat gereeld weg van die huis af werk, jaloesie op ’n nuwe boetie of sussie of vrees dat Mamma nie meer vir hom lief is nie, kan enige kleinding se lewe onderstebo keer.

Gelukkig hoef jy nie heeltemal magteloos toe te kyk hoe jou kind swaarkry nie. Biblioterapie – oftewel die gebruik van boeke om mense te help – is ’n taamlik maklike manier om jou aspatat te help om weer die lewe in die oë te kyk. Die geheim is om boeke te kies wat spesifiek op jou kind se probleem gemik is.

Die voordele van biblioterapie strek wyd: Dit kan jou kind help om homself beter te verstaan, sy selfbeeld bou, hom help om sy emosionele uitdagings te verwerk, om daaglikse probleme prakties te hanteer en om verhoudings te verbeter.

Biblioterapie staan op drie bene:

1. Jou kind: Sy probleme bepaal die keuse van die boek.

2. Die bemiddelaar: Sy help en ly jou kind om die boek te ontleed en met sy eie gevoelens te verbind. Dit kan óf ’n professionele biblioterapeut wees (vir ernstiger probleme), of jy kan dit self saam met jou kind aanpak (vir kleiner kwessies).

3. Die keuse van ’n boek: Die hoofkarakter moet verkieslik omtrent so oud soos jou kind wees, moet geloofwaardig wees en moet dieselfde probleem ervaar. Die boekie moet op sy ouderdomsvlak wees
sodat hy dit kan verstaan. Die uitdaging waarmee die kind worstel, moet op ’n realistiese manier behandel word.

Tydens biblioterapie sal jou kind deur vier stadiums beweeg:

1: Jou kind besef dat sy probleem nie uniek is nie. Daar is ander mense wat dieselfde as hy deurmaak. Dit sal sy probleem minder intens laat voel.

2: Hy identifiseer met die karakter in die boek wat dieselfde probleme as hy beleef. Dis ’n belangrike stap. In dié fase kan jy jou kind lei om die karakter se motiewe te verstaan en ook sy verhouding met ander karakters, en dit in verband met sy eie lewe te bring.

3: Hy raak emosioneel betrokke by die karakters in die boek en toon empatie met hulle. Hy herleef sy
eie emosies en word in die proses vry gemaak daarvan. Jy kan jou kind se emosies ondersteun en
hom gerusstel.

4: Hy kry insig in sy eie probleme en dié van die storiekarakter. Jou rol is om hom te lei om hierdie insig te vind deur hom te help om te verstaan dat daar ’n oplossing vir sy probleem is en dat hy iets
daaraan kan doen.

Boeke wat help en steun:

Die boeke hieronder – te kry by boekwinkels, die uitgewers, die biblioteek of deur die internet – kan nuttige hulpmiddels wees.

Gesinsverhoudings

Tussen sibbe

  • Die tonnel deur Anthony Browne (Human & Rousseau)
  • Dis myne deur Rona Rupert (Qualitas)
  • Aspris-Krokkedis deur Theresa van Baalen (Lapa)

Nuwe baba

  • Peet se stoeltjie deur Ezra Jack Keats (Qualitas)
  • ’n Boetie vir Natasha deur Martie Kruger (Lapa)
  • My sussie is ’n alien deur Rachel Bright (Human & Rousseau)

Middelkind

  • Miemie in die middel deur Jan Fearnley (Lapa)

Geborgenheid

  • Vergeet-My-Nie deur Michael Broad (Human & Rousseau)
  • Raai hoe lief is ek vir jou deur Sam McBratney (Human & Rousseau)
  • Jonathan en sy Ma deur Irene Smalls- Hector (Anansi)
  • Julle is almal my gunstelinge deur Sam McBratney (Human & Rousseau)
  • ’n Naweek by Jos-hulle deur Jenny Hessell (Human & Rousseau)

Ouer weg van huis

  • Klein-Tom deur Rita Phillips Mitchell (Human & Rousseau)

Egskeiding

  • Prinses Mossienes deur Wendy Maartens

Tweede huwelik

  • Mamma gaan trou deur Joan Drescher (Maskew Miller Longman)

Vrese

  • Wees dapper, Dirkie! deur Jan Ormerod (Human & Rousseau)
  • Haai, Zoleka! deur Gcina Mhlophe (Human & Rousseau)
  • Leeus lag nie deur Rene Deetlefs (Human & Rousseau)
  • Rosie en die sypaadjie-bere deur Susie Jenkin- Pearce (Human & Rousseau)
  • Ou bangbroek, ou bangbroek deur Mirna Lawrence (Kennis Onbeperk)
  • Ek voel bang deur Trace Moroney (Lapa)

Sosiale verhoudings

Baasspelery

  • Weg is Eend! deur Susan Gretz (Human & Rousseau)

Tergery

  • Padda, Eend en Konyn deur Susan Gretz (Human & Rousseau)

Vooroordele

  • My Bure deur Guido van Genechten (Human & Rousseau)

Waarde van vriendskap

  • Vergeet-My-Nie: Vriende is soos bloeisels deur Michael Broad (Human & Rousseau)
  • Yebo, Jamela! deur Niki Daly (Tafelberg)
  • Net Sisi deur Wendy Hartmann (Human & Rousseau)

Maatjie-konflik

  • Ons twee, ek en jy deur Hester Heese (Dias)
  • Manie en Tillie deur Rebecca Jones (Anansi)

Die dood

Algemeen

  • Lientjie en die slapers deur Carl Lohann (John Malherbe Edms. Bpk.)
  • Net perfek deur Rachelle Greeff (Human & Rousseau)

Ouer

  • Op die vensterbank in April deur Hester Heese (Qualitas)

Grootouer

  • Nag, Oupa deur Majorie van Heerden (Human & Rousseau)
  • My ouma is hemel toe deur Alex J. Foxhall (CUM)
  • Waarheen is oupa? deur Catherine House en Honor Ayres (Lux Verbi)
  • Oupa Daan laat sy kierie staan deur Louise Prinsloo (Lux Verbi)

Vriende

  • Gooi vir my ’n soentjie Juffrou Lill deur Nancy White Carlstrom (Anansi)
  • Nico – My vriend is dood deur Stephanie Jeffs en Jacqui Thomas (Lux Verbi)

Maatskaplike probleme

Drankmisbruik

  • My pa deur Niki Daly (Anansi)

Sosiale onrus

  • Rook in die nag deur Eve Bunting (Anansi)

Gestremdheid

  • Nou wil almal sien deur Rona Rupert (Human & Rousseau)

Verstandelike gestremdheid

  • Theunie, teddie en die perd met die geel oë deur Klaus Kuhn (Tafelberg)

Aanneming

  • Jana word aangeneem deur Althea (Century Hutchinson)

Molestering

  • Drie hoera’s vir Denver deur Wendy Maartens (Lapa)

Moeilike vrae

  • Waar kom ek vandaan? deur Mick Manning (Human & Rousseau)
  • Waar kom babas vandaan? deur Sally Anne Wright en Honor Ayres (Lux Verbi)
  • Mamma het my nooit vertel nie deur Babette Cole (Human & Rousseau)

Persoonlike ontwikkeling

Veiligheid

  • Parmant deur Leon de Villiers (Lapa)
  • Mooiste Salma deur Niki Daly (Tafelberg) Selfgelding
  • Vrydag is my dag deur Anushka Ravishankar (Human & Rousseau)

Woede

  • Toe word Karel kwaad deur Hiawyn Oram (Tafelberg)
  • Ek voel kwaad deur Trace Moroney (Lapa)

Vooroordele

  • Die lelikste dier in die wêreld deur Jenny Robson (Tafelberg)

Jaloesie

  • Ek voel jaloers deur Trace Moroney (Lapa)

Mededeelsaamheid

  • Barney gee raad: Dis myne deur Sheryl Berk (Lapa)
  • Net een slukkie, Padda! deur Piet Grobler (Human & Rousseau)

Verwaandheid

  • Ludwig die leeu deur Paula Knight (Human & Rousseau)

Fluksheid

  • Bert die by deur Paula Knight (Human & Rousseau)

Sorgsaamheid

  • Thandiwe besluit deur Mari Grobler (Tafelberg)
  • Siyolo se trui deur Mari Grobler (Tafelberg)

Selfvertroue en selfbeeld

  • Vlieg, arend, vlieg hoog! deur Christopher Gregorowski (Human & Rousseau)
  • Lisa het ’n plan deur Martie Preller (Lapa)
  • Die kleinste dinosourus deur Michael Foreman (Lapa)
  • Kameelperde kan nie dans nie deur Giles Andrede (Lapa)
  • Ella die eend deur Paula Knight (Human & Rousseau)
  • Oud genoeg deur Marjorie van Heerden (Human & Rousseau)
  • Wat maak my bly? deur Catherine & Laurence Anholt (J.L. van Schaik)
  • Natuurlik kan Connie! deur Mary Hoffman (Human & Rousseau)
  • Leo blom laat deur Robert Kraus (Human & Rousseau)
  • So groot soos ’n reus deur Ann Morris (Human & Rousseau)

Boeke vir praktiese probleme

Wil nie slaap nie

  • Slaap jy al, Konyn? deur Alison Campbell (Human & Rousseau)

Potjielesse

  • Mag ek in jou doek loer? deur Guido van Genechten (Human & Rousseau)
  • Tatta doeke! deur Martie Kruger (Lapa)

Waterveiligheid

  • Olga die olifant deur Paula Knight (Human & Rousseau)

Tandartsbesoek

  • Bertie by die tandarts deur Paddy Bouma (Human & Rousseau)

Siekte

  • Eers die een voet, dan die ander deur Tomie de Paola (Human & Rousseau)

Nuwe skool

  • Bertie in die sportsak deur Paddy Bouma (Human & Rousseau)
  • Kleuterskool toe deur Martie Kruger (Lapa)

Pak biblioterapie so aan

Stap 1: Maak seker jy identifi seer jou kind se probleem reg. Dis die sleutel tot die terapie.

Stap 2: Vind ’n boekie wat die probleem behandel en aan al die vereistes voldoen wat ons op die vorige bladsy uitgestippel het.

Stap 3: Lees die boek vooraf deur sodat jy goed met die inhoud vertroud is.

Stap 4: Kies ’n tyd wanneer en ’n plek waar jou kind rustig is.

Stap 5: Lees die boekie vir haar voor. Lei haar gedagtes met vrae soos “Hoekom dink jy het Karel dit gedoen? En hoe dink jy voel hy nou?”

Stap 6: Volg die lees op met aktiwiteite waarop jy vooraf besluit het: Jou kind kan byvoorbeeld ’n prentjie teken van iets uit die boekie en julle kan dan daaroor gesels. Vra haar wat sy sou gedoen het as sy die karakter was.

Superwenk

Moenie elke storietyd in ’n terapiesessie omskep nie. Lees moet pret wees!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees