Eier vir jou en jou kinders

akkreditasie
eier
eier
Dr. Donnald McNamara, 'n wêreldkenner oor die voedingswaarde van eiers, vertel ons meer van cholien en beantwoord algemene eier-vrae.

Van boef tot bobaas. Dít is die paadjie wat hoendereier die afgelope byna 60 jaar gestap het. Eers
was daar vrese dat eiers tot hartsiektes bydra, maar dis sowat 10 jaar gelede die nek ingeslaan. Voedselriglyne wêreldwyd bepaal nou dat jy met ’n geruste hart ’n eier per dag kan eet. En as jy swanger is of borsvoed, self meer – hoofsaaklik danksy die voedingstof cholien in eier.

Wat is eier-cholien?

Eier-cholien is ’n voedingstof wat deesdae deur baie gesondheidskenners as die nuwe wonder-voedingstof bestempel word. Hoewel cholien ook deur ons liggaam vervaardig word, is dit meestal nie genoeg nie, veral nie tydens swangerskap nie.

Vir wie en hoekom is dit belangrik?

Swanger vroue kan amper nie genoeg cholien kry nie, hoofsaaklik omdat dit so ’n belangrike rol speel in hul ongebore baba se breinontwikkeling. Die vaslegging van die leer- en geheuefunksie in die klein breintjies baat besonder baie by cholien.

Hoër cholienvlakke by swanger vrouens en hul fetusse word ook verbind met ’n noemenswaardige kleiner risiko vir senuweebondel-afwykings soos spina bifida. Maar wees gewaarsku: Jou baba gaan skaamteloos teer op jou cholienreserwes.

By geboorte is pasgeborenes se bloedcholien-vlak tot sewe keer hoër as hul ma s’n! Mamma se voorraad word dus dikwels leeggetap nog voor sy begin borsvoed, wat haar baie meer vatbaar kan maak vir siektes. Bly dus daardie daaglikse eier inkry ná jou swangerskap.

Cholien is dwarsdeur jou lewe van groot nut – navorsing toon dat dié voedingstof geheuefunksie tot op jou oudag ondersteun.

Hoeveel is genoeg?

Sowat 550 mg cholien word per dag vir borsvoedende ma’s en sowat 450 mg per dag vir swanger vroue aanbeveel. Akkurate inligting oor hoe jy dit kan regkry is nog nie beskikbaar nie, maar een eiergeel
per dag verskaf sowat 28 persent van ’n swanger vrou se cholienbehoeftes.

Eet dus meer as een eier per dag en maak seker jou dieet sluit gereeld ook ander bronne van cholien in soos broccoli en bees- en hoenderlewer.

Nie net cholien nie

Noem maar op, en dit is binne-in daardie dop, sê voedingskenners – van die beste gehalte proteïene, verskeie van die Bvitamiene, vitamien D, antioksidante, luteïen en seaksantien tot yster. Omtrent net vitamien C is nie by dié lang lys ingesluit nie.

Drink dus gerus ’n glas lemoen- of aarbeisap saam met jou eiergereg en siedaar, dis so goed soos jy sluk ’n multi- vitamien!

Nog nooit van luteïen en seaksantien gehoor nie? Dié voedingstowwe – wat ook in spinasie voorkom maar in baie kleiner hoeveelhede – versamel in die oog en beskerm dit teen skadelike liggolflengtes.

* Dr. Donald McNamara is verbonde aan die Eggs for Health Consulting in Washington, DC in Amerika.

Feit

Eiers hoe 'n mens langer versadig. 'n Lekker eierontbyt pleks van die tradisionele bakkie ontbytgraan met melk en jogurt sien jou makliker deur die dag en sorg dat jy teen middagete nie noodwenig lus is vir al dai kilojeule-ryke lekkernye nie.

Cholesterol?

Eiers bevat heelwat cholesterol, en daarom is daar lank geglo dat dit dus jou bloedcholesterol verhoog. Herhaalde studies die laaste jare kon egter nie ’n noemenswaardige verband vind tussen hoë cholesterol in jou bloed en die inneem van kos wat hoë cholesterol bevat nie. Veel gevaarliker vir jou bloed-cholesterol is kos met ’n hoë versadigde- en transvetsuur-inhoud.

Hoeveel eiers is dus veilig? Baie voedsel-owerhede het onlangs hul riglyne oor eiers hersien. Die Amerikaanse Hartvereniging sê ’n eier per dag is veilig. Owerhede in Australië, Nieu-Seeland, verskeie Europese lande én die Wêreldgesondheidsorganisasie sê selfs meer as een eier per dag is heeltemal in die haak. Maar as jy reeds hoë cholesterol het, moet jy liefs jou eiers tot 4 per week beperk.


Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees