Deur 'n karstoeltjie gered

akkreditasie
Maak altyd, altyd, jou kind in sy karstoeltjie vas. Dít is die boodskap van hierdie 3 ma's wat die baie hartseer les moes leer...

Jy dink altyd dit sal nie met jou gebeur nie – en dan kom daardie verskriklike ongeluk tog oor jou pad terwyl jou kind saam met jou in die motor is. As jy dié drie ma’s se stories lees, sal jy nooit weer om die blok ry sonder om seker te maak jou kind is stewig in sy motorstoeltjie vasgemaak nie.

‘As dit nie vir die stoeltjie was nie, het ek my ander kind ook verloor’

Adri Bradbury van Kenridge, Durbanville vertel:

“Voor ek met my storie begin wil ek al die eer aan die Here gee dat Hy my dogtertjie Cameron (5) se lewe 2 jaar gelede gespaar het. As God nie sy veilig bewaardende hand oor haar gehou het nie, sou sy dood gewees het. Dat sy lewe is ’n wonderwerk. As sy nie in ’n motorstoeltjie vasgegordel was nie, sou sy beslis dood gewees het.

“Ek en my man, Gareth, en ons 2 dogtertjies, Micaela (5 maande) en Cameron (toe 3 jaar) was 2 jaar gelede in ’n baie ernstige motorongeluk. Ons was op die snelweg op pad na Arniston toe die as van ’n bakkie met ’n vrag vrugte op heeltemal afbreek. Die bakkie het deur die middelman geskiet en ons aan Cameron se kant getref. Die motor het begin rol en ons almal is ernstig beseer.

“Cameron en Micaela het albei in motorstoeltjies gesit en Cameron sou op slag dood gewees het as sy nie vasgemaak was nie. Sy het albei haar bobene in die ongeluk gebreek en skedelbreuk opgedoen, daar was lelike snywonde aan haar gesiggie en kop en haar linkerpols was ook gebreek. My ribbe, arm en neus was gebreek en ek het amper my regteroog verloor.

“Ongelukkig het Gareth en klein Micaela só sleg seergekry dat hulle later in die hospitaal gesterf het. Al was Micaela veilig in haar motorstoeltjie vasgemaak, was die impak van die ongeluk net te groot vir haar 5 maande oue lyfie...

“Vandag, 2 jaar later, sukkel ek steeds soms om die skok en trauma van die ongeluk te verwerk. Dis ontsettend moeilik en dit is net deur die Here se krag en genade dat ek wel voortgaan.

“Ons was altyd baie bewus van motorstoeltjies en het nooit ons kinders los in die motor laat ry nie. Ek het nie eens ander passasiers in my motor laat ry as hulle nie vas was nie. Vandag is ek soveel meer paraat, juis omdat ek weet wat die impak van ’n ongeluk kan wees. Die pyn daarvan om ’n kind in ’n motorongeluk te verloor is ondenkbaar, en ek is so dankbaar ek het nie boonop nog skuldgevoelens dat ek dit kon voorkom het nie.

“Ons het daardie dag alles reg gedoen: Ons het stadig gery in die stadige baan, ons en die kinders was vasgemaak... Ek sou eerlik nie met die skuldgevoel kon saamleef as ek gevoel het ons kon Micaela se dood voorkom het nie.

“As ek mense sien wat hul kinders los in ’n kar laat ry, ontstel dit my geweldig, want ek weet hoe gou ’n ongeluk kan gebeur. ’n Mens dink mos altyd so iets sal nie met jou gebeur nie. Ek het ook so gedink tot ek dit wél oorgekom het.”

’Die verligting wat deur my gespoel het toe ek haar hoor huil, was onbeskryflik.’

Ansunet Strauss van Luckhoff, Vrystaat, vertel:

“Op 7 Maart 2008 was ons gesin op pad terug huis toe van Bloemfontein af toe ons almal in ’n ernstige motorongeluk was. My man, Willie, het ons dubbelkajuitbakkie bestuur en my sussie en haar vriendin het agter gesit saam met ons 2-jarige dogtertjie, Riané.

“Dit was al sterk skemer en toe ons tussen Koffiefontein en Luckhoff oor ’n effense bultjie ry, was daar skielik ’n donkiekar in die middel van die pad. Ons het uitgeswaai, maar die hoek van die donkiekar het steeds ons bakkie getref. Die bakkie het getol en toe begin rol.

“Ek was die enigste een in die bakkie wat nie vasgemaak was nie – ek het uit die bakkie geval en onder die wiel te lande gekom. Ek het gedink ek gaan dood. Die wiel het ’n gat in my been gebrand en ek moes later ’n veloorplanting kry.

“Terwyl ek daar vasgekeer onder die wiel gelê het, het ek my dadelik bekommer oor wat met Riané gebeur het. Alles was tjoepstil toe ons tot stilstand kom en die verligting wat deur my gespoel het toe ek haar hoor huil, was onbeskryflik.

“Sowat 20 km voor die ongeluk gebeur het, het Riané begin kerm. My sussie wou weet of ons haar maar uit die motorstoeltjie kon haal omdat haar lyfie seker al moeg gesit was. Ek het haar ook jammer gekry en vir ’n oomblik was die versoeking groot om haar uit die stoeltjie te tel. Dis hel om met ’n kermende kind in die kar te ry.

“Maar deur die genade van die Liewe Vader het ek besluit om haar eerder in haar stoeltjie te hou en ek sidder om te dink wat kon gebeur het as ons haar uitgehaal het. Ek dink nie ek is opgewasse om so ’n krisis te hanteer nie.

“Riané was tydens die ongeluk in ’n Chicco Key 1-stoeltjie en sy het nie ’n skrapie gehad nie. En ons is nou meer bedag as ooit op motorveiligheid. Sy gaan klim sommer self in haar stoeltjie, al ry ons net hier op die plaas rond.”

‘Hy was siek en toe sê ek hy kan maar agter in die Land Rover lê’

Brenda de Beer van Wolmaransstad, Noordwes, vertel:

“My seuntjie Jandré (toe 8), is 2 jaar gelede in ’n motorongeluk oorlede en hy was nie vasgemaak nie. Selfs al glo ek met my hele hart dat dit Jandré se tyd was om te sterf, vreet die verwyt en skuldgevoel my op omdat ek wonder of ons dit kon voorkom het. Om die dood van ’n kind te verwerk, is die moeilikste ding wat ek nog in my lewe moes doen en soms twyfel ek of ek ooit daaroor sal kan kom.

“Jandré was ’n ongelooflike kind wat elke oomblik van sy lewetjie voluit geleef het. Ek sê altyd hy het nie ’n sekonde van die Here se tyd gemors nie, en selfs al was hy ’n diabeet, het hy voluit geleef.

“Die dag voor ons ongeluk het hy siek gevoel en ons is met hom Klerksdorp toe om ’n pediater te spreek. Hy is in die hospitaal opgeneem en het die nag daar geslaap omdat die dokters aanvanklik vermoed het hy het breinvliesontsteking. Die volgende dag is hy ontslaan en ons was op pad terug huis toe.

“Ek was altyd baie bewus daarvan dat ons almal vasgemaak moet wees, maar daardie oggend het Jandré nog siek gevoel en hy wou agter in die Land Rover lê. Ek het nog ’n kussing onder sy koppie gesit en vir hom gesê hy moet ’n bietjie slaap, ons is amper by die huis.

“Maar op pad terug Wolmaransstad toe het ’n motor oor ’n stopstraat gery en hy het ons Land Rover vol aan die regterkant getref. Ons jongste seuntjie, Danie (toe 5), het ’n paar skrape in die ongeluk opgedoen, maar Jandré het uit die motor uitgeval en baie sleg seergekry. Hy is dieselfde aand in die hospitaal oorlede.

“Baie dae wil die terugflitse van die ongeluk my heeltemal mal maak. Was my kind bang? Het hy pyn gehad? Maar dan kom daar weer ’n rustigheid oor my wat alle verstand te bowe gaan. Ek weet my kind is waar hy moet wees. Ek weet God beloof dat daar nie ’n haar van ons hoof sal afval sonder dat dit sy wil is nie.

“Maar sy plekkie is leeg hier in my huis...”

Syfers wat skok

Netcare het einde 2008 skokkende statistiek oor kinders in motorongelukke bekendgemaak:

Altesaam 32,5% van kinders onder die ouderdom van 12 wat in motorongelukke betrokke was, is ernstig beseer omdat hulle nie behoorlik vasgemaak of in motorstoeltjies was nie. 30% van hierdie kinders was jonger as 2.

Volgens Mande Toubkin, Netcare se nasionale traumabestuurder, was die beserings van al dié kinders ernstig en lewensgevaarlik. Altesaam 4% van kinders in ongelukke het gesterf.

’n Kind se kans om dood te gaan is 75% as hy tydens ’n ongeluk by ’n motor uitgegooi word, sê dr. Sebastian van As van die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad.

“Trauma maak meer kinders onder die ouderdom van 18 dood as enige siekte en motorongelukke is by verre die grootste oorsaak van kinderbeserings,” het hy in ’n verklaring gesê.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees