Eenkind gesinne nie so sleg

akkreditasie
Enigste kinders is nie bedorwe, antisosiale brokkies nie. Eenkindgesinne word trouens al gewilder.

Daar is verskeie redes waarom ouers deesdae net een kind het. Een daarvan is ’n suiwer rand-en-sent-besluit. ’n Ander is dat vroue deesdae langer wag om kinders te kry en daarom net een kind het. Onvrugbaarheid en vroue wat ná ’n lang gewag swanger raak, is ook ’n faktor. Vir ander is dit weer ’n emosionele besluit. Daar is selfs ouers wat aan die omgewing dink en meen een kind sal minder druk
op ons uitgeputte Moeder Aarde plaas.

Wat ook al jou rede om net een kind te hê, een ding is seker – jou kind kan net so ’n goed aangepaste mensie wees as ’n kind wat met broers en susters grootword.

Enkelkinder-gesinne neem oral toe. Daar word beraam dat daar 20 miljoen gesinne in Amerika met net een kind is. Volgens ’n artikel in die tydskrif Time het die persentasie Amerikaanse vroue wat net een kind het, die afgelope twintig jaar meer as verdubbel.

Volgens dié artikel is die etiket wat om enkelkinders se nek gehang word – dat hulle bederf en selfsugtig grootword en wanaangepas en eensaam is – lankal nie meer van toepassing nie.

Die Time-artikel vertel egter ook van Toni Palbo, ’n professor in opvoedkundige sielkunde aan die Universiteit van Texas, wat ná jare se navorsing gevind het enkelkinders is nie veel anders as kinders wat met medespruite grootword nie. Om die waarheid te sê het sy gevind dat enkelkinders gewoonlik
intelligenter is en meer prestasies behaal. “Niemand het nog navorsing gedoen wat bewys dat enkelkinders eensaam, selfsugtig en wanaangepas is nie,” sê sy. Enkelkind-gesinne neem ál meer in Amerika en Wes-Europa toe en ook in Suid- Afrika is dit nie meer vreemd vir ouers om te besluit om net een kind te kry nie.

Verskeie redes vir enkelkind gesinne

“Ons het dit nie aanvanklik beplan nie maar loopbaanbesluite en werkdruk het veroorsaak dat ons nie werklik daaroor gepraat het nie,” sê Andries Vrey, bestuurder van die Aardklop-kunstefees en pa van Barnard (3).

“Toe Barnard drie geword het, het ek en my vrou, Dorné, daaroor gepraat. As ’n tweede kleinding sy opwagting onverwags sou maak, gaan ons nie huil nie, maar ons beplan dit beslis nie. Tussen my werkspligte en die tyd wat ek aan Barnard afstaan deur, probeer ek onthou dat ek ook ’n vrou het wat my aandag verdien.”

Vir sommige ouers word dit net te laat. “Ek het my seun gehad toe ek veertig was,” sê Louisa Brink van Kaapstad. “Willem was al klaar ’n wonderwerk en hoewel ek graag meer kinders wou gehad het, is hy my eerste en enigste. Ek is nie spyt nie. Finansieel is dit makliker en ons kan as ouer ouers al ons aandag aan hom gee.”

Voor- en Nadele

“Daar is natuurlik voor- en nadele daaraan om net een kind te hê,” sê Carl du Preez, ’n kindersielkundige van Melkbosstrand buite Kaapstad. “Daar is soveel elemente wat ’n rol daarin speel of ’n kind goed aangepas en gelukkig gaan wees. As ’n enkelkind al sy ouers se liefde en aandag gaan kry en die bindingsverhouding goed is, gaan die kind gelukkig wees. As die kind, of hy nou broers of suster het of nie, nié ’n goeie bindingsverhouding met sy ouers het nie, gaan die kind dalk probleme hê.”

“Ons bindingsverhoudinge is in die algemeen onder geweldige druk,” sê Carl. “Omdat die lewe soveel uitdagings het, moet ouers deesdae tyd maak om met hul kinders te speel. Wanneer daar net een kind
is, kry hy al die aandag en maak dit daardie bindingsverhouding sterker. Bindingsverhoudinge is die primêre bestanddeel van goeie persoonlike groei en ontwikkeling.”

Sosialisering

Wanneer dit by sosialisering kom, hang dit van die ouers af of die kind sosiaal aangepas is of nie, sê Carl. “As die ouers die kind gaan oorbeskerm en nie blootstel aan ander kinders nie, gaan daardie kind tien teen een sosiaal sukkel. Maar as die ouers hul kind van jongs af blootstel aan ander mense en situasies, is die kans groter dat hy sosiaal beter gaan aanpas.”

Hy sê ouers van enkelkinders moet daarteen waak om die perfekte ouer te probeer wees.

Rande en sente

Kinders is ’n groot vreugde en daaroor sal niemand stry nie. Maar kinders is duur. Volgens statistiek kos ’n kind minstens R100 000 per jaar. Kostes wissel natuurlik, maar as jy alles bymekaartel, begin dit ’n
aardige bedraggie word. Volgens Old Mutual sal ’n kind wat vanjaar ses jaar oud is en skool begin, se totale skoolkostes sowat R420 000 wees tot hy skool verlaat.

As jou kind universiteit toe gaan, skiet daardie bedrag verder die hoogte in. Sanlam het vroeër vanjaar voorspel dat ’n jaar op universiteit in 2017 minstens R240 000 gaan kos.

Hoe verduidelik jy aan jou kind dat daar nie ’n boetie of sussie gaan wees nie?

“Daar is verskillende benaderings,” sê Carl. "Wat goed sal werk, is om na die vraag te luister en dan self vrae te begin vra. Ons noem dit unpacking. Met ander woorde, jou kind sê hy wil ’n boetie of sussie hê. Vra dan vir hom hoekom. Soek jy iemand om mee te speel? Wat gaan julle speel? Dit maak nie saak waarheen die vrae lei nie – laat jou lei deur jou kind se antwoorde.

Daar is redes waarom hulle dit vra. Dalk het ’n maat jie iets gesê of dalk het hulle net behoefte aan ’n
maatjie se geselskap. Jou kind gaan ook voel daar word na sy behoeftes geluister. Waak egter daarteen om jou eie emosies aan jou kind op te dwing.”

Die uitdagings

Om ’n enigste kind te hê, het natuurlik ook sy uitdagings.

  • Enigste kinders kan gewoond raak aan al die aandag en dit dan die hele tyd opeis. Leer jou kind dat daar ’n tyd en ’n plek vir alles is en dat hulle byvoorbeeld hul beurt moet afwag om te praat. Onthou ook die gesegde: As mamma gelukkig is, is almal gelukkig. Sien dus om na jou eie behoeftes en leer jou kind dat jy ook ander belange het.
  • Omdat jou kind sonder medespruite grootword, kan sy dalk sukkel om te deel. Sorg dat jou kind van kleintyd gereeld met ander kinders speel en so leer om te deel.
  • Dit is belangrik dat jou kind ook moet leer dat daar mededinging in die lewe is. Sy moet ook leer om ander kinders se gevoelens in ag te neem.
  • Enkelkinders kan eensaam word. Bou dus ’n goeie ondersteuningsnetwerk met vriende wat kinders van dieselfde ouderdom het en luister wanneer jou kind sê sy is alleen. Al wat gewoonlik nodig is, is ’n uur of twee saam met ’n maatjie.
  • Omdat enkelkinders baie aandag kry, kan hulle geneig wees om kritiek baie fel te ervaar. Leer hulle dat almal foute maak en dat ’n mens daaroor kan lag ook.
  • Ouers van enkelkinders kan soms skuldig voel omdat hulle net een kind het of dat hulle soveel aandag aan die kind gee. Moenie! Maak jou kind groot met al die liefde wat jy het en fokus daarop om die beste moontlike mens vir die wêreld te gee.
  • “Die grootste uitdagings vir enkelkinders is gewoonlik om met ander kinders te kommunikeer,” sê die Kaapse kindersielkundige Carl du Preez. “Hoe langer jy jou kind uit ’n speelgroepie of skool hou, hoe langer gaan dit haar kos om te leer om met ander kinders te kommunikeer. My raad is om enkelkinders so veel moontlik aan ander kinders bloot te stel.”
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees