En skielik is hy skaam

akkreditasie
Iewers ná hul tweede verjaardag raak baie kinders plotseling inkennig. Selfs dié wat voorheen die siel van ’n partytjie was, is nou te selfbewus om eens kuiermense te groet. Dis ’n normale fase, sê kenners...

Maar een wat jy baie versigtig moet bestuur omdat so baie belangrike emosionele boustene op dié ouderdom gelê word. Die kuns is om jou kind nou reeds vir sy volgende emosionele fase – onafhanklikheid – voor te berei, en om dit te doen moet jy weet hoe om die skaam stadium te hanteer.

Die een dag nog was my seuntjie die ougat klein rakker wat met elke winkelkassier oor ditjies en datjies gesels het en wat ’Nkosi Sikelel’ iAfrika luidkeels van bo-op die koffietafel vir al ons kuiergaste gesing het. ?Maar hier rondom sy derde verjaardag het die knaap skielik skaam geword, veral voor vreemde grootmense.

Ek kan maar vergeet om hom sover te kry om mense wat kom kuier, te groet, laat staan nog vreemdelinge. Ek bloos elke keer bloedrooi as ons vriende en familie geskenke en lekkers aandra en hy weier om dankie te sê. ?Dit neem hom selfs ’n rukkie om tussen vreemde kinders te ontdooi en dis gewoonlik eers teen die tyd dat ons al gereed is om huis toe te gaan dat hy lekker begin saamspeel.

En dit het my laat wonder: Beteken dit my kind is ’n introvert? Of is sy skaamheid net ’n fase?

Dis heeltemal normaal as ’n kind van daardie ouderdom skaam begin voel, sê dr. Elize Groenewald, ’n kliniese sielkundige van Bloemfontein. Hulle moet in dié fase egter leer om die skaamheid deur onafhanklikheid te vervang.?’n Mens moet nou versigtig wees om jou kind nie nog skamer te maak nie.

As jy jou skaam omdat hy take nie bemeester nie of onaanvaarbaar voor ander optree, voel hy jou verleentheid aan en word hy net meer teruggetrokke. Dit kan ’n bose kringloop word waarin hy ál meer blootgestel voel.? Ons hoor dikwels hoe ouers vir hul kinders sê: “Sies, skaam jou dat jy so stout is! Kom groet nou die mense . . .

”?Dís is woorde van verdoemenis veral vir kinders tussen twee en vier jaar oud. ?Dis nie ’n goeie plan om jou kind te dwing om mense te groet nie. Onthou, hy voel nou maklik skaam en blootgestel wanneer jy vir hom sê: “Groet die tannie!” Partykeer laat sy selfbewustheid hom versteen en kan hy nie ’n woord uitkry nie. Hy sal later weer groet en jou voorbeeld volg. ??Jou kind is tegelyk heldhaftig én onseker?.

Voor drie weet kinders nie dat hulle dinge op hul eie kan bemeester nie. Maar ná hul derde verjaardag raak hulle stelselmatig bewus van dinge wat hulle self kan doen. ?Dis dán wat daar ’n tweestryd in sy klein koppie begin woed: Aan die een kant wil hy sélf, maar aan die ander kant twyfel hy of hy dit sal regkry. ?As jy nou jou kind ontmoedig, word hy skaam oor sy vermoëns en begin ’n lae selfbeeld te ontwikkel.

Dit kan vir sommige ouers moeilik wees, want jou kind kan soms hardkoppig wees en iets beproef wat jy voor jou siel weet nie suksesvol gaan wees nie. Maar dis dan dat jy soms op jou onderlip moet byt en jou kind moet laat begaan. ?As jy elke keer take uit sy hande neem, gaan hy later begin rebelleer of moed verloor. Sommige kleuters onderdruk hierdie rebellie, maar dit kan later wanneer hulle tieners is, onverwags te voorskyn kom. ?Laat jou kind dus eers self probeer. En as hy misluk, vra of jy maar kan help.

In dié proses behou hy beheer en kan hy kies of hy hulp nodig het of nie. Eiewilligheid is ’n goeie ding. Êrens tussen die ouderdom van twee en vier gaan jou snuiter daarop begin aandring om homself te bad, te eet, sy klere te kies, hare te kam en self die toilet te gebruik. Indien jy hom ontmoedig en elke keer dié take vir hom doen, leer hy om aan homself te twyfel. Kinders moet ook in hierdie tyd begin om in hul eie kamer te slaap. ?Jou kind word nou van homself bewus as ’n aparte identiteit en hy is besig om sy eie wil te ontwikkel. Moet dus nie skrik as hy af en toe besluit om hierdie wil af te dwing nie. Moet hom ook nie probeer “inbreek” nie, want al is dit nou moeilik om te glo, is sy eiewilligheid eintlik ook deel van ’n belangrike ontwikkelingsfase. As dit nie ontwikkel nie, word hy iemand wat geneig is om te twyfel.

Gee vir jou kind keuses – dit is ’n wonderlike manier om dissipline toe te pas. ??Die geheim van ’n goeie selfbeeld?As jy dié boodskappe aan jou kind oordra, gee dit sy selfbeeld ’n hupstoot:

  • Jy mag leer om jou gevoelens te verstaan.
  • Ek is bly dat jy vir jouself kan dink.
  • Jy mag kwaad en gefrustreerd wees, maar ek gaan nie toelaat dat jy jouself en ander seermaak nie.
  • Jy mag die grense wat ek vir jou daarstel, toets.
  • Jy mag keuses maak.
  • Jy mag dinge vir jouself begin doen en ek gee nie om dat jy in die proses mors of sukkel nie. Ek sal jou ondersteun wanneer jy vra.??Uiteindelik is dit die belangrikste wat jy vir jou kind kan doen – om sy selfbeeld sterk te maak. Want ’n kind met ’n goeie selfbeeld sal eendag ’n gelukkig grootmense wees – of hy nou skaam is of nie.???Help jou skaam kind só?.
  • Wees ’n rolmodel. As jy selfversekerd optree wanneer jy met ander mense kommunikeer, selfs in jou alledaagse doen en late soos met winkelkassiere, oor die telefoon en met jou vriende, gaan hy die een of ander tyd jou voorbeeld wil volg. Maak oogkontak wanneer jy met vreemdelinge praat.
  • Hou hom dop. Leer ken jou kind se gedrag in sekere situasies en word bewus van die omstandighede waarin hy skamer is as ander kere. Sodra jy verstaan wat hom angstig maak, kan julle daaroor begin gesels en saam daaraan werk om dit te oorkom. Onthou, jy kan nie jou drome deur jou kind leef nie. ’n Kind wat gedruk word om te presteer, kan terugtrek juis omdat hy bang is vir mislukking en om jou teleur te stel.
  • Oefen moeilike situasies: Probeer ’n slag rollespel om jou japsnoet gewoond te maak aan die situasies wat hom angstig maak. Hy dink dalk dis simpel om te oefen hoe om mense by ’n verjaardagpartytjie te groet, maar dit sal hom terselfdertyd meer selfversekerd laat voel.

    ’n Ander oplossing is om te gesels oor sy moontlike vrese by ’n plek en dink dan saam aan oplossings vir elkeen van dié probleme. Neem kennis van sy vrese deur te sê dat dit normaal is om ’n bietjie bang te voel as ’n mens nuwe mense ontmoet. As jy sy gevoelens in ag neem, sal jy hom al klaar ’n goeie skoot selfvertroue toedien.

  • Moenie ’n bordjie om sy nek hang nie: Jou kind is dalk glad nie skaam of teruggetrokke nie, maar as jy heeltyd vir ander vertel hy is, begin hy dit self glo. Probeer ’n slag iets baie positiefs oor hom sê terwyl jy weet hy kan jou hoor. Vertel vir jou eggenoot hoe oulik hy vandag met iemand gesels het . . .
  • Betrek jou kind, veral by besluitnemings en om probleme in sy lewe te hanteer. ’n Maatjie maak hom dalk seer by die skool. Betrek hom as julle ’n oplossing vir dié probleem bedink. Moenie outokraties namens jou kind besluit nie.
  • Moenie jou kind oorheers nie. As hy in dié stadium deur sy ouers oorheers word, sal hy in sy volwasse lewe ’n drang hê om verhoudings te oorheers. As jy hom aan die ander kant min liefde gee en hy voel onsigbaar, sal hy as grootmens emosioneel hewig reageer as hy dink hy word geïgnoree
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees